Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Kry hier woema vir laaste bietjie van 2019
Aunty Merle (Marc Lottering) en Soraya (Carmen Maarman) in die musiekspel Aunty Merle - It’s a Girl. Foto: Lindsey Appolis

Aunty Merle: It’s a Girl is die opvolg van die gewilde Aunty Merle: The musical.  Hierdie keer is die 60-jarige Antie Merle Abrahams (Marc Lottering) terug en sy is op haar stukke.

Merle se dogter en skoonseun, Abigail (Rushney Ferguson) en Alan (Julian Place), wat nou al vyf jaar getroud is en in Bantrybaai woon, het ’n belangrike aankondiging om te maak.

Hulle wil die aankondiging stil hou, maar onderskat die vasberadenheid van ’n ma soos Merle wat graag ouma wil word en die koms van ’n Bathlone-baba (mengsel tussen Bantrybaai en Athlone) aan die wêreld wil verkondig.

Sonder om te veel te oor die stuk te verklap, is daar heelwat verrassende wendings. In wese verkondig Merle verdraagsaamheid – en dit is ’n nodige boodskap om te hoor, nie net met Kerstyd nie.

Daar word onder meer nuwe betekenis aan die “pienk” in “pienkvoet” gegee.

Marc Lottering gee ’n meesterlike komiese vertolking van Merle.

Dit is nie sommer enigiemand wat ’n huisvrou van Belgravia Road in Athlone vars en boeiend op die verhoog kan hou nie.

Die res van die geselskap het stewige ondersteuning gebied en as Eskom net bietjie hulle energie kon tap, sou Suid-Afrika nooit beurtkrag gehad het nie. Benewens die slim dialoog, sal die geselskap se goeie hantering van fisieke komedie jou laat ruk in jou stoel. As die doilies op Merle se sitkamerbanke net kon praat!

Daar was oor die algemeen goeie samespel, maar waar Merle en haar beste vriendin Soraya (Carmen Maarman) die verhoog gedeel het, verdien spesiale vermelding. Dit was ’n fees om dié twee dop te hou.

Die teks is geskryf deur Lottering en die regie is deur Lara Foot. Aunty Merle: It’s a Girl is uiters vermaaklik. Al is die bedoeling soos met musiekblyspele dat dit “ligte vermaak” moet wees, was daar ’n verbasende diepte en hartroerende oomblikke.

Die stuk deins ook nie terug van die soms ongemaklike of moeilike maatskaplike vraagstukke nie. Hierdie sake is slim hanteer en só by die stuk ingewerk dat dit nooit prekerig of geforseer voel nie.

Nie net is die teks skerp en pittig nie, maar wat ’n mens veral van die stuk bybly, is hoe daar met Merle-hulle vereenselwig kan word.

Hierdie stuk speel soos CCTV-beeldmateriaal van die Moederstad voor jou af en soos Merle opmerk: “Ons het soveel talent in hierdie stad.” Die goed en die sleg, die mooi en die lelik, die groot en die alledaagse van Suid-Afrikanerwees word moeiteloos saam vervleg in die stuk.

Die stuk deins ook nie terug van die soms ongemaklike of moeilike maatskaplike vraagstukke nie.

Hierdie sake is slim hanteer en só by die stuk ingewerk dat dit nooit prekerig of geforseer voel nie.

Die musiek, onder leiding van die musiekregiseur Trevino Isaacs, is van die voetstamp-soort en dit was opmerklik hoe sekere gehoorlede al sittend gedans het.

By van die liedjies, veral in die eerste bedryf, was die musiek egter net soms te hard om al die lirieke mooi te kon hoor.

As dit voel asof die jaar jou leeggetap het, is Merle-hulle net die ding om jou woema te gee vir die laaste bietjie van 2019.

Aunty Merle – It’s a Girl word tot 1 Februarie by die Baxter-teatersentrum opgevoer. Kaartjies kan aanlyn op Webtickets bespreek word.

Meer oor:  Musiek  |  Marc Lottering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.