“Lekker, boys.”
Jonathan van Radio Raps skerts Vrydag vir die eerste keer in die Teatro by Montecasino in Johannesburg met sy vertoning Lang Storie Kort.
Sy konsert fokus op die lewe en hy reken “die lewe is die langste ding wat jy sal doen”.

Jonathan, soos vertolk deur Rikus de Beer.
Rikus de Beer, wat die karakter Jonathan vertolk, is senuagtig oor sy eerste optrede hier.
“Kyk, Jonathan is nooit op sy senuwees nie. Hy deel vir almal lewenslesse uit en hy dink hy bewys almal ’n guns. Ek is wel ’n bietjie skrikkerig. Dis ’n groot lokaal en ’n baie glamorous teater. Ek het een keer ’n kameeverskyning vir die Comics’ Choice-pryse hier gemaak. Dit is hoe ver ’n optrede van my in die Teatro strek.”
De Beer sê wel hy is opgewonde.
“Lang Storie Kort gaan oor die dag-tot-dag ervaring van die lewe. Om so ’n bietjie na die fynere detail van die daaglikse bestaan te kyk. Almal het maar hul tekortkominge ondanks hul titels of deftige voertuie. Mens bly mens. En Jonathan sê dit soos dit is.”
De Beer werk aan ’n nuwe reeks van Radio Raps soos wat dit voorheen op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai is.
Dit is egter onseker op watter platform die nuwe reeks uitgesaai sal word.
“Ons het wel ook ’n nuwe segment waar ons bejaardes in tehuise gaan besoek.”
De Beer het voorheen kleuters besoek en hulle met allerhande vrae gepeper, wat uiteraard baie lekker antwoorde gelok het.
Die VIA-reeks was grotendeels ’n voortsetting van die oorspronklike YouTube-reeks.
Hy takel alledaagse dinge wat kykers sal herken.
* Die vertoning in die Teatro begin om 20:00 en dit het ’n ouderdomsbeperking van 16. Kaartjies kos R160 tot R240. Bespreek by Computicket.