Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Lewe blokkie vir blokkie gevier
Tony Miyambo in The Cenotaph of Dan Wa Moriri, waarin hy sy pa se lewe vier.
Tony Miyambo in The Cenotaph of Dan Wa Moriri, wat tot Sondag in die Markteater op die planke is.

The Cenotaph of Dan Wa Moriri

Mannie Manim, Markteater

Tony Miyambo se The Cenotaph is ware teater van die verbeelding.

Die houtblokke waarmee hy heeltyd doenig is, skep wonderlike metafore en ’n spel met tempo.

Dit is ’n viering van die lewe van sy pa, Dan Miyambo – alombekend as Dan Wa Moriri – wat in 2007 oorlede is toe Tony nog ’n jong seun was.

Miyambo skets die gebeure vóór en ná sy dood met behulp van die blokke. Blokkie vir blokkie bou hy die storie – waaruit daar uiteindelik ook vertroosting kom.

Hy verwys gedurig na ’n tydperk vóór of ná hy sy pa verloor het, wat die produksie se tempo bepaal.

Dit is ongelooflik hoe die blokke eintlik die storie maak. Dit bly prikkel en skakel jou verbeelding oor na ’n hoër rat.

Moet egter nie dink die verhaal is droewig nie.

Natuurlik is daar oomblikke van erns, maar skreeusnaakse oomblikke vorm ook deel van sy grootwordjare, die dinamika van sy ouers se verhouding (iets hartseers wat ook hier gebeur het) en die verhouding tussen pa en seun.

Hy herroep die verlede met beelde, uittreksels uit musiek, gesprekke, waarhede en halwe waarhede.

’n Mens kan verstaan hoekom die skryf van die teks saam met Gerard Bester (ook die oorspronklike regisseur) en Wil­liam Harding vir Miyambo vertroosting gebring het.

Die enigste oomblikke wat die stuk ’n bietjie momentum verloor, is wanneer hy woordeloos al die blokke uitpak.

Daar speel aanvanklik ’n lied terwyl hy dit doen, maar wanneer die lied verby is, is hy nog nie klaar nie en pak hy in stilte verder uit.

Daarvoor kan jy hom maar vergewe, want die laaste paragraaf van sy dialoog het presies die gepaste inhoud. En ’n mens kan die gehoor se waardering aanvoel.

Dit is vanselfsprekend dat mense met wie iets soortgelyks gebeur het hierby sal aanklank vind. Dit sal noodwendig hul gedagtes terugneem na daardie tyd en in dieselfde asem sal hulle troos vind en die goeie onthou. En sodoende ook iemand se lewe vier.

As hy hierdie in 2007 gedurende dáárdie week opgevoer het, kon dit byna (wat die inhoud meestal betref) as gedenkdiens gedien het.

Tot Sondag.

Meer oor:  Teater  |  Toneelstuk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.