Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Kyk wie kraai koning met Naledi-teaterpryse

Die musiekspel Angola Camp 13 het met ’n kortkop koning gekraai op die 16de Naledi-teatertoekenningsaand.

Die geleentheid is Sondagaand regstreeks gestroom.

‘Angola Camp 13’ het die meeste Naledi-teaterpryse gewen.

Dié pryse beloon teaterproduksies wat verlede jaar in Gauteng met minstens tien vertonings op die planke was.

Dawn Lindberg, uitvoerende direkteur, sê dit is jammer dit kon nie voor ’n gehoor soos normaalweg aangebied word nie, maar daar was nogtans lekker uittreksels uit teaterproduksies van die vorige jaar.

Dit is vooraf vir die toekenningsaand opgeneem.

3 000 mense kon die geleentheid regstreeks volg.

Angola Camp 13 het ses pryse gewen, wat insluit beste regie (Sello Amos-Maseko), beste produksie van ’n musiekspel en beste geselskap.

Die toneelstuk Xova was kort op Angola Camp 13 se hakke met vyf pryse, wat insluit beste toneelstuk en beste regie (Joseph Komani).

Die geleentheid is in die Splitbeam-ateljees in Johannesburg opgeneem, met die komediant en akteur Sne Dladla wat as seremoniemeester opgetree het.

Dit is danksy samewerking met Dan Stillerman van die Excel-Akademie aangebied.

Sven Ruygrok is vir sy rol in die toneelstuk Equus as die beste manlike akteur aangewys, terwyl Lynita Crofford en Shirley Johnston gesamentlik as beste vroulike aktrises in ’n toneelstuk met die louere weggestap het. Hulle het dit gewen vir hul rolle as Alice B. Toklas en Gertrude Stein in Gertrude Stein and a Companion.

Hulde is gebring aan verskeie kunstenaars wat verlede jaar of vroeër vanjaar gesterf het.

Dit sluit in die sanger en liedjieskrywer Johnny Clegg en die aktrise Mary Twala.

Foto’s van dié kunstenaars is vertoon terwyl die Roedean-koor onder leiding van Ralf Schmitt “Halleluja” gesing het.

‘Xova’ het vyf pryse gewen.

Musa Motha, danser van die Vuyani-dansteatergeselskap, het die Lesedi Spirit of Courage-eerbewys ontvang. Dit word aan gestremde mense toegeken.

Motha het 12 jaar gelede haar been verloor nadat beenkanker by haar gediagnoseer is.

Die prys vir innovering is aan Rudi Sadler en Johan van der Merwe gegee vir Deurnis, ’n reeks kort plekspesifieke teaterproduksies.

Graham Brune, afgetrede verhoogbestuurder in die Lyric-teater by Gold Reef City in die suide van Johannesburg, en Stan Knight, wat oor die afgelope paar dekades meer as 120 teaterproduksies se beligting en stelontwerp gedoen het, het die tegniese eerbewys vir lewenslange bydrae ontvang.

Die aktrise en sangeres Annabel Linder het ’n eerbewys vir lewenslange bydrae gekry, terwyl die dramaturg Athol Fugard ’n eerbewys vir wêreld-invloed ontvang het.

Volgende jaar word die geleentheid in Junie gehou om erkenning te gee aan produksies wat vanjaar op die planke was, asook die produksies wat in die eerste vyf of ses maande van 2021 opgevoer word. Daarna fokus die paneel voortaan op produksies wat van 1 Julie tot 30 Junie opgevoer word, en nie meer van 1 Januarie tot 31 Desember, soos voorheen nie.

Lynita Crofford en Shirley Johnston in ‘Gertrude Stein and a Companion’.

Die wenners:

Beste produksie van ’n musiekspel

Angola Camp 13

Beste toneelstuk

Xova

Beste nuwe Suid-Afrikaanse teks

Xova

Beste regisseur van ’n musiekspel

Sello Amos Maseko vir Angola Camp 13

Beste regisseur van ’n toneelstuk

Joseph Komani vir Xova

Beste manlike hoofrol in ’n musiekspel

Marc Lottinger as Auntie Merle in Auntie Merle The Musical

Beste vroulike hoofrol in ’n musiekspel

Kate Normington as die heks (The Witch) in Into the Woods

Beste manlike hoofrol in ’n toneelstuk

Sven Ruygrok as Alan Strang in Equus

Beste vroulike hoofrol in ’n toneelstuk

Lynita Crofford en Shirley Johnston wen dit gesamentlik as Alice B. Toklas en Gertrude Stein in Gertrude Stein and a Companion

Beste solovertolking

Billy Lange as die verteller in Tswalo

Beste manlike byspeler in ’n musiekspel

Craig Urbani as Dennis in Rock of Ages

Beste vroulike byspeler in ’n musiekspel

Marlee van der Merwe as Ursula Koekemoer in Aspoestertjie

Dawn Lindberg, uitvoerende direkteur van die Naledi-teaterpryse. Foto: Rina G Coetzee

Beste manlike byspeler in ’n toneelstuk

Yamikani Mahaka-Phiri as Mr M in My Children! My Africa!

Beste vroulike byspeler in ’n toneelstuk

Zimkhita Nyoka as Thozama in Xova

Beste geselskap (ensemble)

Angola Camp 13

Beste musiekregisseur

Drew Bakker vir Into the Woods

Beste oorspronklike klankbaan of verwerking

Cromwell Modise Modungwa vir Angola Camp 13

Beste choreografie

Mduduzi Vincent Nhlapo vir Anglo Camp 13

Beste deurbraak met ’n vertolking

Ann Masina in Venus vs Modernity

Beste klankontwerp

Blessing Jiyane vir Angola Camp 13

Beste beligting

Oliver Hauser vir Metamorphosis

Beste kostuum of rekwisiete

Koketso Kekana vir Xova

Beste stelontwerp

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) se ontwerp-akademie (met prof. Sarah Roberts as mentor) vir Metamorphosis.

Beste produksie vir kinders en jonger gehore (0 tot 16)

Tiny the Tokoloshe & Other African Tales

Beste vertoking van ’n produksie vir kinders en jonger gehore (0 tot 16)

Roberto Pombo as Willy Wonka en die verteller in Charlie and the Chocolate Factory

Beste dans of balletproduksie

Cion: Requiem of Ravel’s Bolero

Beste onafhanklike of Fringe-produksie

No Easter Sunday for Queers

Beste tersiêre produksie

Eclipsed

Meer oor:  Naledi-Teaterpryse  |  Dawn Lindberg  |  Teaterpryse  |  Toekenningsaand  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.