SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Teater
‘Little Mermaid’ plons op verhoog in vakansie
Alexis Petersen vertolk die hoofrol in The Little Mermaid. Foto: Verskaf

Die onderwateravonture van die geliefde klein meermin gaan in Kaapstad lewe op die planke kry.

Die vervaardigers van The Little Mermaid wil ’n gedeelte van die opbrengs afstaan aan die Santa Shoebox-projek, wat hom beywer om vanjaar sy miljoenste Santa-skoenboks aan ’n minder bevoorregte kind te skenk sedert sy ontstaan in 2006.

Die musiekspel is die soveelste produksie deur die vervaardiger en regisseur Fred Abrahamse en die komponis, kostuumontwerper en akteur Marcel Meyer, wat in die verlede ook onder meer Peter Pan, Robin Hood en Snow White and the Seven Dwarfs saam aangepak het. Dié keer het hulle hulle tot ’n musikale avontuur in die diepsee gewend.

“Die klein meermin is ’n ongelooflik gewilde storie,” sê Fred. “Ons soek altyd stories wat deur die bank gewild is – vir jonk en oud, seuns en meisies.”

Fred sê hy en Marcel het ’n voorliefde vir klassieke teater; daarom het hulle die storie van Die klein meerminnetjie deur die Deen Hans Christian Andersen verkies bo dié van die 1989 Disney-rolprent The Little Mermaid, wat van die oorspronklike storie afwyk.

Die rolverdeling sluit in agt akteurs, wat benewens hul rolle ook agter die skerms vir toneelpoppe moet lewe gee.

“Gehore moenie vir Ariel en ’n pratende krap verwag nie,” sê Fred, “maar die res van die storie is meestal dieselfde: ’n Meermin wat by ’n seeheks aanklop en haar stem vir bene verruil sodat sy en haar prins bo die water herenig kan word.”

Die rolverdeling sluit in agt akteurs, wat benewens hul rolle ook agter die skerms vir toneelpoppe moet lewe gee. Alexis Petersen, wat onlangs in David Kramer se Langarm te sien was, vertolk die hoofrol, en Cindy-Ann Abrahams dié van die gruwelike seeheks. Matthew Baldwin is die prins, en Meyer, wat al die liedjies geskryf het, is ook as Koning Neptunus te sien.

“Ons probeer jongmense aan teater van gehalte blootstel,” sê Fred. “As jy kyk wat deesdae op televisie is – geweld, bomenslike dinge – het ’n klassieke feëverhaal eintlik ’n groot gehoor.

The Little Mermaid is ’n storie oor wat mense bereid is om op te offer – en dit spreek tot ons almal.”

< The Little Mermaid word tot 7 Julie van Dinsdag tot Sondag om 11:00, 12:30 en 14:00 in die Canal Walk-winkelsentrum in Kaapstad uitgevoer. Kaartjies kos R100 en kan by Computicket of in die winkelsentrum bespreek word.

Meer oor:  Musiekspel  |  The Little Mermaid  |  Canal Walk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.