Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Kyk uit vir kunstenaars se ‘optog’ in jou dorp
Matthys Maree

Optog!, ’n konsertreeks van musiek en teater wat die kunste na die teaterganger se omgewing bring, is Maandag in die Atterburyteater in Pretoria bekend gestel.

Dié projek, die breinkind van die musikant Matthys Maree, bestaan uit plaaslike sangers, akteurs en musikante wat met 20 produksies van Februarie tot Desember 2019 in 42 dorpe of stede in Suid-Afrika en Namibië gaan optree – baie op die trant van die destydse toneelgeselskappe.

Met Nataniël as die gesig van Optog! is sangers soos Jo Black, Stef Bos, Laurika Rauch en Karen Zoid en die komediant Schalk Bezuidenhout ook deel van die span, en teaterproduksies soos Moedertaal met Sandra Prinsloo en Nêrens, Noord-Kaap word ook in die platteland opgevoer. Mense kan van 1 November op iTickets begin bespreek.

Die kunstenaars vat die lang pad met die kombi’s van Vintales.

Aanvanklik is op 20 bestemmings besluit, maar nadat die Optog!-advertensie met Nataniël en Jo Black uitgesaai is, het die span navrae van oral ontvang, het Johan Hendriksz, samesteller van die program, tydens die bekendstellingsfunksie gesê.

Maree sê die droom van Optog!, waarvan die Atterbury Trust die beskermheer is, is ongeveer drie jaar gelede gebore.

Nataniël en Jo Black in die Optog!-advertensie. Foto: Edrea du Toit

“Dit maak my ontsettend opgewonde om te dink dat konserte gaan terugkom na die platteland.”

Optog! word nie in wedywering met kunstefeeste gehou nie.

Trouens, sommige produksies word as ’n mede-aanbieding met die betrokke fees aangebied waar die toerdatums oorvleuel.

Maree het op 9 Februarie in Stellenbosch aan Nataniël die konsep van Optog! verduidelik.

“Ek het vir hom ’n prentjie probeer skets van die portale van mense, gesinne wat die tablette vir die verhoog verruil, en van kunstenaars wat met verfkwaste die teaters van die land verfraai. En die kombi’s wat die land vol gaan ry.

“Toe begin Nataniël praat . . . Enige ou wat hom op hierdie verhoog sien, kan dít waardeer tot waartoe hy in staat is. Op ’n dag soos 9 Februarie het ek die hart agter al die vertonings gesien wat wil teruggee.”

Nataniël het ook by die bekendstelling opgetree.

Met Optog! van die kunste die lang pad.

Maree het in Oudtshoorn grootgeword en hy onthou hoe hy en ander mense hier in die 1980’s plekke in die Burgersentrum tydens konserte aangewys het.

Die teaterlandskap het later verander en teatergeselskappe het begin kwyn.

Kunstefeeste het aan die orde van die dag geword.

“Die kunstefeeste het soos oases gegroei en dit bly ’n lewensaar vir baie kunstenaars. Maar u sal met my saamstem dat dit begin duur word het vir teatergangers om van ver te kom. Ons ding mee met sport en tyd en skoolfinansies.

“Daarom Optog! Ons is nie ’n fees nie. Ons is ’n vakuum waar die een feesgrens eindig en die ander begin.

“En waar ons roetes met dié van ’n fees kruis, is ons mede-aanbieders van produksies onder albei vaandels. Die platform van die fees sal vloeibaar bly en die eerste jaar is ’n deursnit vir die jare wat kom.”

*Hoewel baie konserte se datums en lokale reeds bevestig is, sal nog aangekondig word.

Meer oor:  Nataniël  |  Teater  |  Musiek  |  Toneel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.