Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
'Lord of the Dance' sukkel om gehoor op te warm
Betowerende oomblikke in die Lord of Dance: Dangerous Games-vertoning.

In ’n winterdroogte en op die rug van nog ’n Zuma-sege sou Michael Flatley op die openingsaand van sy Lord of the Dance-vertoning altyd sukkel om ’n bomskok-Kaapse gehoor aan die gang te kry. Marnus Hattingh was daar.

Getiteld Dangerous Games en gewapen met ’n magdom pragtige kostuums en nog mooier dansers, het Flatley weer ’n keer sy danssuksesresep na die Kaap gebring.

Maar vir die eerste paar items in die produksie moes die dansers hard werk om ’n kopknik uit die gehoor te ontvang. Terwyl die dansende voete soos klitsers getol het, het die handeklap soos ’n geduldige MyCiTi agterna gevolg.

Die Ierse produksie is tans besig met ’n wêreldtoer en vertoef ’n gawe paar aande in die Kaap waar die steriele GrandWest-teater die gasheer speel.

Die verhoog is groot en indrukwekkend. ’n Massiewe digitale TV-skerm vul die agterste muur en vertoon landelike tonele van Ierland, ’n drawwende eenhoring of ’n grot onder ’n vulkaan.

’n Mens vermoed dié uiteenlopendheid moet die stemming en storielyn aanhelp, maar ten beste is dit muesli met Weet-Bix: pitkos, ja, maar ook heelwat spookasem.

Die storielyn (wat seker nodig is, as jy ’n groep Ierse volkspeledansers sinvol vir anderhalf uur besig wil hou) is ’n oulike mengsel van Swanemeer en West Side Story, als opgeklits met ’n RoboCop-uniform en Mad Max-frons as toegif.

Boonop op die vrolike maat van Enya en Ierse popmusiek as klankbaan. Wat kan verkeerd loop?

’n Pan-tipe karakter speel dromerig op ’n fluit in die woud; bose RoboCop-karakters gryp haar en neem haar na hul nare leier; waarna Flatley, ons held, met sy hemplose straatvrinne die booswig tot ’n danstweespel uitdaag.

Dit sou natuurlik indrukwekkend wees, sou jy skrik vir ’n booswig wat grynslag terwyl hy hak en tone op die vloer tokkel.

Die kostuums maak eintlik die vertoning. Daar is feetjie-tonele met ballerina-wasigheid en sagte voete op die vloer. Afgewissel met ongure karakters reg uit ’n RoboCop-fliek kompleet met swart valhelms en draaktande op die broekspype.

As ’n vloeiende skouspel val die vertoning effens plat. Die talle kostuums beteken daar moet kort-kort ’n tussen-item wees sodat die dansers kan verklee.

Dit is met dié tussen-items waar die volgende rat gemis word. Twee vioolspelers op die ganse verhoog wat maak of hulle speel, demp die aptyt. Dat die musiek na iets uit EuroVision se verloor-uitdunrondes klink, help ook nie.

Dis wanneer al die dansers op die verhoog is, in lieflike kostuums en afwisselend in hul eggo-ritmes teenoor mekaar, dat daar energie onder hulle te bespeur is en die gehoor hul ook meeleef.

Flatley se resep van pragtige, jong dansers in heuplengte rokkies werk. Neem die kinders en gaan kyk. Dis ’n heerlike gesinskouspel in ’n popkultuur-jas. En ja, jy sal nie weer so baie fris kuite dié kant van ’n atletiekbaan sien nie.

Tot 13 Augustus in die Grand Arena, Grandwest en van 15 Augustus tot 3 September in die Teatro by Montecasino in Johannesburg. Kaartjies Computicet.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.