Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Kunstenaars ontmoet gehore in Eikestad se strate
’n Toneel uit ‘I Leaf You’. Foto: Nardus Engelbrecht

Die Toyota US Woordfees se Flikker & Flash-opwipvertonings die afgelope naweek het kunstenaars kans gegee om weer te skep en na hul gehore uit te reik. Laetitia Pople gesels met ’n paar kunstenaars wat deel was van die kunstenaarsweek wat die vertonings voorafgegaan het.

Die middedorp van Stellenbosch is Vrydag- en Saterdagaand omgetower. Plein-, Kerk-, Andringa- en Van Ryneveldstraat se leë winkels, vensters en galerye het speelruimtes vir kunstenaars se kreatiwiteit geword. Voor die Hofmeyersaal is daar Vrydagaand gesing, musiek gemaak en poësie voorgedra.

As teater en musiek so blindweg en met totale oorgawe na die mense gaan, kry ’n mens dit wat net towerkrag genoem kan word. As Covid-19 teaters en konsertsale vir maande sluit, gaan soek kunstenaars hul gehore in die strate of daar waar die mense is. Gehore is immers hul heenkome.

’n Toneel uit ‘Biopsy’ met Nicole Holm (voor) en Tertius Meintjes. Foto: Nardus Engelbrecht

Reeds van vroeg skemer af was daar ’n geroesemoes in die strate. Al die vertonings is gratis aangebied, hoewel skenkings verwelkom is. Mense moes gou in toue begin staan om soveel as moontlik van die 16 vertonings gesien te kry voordat die kerkklok 22:00 slaan.

Sedert verlede Dinsdag het nagenoeg 70 kunstenaars met beroepsteatermakers soos Andrew Buckland, Gcina Mhlophe, Mmtumisang Motsisi, Sylvaine Strike en Jefferson Tshabalala, die danser-choreograwe Gregory Maqoma en Alfred Hinkel en die digter en verhoogkunstenaar Jolyn Phillips saamgewerk en aan ’n produksie vir die opwipvertonings gewerskaf. Die uiteinde was ’n nag van plesier in die universiteitsdorp; dit het kompleet soos die strate van ’n kunstefeesdorp gevoel.

Die kunstenaar en nar Marinda du Toit sê sy wil niks van die kunstenaarsweek in Stellenbosch vergeet nie.

Antoinette Kellermann en Cintaine Schutte in ‘Cafe Souvenir’. Foto: Nardus Engelbrecht

“Die geweldige energie en emosies flikker en flash om en deur my. Party het dit life changing genoem; vir my was dit erkenning en bevestiging. Luister, kyk en leer. Gee, deel.”

Ná die week se intense werksessies en repetisies met mense soos onder andere Buckland en Strike het die nar-groep, van wie Du Toit lid was, die strate ingevaar, waar hulle met ope arms ontvang is.

“Narre is aangetrokke tot enige bedrywigheid en ons het sommer deel geword van ’n 21ste verjaardagviering in ’n restaurant. Met aandagafleibaarheid as die hoofkaraktertrek van ’n nar, is daar sommer ’n impromptu-musiekkonsert vir ’n ry entoesiastiese en vrygewige kykers aangebied. Daarna is ’n chaos by die verkeersirkel veroorsaak in ’n poging om die straat oor te steek.”

Du Toit vertel dat hulle ver geloop het in snaakse skoene, “maar ons was veilig in die hande en oë van ’n merkbaar waarderende gehoor. Dit was hierdie wederkerige, opregte en kragtige sensasie wat al die deelnemers en kykers Saterdagaand beleef het, wat Stellenbosch se kulturele energie weer wakker geruk het.”

Na dié week gaan sy nog baie lank besig wees met introspeksie oor die bedryf en haar plek daarin, sê Nicole Holm, wat in die donker humoristiese stuk Biopsy te sien was.

Die nargroep, wat die strate van Stellenbosch ingevaar het, is Robert Hindley, Lisa Overy, Jacques Batista, Toni Morkel, Dara Beth en Marinda du Toit. Foto: Nardus Engelbrecht

“Daar is dinge waaraan ek al lankal moes aandag gee, maar inertia en papbroekigheid wen meestal as jy in ’n gemaksone verkeer. Die week het my gedwing om my gat te lig en te engage.”

Die week is ’n bewys dat die bedryf, verhoog en lewe groot genoeg is vir ons almal, meen Veronique Jephtas, digter, performance poet en aktrise. Sy was te sien in die stuk Landscapes of Loss.

“Ons kon met ons talent, passies, liefde, seer, kwaad en ons innerlike kind na die verhoog kom.

“Van Antoinette Kellermann, wat ons elke dag gewys het dat jy nooit te oud is om te leer nie, tot jonger mense, soos myself, wat wawyd oop is om elke dag te groei. Ek dink almal is die Woordfees ewig dankbaar en hoewel ons moeg en seer is ná die week, was ons nog nooit so vol van binne nie. Sylvaine (Strike) het dit mooi gesê: Ons kunstenaars is essensieel vir die siel. Ons is die frontline workers. Daarop sê ek: Phambili!”

Meer oor:  Musiek  |  Teater  |  Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.