Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Lawwe komedie fnuik belangrike boodskap

Ben Voss vertolk die rol van Benny Bushwhacker. Foto: Val Adamson
Benny Bushwhacker: Human Nature

Baxter-teater, Kaapstad

**

Deesdae word byna elke denkbare uitlaatklep ingespan om te benadruk wat die mens se rampspoedige impak op ons planeet is.

Die oorvloed is nodig, veral in ’n wêreld wat net nie ore het nie! Dekades se mooipraatjies én domastrante politici se klakkelose ontkenning op sommige wêreldverhoë het net mooi bokkerol gedoen om die sesde massa-uitwissing te keer waarop ons tans al hoe vinniger afpeil.

Nou, met ons “huis” wat in die woorde van die 16-jarige omgewingsaktivis Greta Thunberg “aan die brand” is, begin die poppe dans – ook hier in Suid-Afrika waar ’n water- en energiekrisis ons al hoe meer aan die bas byt. Omdraaikans vir ’n beter toekoms word (wêreldwyd) al hoe skraler, en noodkrete daaroor klink uit alle oorde op.

Een só ’n oord in Kaapstad is die Baxter-teater, waar John van de Ruit, skrywer van onder meer die Spud-boekereeks, ’n broodnodige omgewingsboodskap in die komedie Benny Bushwhacker: Human Nature opper.

Die solovertoning vertel die verhaal van die bewaringsgesinde karakter Benny Bushwhacker (vertolk deur Ben Voss), wat sy skoolopleiding in “standerd 4” versaak het om sy lewe aan onder meer dierebewaring en omgewingsaktivisme te wy.

Sy lewenspad kruis met ’n reeks karakters – onder andere ’n millenniër, ’n hippie, ’n Constantia-mamma en ’n Duitse sakeman – vir wie omgewingsake in ’n mindere of meerdere mate ’n prioriteit is. Hul soms stompsinnige houdings jeens die omgewing is die wankelrige grondslag waarop Van de Ruit dan sy eie noodkreet oor moederaarde se lot lanseer.

Voss is op sy eentjie ’n verkleurmannetjie op die verhoog, wat moeiteloos van een karakter na die ander glip – ’n prestasie wat nie in baie akteurs se broek sit nie. Selfs gesoute komediante sukkel om direk met die gehoor te skerts soos Voss doen. Ek sou hom meer gereeld op die verhoog of op die kassie wil sien.

Dit is egter jammer dat sy talent deur die teks in die steek gelaat is: Die grappe is flou, die woordspelings is redelik banaal, en die meer volwasse grappe is ongemaklik met soveel kinders in die gehoor. Die karakterontwikkeling – veral Benny se trajek van boskind tot bosbewaarder – ontbreek ook geheel en al.

Daarby is die stuk origens laf en plek-plek bot. Wanneer Benny onder meer op die verhoog (agter ’n skerm) urineer en dan sy eie “urine” drink, vas glo dat ’n mens mielies met die sweet in jou sokkies kan garneer, en die Amasone-reënwoud met die aanlyn handelaar Amazon misgis, kan ’n mens niks wat hy sê (te) ernstig opneem nie – ook nie die omgewingsboodskap waarmee hy ná 65 minute skielik doodernstig afsluit nie.

’n Skrander teks, wat ook dalk ’n aks korter was, sou vir al die regte redes onthou word.

  • Benny Bushwhacker: Human Nature word tot 18 Januarie in die Baxter-teater in Kaapstad opgevoer. Vertonings vind van Dinsdae tot Saterdae om 20:15 plaas, met ’n bykomende middagvertoning op Saterdae om 16:00. Kaartjies teen R120 (R100 vir pensioentrekkers) is by Webtickets beskikbaar. Kaartjies vir ’n spesiale Oujaarsaand-vertoning om 22:00 kos R250. Die ouderdomsbeperking is OL.
Meer oor:  Komedie  |  Teater  |  Baxter-Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.