Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Kyk: Dolf van Niekerk se kinders tree saam op in produksie
Die digter Dolf van Niekerk.

In die produksie Nag op ’n kaal plein die naweek in Pretoria vertolk vier van die digter Dolf van Niekerk (88) se vyf kinders sy poësie met musiek en toneelspel.

Dié tweemalige produksie in die Brooklynteater het sy oudste kind, Stephanie, ook die regisseur, reeds sowat ’n dekade gelede al gevisualiseer toe sy haar pa se gelyknamige digbundel die eerste keer gelees het.

“My pa was in sy 70’s toe hy sy tuisdorp, Edenburg (in die Vrystaat), weer besoek en in die nag op die dorpsplein gaan staan.”

Dít was die oorsprong van die bundel wat in 2006 deur Human & Rousseau uitgegee is, ’n werk wat die digter T.T. Cloete as ’n “Afrikaanse poëtiese pronkstuk en juweel” beskryf het.

Die terugkeer het uiteraard baie herinneringe, mense en omstandighede vir die digter opgeroep.

’n Repetisie van Nag op ’n kaal plein.

“Die bundel het ’n baie hartverskeurende gevoel by tye,” sê Stephanie, direkteur van die Method Actors’-teatergeselskap in Pretoria.

“My pa het nie maklik grootgeword nie. Sy ma is kort na sy geboorte dood en dis ’n deurlopende tema in sy werk. Nag op ’n kaal plein bevat 26 gedigte, maar dit vang die atmosfeer van daardie wêreld en tyd goed vas.”

Al die inhoud van die bundel is in die verhoogproduksie.

Toe Stephanie laat blyk sy wil hierdie bundel na die verhoog neem, wou haar pa weet hóé sy dit sou doen?

Waar die bundel dit toelaat het sy klein toneeltjies ingesluit.

“Sy gedigte sluit in spesifieke karakters. Sy eie pa, my oupa, was die kleremaker. Dan was daar die skoolhoof, die winkelier, die skoenmaker. Die diep, hartseer gedigte los ek aan die musiek of vertolkers van die gedigte. Van die begin af wou ek gehad het van die akteurs moet in die lug hang, want daar word in die bundel gepraat van mense wat nie meer hier is nie. Daar is projeksie agterop die skerm, waarop my pa figureer. Grotendeels kon ek wat ek destyds gevisualiseer het na die verhoog bring.”

Vier van haar voormalige studente en sewe van haar huidige studente tree ook hierin op.

Van Niekerk se seun die violis Evert van Niekerk tree ook hierin op. Betsie Schaap speel klavier tydens die produksie terwyl sy ander seun Rudolf gedigte getoonset het en op kitaar vertolk. Sy dogter Karlien sing ook tydens die produksie en sy jongste dogter, Marguerite, is nie deel van die produksie nie.

Van Niekerk self sien die produksie Saterdag, maar het wel sy eersteling hier en daar probeer oorhaal om iets van die produksie te verklap.

“Hy het sagkens probeer uitvind,” sê Stephanie. “Hier en daar het ek iets verklap, maar die res hou ek vir hom as ’n verrassing, wat hy hopelik ’n lekker verrassing sal vind. Die gehoor is natuurlik baie belangrik. Ook hulle moet as hulle daar uitstap voel hulle het iets hieruit gekry.”

* Dit word Saterdag om 18:00 opgevoer en Sondag om 15:00. Kaartjies kos R100 tot R140.

Dit het ’n ouderdomsbeperking van 13.

Bel 012 460 6033 of besoek ticketspace.co.za om te bespreek.

Kyk hier na ’n voorskou van die produksie die naweek in die Brooklynteater:

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.