Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Kuns kom die naaste aan die waarheid’
Chase RhysFoto: Retha Ferguson

Chase Rhys, ’n jong Kaapse skrywer, het binne ’n jaar vinnig opgang gemaak op die Afrikaanse teatertoneel. Hy is die eerste wenner van die Adam en Rosalie Small-prys vir debuutskrywers en sy toneelstuk Kinnes het vroeër vanjaar by die US Woordfees gedebuteer. Hy het dit tot ’n novelle verwerk en dit het so pas by Kwela Boeke verskyn. Herschelle Benjamin het hom ’n paar vrae gevra.

Kinnes was eers ’n toneelstuk en nou is dit ’n novelle. Hoe werk dit om ’n toneelstuk in ’n roman te omskep?

Hulle het meer as 20 bladsye van Kinnes vir die produksie gesny en steeds het dit soos ’n vollengte-rolprent gevoel. Met die boek moes ek bou en ek was baie keer verras hoe die storie en die karakters ontwikkel het.

Vertel meer van die karakters.

Hulle is vier mense wat op die rand van volwassenheid staan. Die Kaapse Vlakte-konteks skep oorweldigende uitdagings wat die karakters intrek of dwing om dieper te kyk.

Het hul lewenstories enigsins verander in die aanpassing van toneelstuk na boek?

Definitief, dis nie net die hoofkarakters nie, maar ook die ander mense in hul wêreld. Kleiner karakters is voller en meer afgerond. Daar is ’n hele klomp nuwe mense in die verhaal en die omgewing is outentiek. In die teaterstuk praat die karakters nie met mekaar nie, maar in die boek is hulle in mekaar se lewe en jy sien hoe hulle verhoudings ontwikkel, jy verstaan hulle beter.

Die boek is ook heeltemal in Afrikaaps geskryf. Hoe belangrik was dit vir jou?

Ek sien nie ’n skeiding tussen Kaaps en die mense wat dit praat nie. Daar is talle verskillende manifestasies van Kaaps, dit hang af van die individu. Elke karakter in die boek praat sy eie unieke Kaaps. Rolanda gebruik gayle (gay-taal), Ahnie die bende-sleng, ma Mary praat old-school-Kaaps wat my ouma gebruik as sy met haar suster oor die selfoon praat, Nicole se Kaaps is naby aan Standaardafrikaans en Derick toor met woorde. Ons het baie aandag aan die spelling en formalisering van die taal gegee, want ons wil graag hê die boek moet leerlinge bereik.

Die voorblad van die novelle Kinnes.

As iemand jou sou vra wie en wat jy is, wat sou jy sê?

“Wie en wat is jy?” Jou hele lewe kan verander deur net meer aandag aan hierdie vraag te gee. Die antwoord kan nie verklaar word nie, dit moet binne-in ervaar word. Ek is die waarnemer. Ek gebruik skryfwerk en psigomatiese opvoeringskuns om mense te herinner aan die vraag. Kuns kom die naaste aan die waarheid.

Toneelstuk. Boek. Wat is volgende?

Mense het al vir my gesê dat dit ’n rolprent moes wees, maar ek kon dit nie indink nie. Die dag toe my werk aan die boek amptelik klaar was, het ek cinematic visions van die storie begin kry. Ek kan dit nou sien en dalk moet ek die draaiboek skryf.

Kinnes is iets anders en dit het ’n lewe van sy eie. Die werk is groter as ek. Daar is ’n stukkie papier op my rekenaarskerm waarop “uitie pad uit!” geskryf staan. As ek skryf, kom ek na die blad sonder ’n ego.

Ek skryf van die hoogste perspektief – met my hart. Ek is bewus daarvan dat ek met my leser kommunikeer, maar ek skryf direk na en vir hul harte en nie hul persoon nie. Dis meer communion as kommunikering. Ek glo dit is een van die redes hoekom mense so aangetrokke tot my werk is. Ek gaan aanhou om boeke te skryf, want dit is ’n skoon lyn van skrywer na leser.

Wat is jou planne noudat die boek klaar geskryf en uitgereik is?

Ek is reeds besig met my tweede boek. Ek is ook betrokke met Borderlands Public Arts, ’n niewinsgewende inisiatief wat poog om deur kuns letterlike en figuurlike grense tussen gemeenskappe te oorbrug. Ons werk in openbare ruimtes en skep ervarings wat mense nader aan hulself en die natuur bring. Ons werk veral in die borderlands tussen gemeenskappe in die suidelike deel van Kaapstad.

* Die boekbekendstelling van Kinnes is op 30 Oktober by The Book Lounge in Roelandstraat, Kaapstad. Stuur ’n e-pos na booklounge@gmail.com om te bespreek, of skakel 021 462 2425.

* Die Kinnes-teaterproduksie word van 7 tot 17 November in die Kunstekaap aangebied. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Meer oor:  Teater  |  Kinnes  |  Boek  |  Chase Rhys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.