Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
KYK: Dié gans sorg vir 'n skaars vriendskap

’n Skaars vriendskap teen die agtergrond van die Geallieerde magte in Duinkerken word gesmee in die toneelstuk The Snow Goose, wat terug op die planke in Johannesburg is.

The Snow Goose, ’n verhoogverwerking deur Jenine Collocott van die Amerikaanse skrywer Paul Gallico se klassieke gelyk­namige novelle uit 1941, word tot 24 November in Pieter Toerien se Studioteater by Montecasino in Johannesburg opgevoer.

Taryn Bennett en James Cairns in The Snow Goose. Foto: Suzy Bernstein

Collocott is ook die regisseur van dié produksie deur Contagious Theatre wat in ’n verlate moeras afspeel.

Taryn Bennett en James Cairns vertolk die karakters wat deur die noodlot met mekaar te doen kry.

’n Beseerde, windverwaaide sneeugans bring ’n jong meisie, Fritha, en die kluisenaar-kunstenaar Philip Rhayader bymekaar. Philip beman ’n vuurtoring en hy is duidelik nie gewoond aan gaste nie, maar probeer gasvry wees. Dit blyk dadelik dat hy uit sy gemaksone is. Fritha kan dit aanvoel, maar tog ontwikkel ’n band tussen die twee.

Collocott fokus met dié produksie op die verbeelding en Cairns en Bennett dra maskers om die verskillende karakters te onderskei wat hulle vertolk.

Ook word tyd en plek verplaas met behulp van sogenaamde nuusinsette met die openingsreël, “This is London”, wat vermaak lewer, maar die gehoor ook dadelik verplaas na ’n tyd en plek deur verwysings na geskiedkundige gebeure.

The Snow Goose is die eerste keer in 2013 op die Nasionale Kunstefees in Makhanda (Grahamstad) opgevoer.

Dit was dieselfde mense wat vandag lede van die Contagious Theatre-geselskap is, maar hulle het toe nog nie so bekend gestaan nie.

Die produksie het in 2015 twee speelvakke in die Theatre on the Square in Sandton, Johannesburg, gehad.

Contagious Theatre, wat in 2018 vyf produksies op die Nasionale Kunstefees in Makhanda aangebied het, grond dikwels sy produksies op literêre werke. Ander toneelstukke sluit in The Devil and Billy Markham en The Old Man and the Sea.

The Devil and Billy Markham is ’n solostuk gegrond op die gelyknamige epiese Amerikaanse gedig deur Shel Silverstein wat die eerste keer in 1979 in Playboy verskyn het. The Old Man and the Sea is op Ernest Hemingway se gelyknamige roman gegrond.

Collocott se benadering tot teater is dat dit ’n eiesoortige ervaring moet wees. Sy wonder altyd of ’n produksie net so goed op televisie daar kan uitsien en indien dit die geval is, twyfel sy of die stuk op die verhoog hoort.

Sy en die res van die span wil ervarings skep wat ’n mens net op die verhoog sal beleef.

) Die vertonings van The Snow Goose tot 24 November is van Woensdae tot Vrydae om 20:00 op die planke, en Saterdae om 16:00 en 20:00. Kaartjies kos R117 tot R180. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.