Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Lot van weduwee wie se seun moord pleeg in 'Klipgebede’

’n Weduwee wat haar seun in die tronk besoek nadat hy moord gepleeg het, is die vertrekpunt van die solostuk Klipgebede.

Elma Potgieter vertolk die rol van Mariana in dié teks deur Schalk Schoombie, ook die regisseur.

Elma Potgieter
Elma Potgieter in die solostuk ‘Klipgebede’. Foto: Minette Reinach

Dit word Vrydag in die Doxa Deo-teater in Linden in Johannesburg opgevoer nadat dit verlede jaar skaars op die planke was toe die staat van inperking in werking getree het.

“En toe ons die teks die eerste keer deurlees, het Schalk gesê: Elma, die eerste nota wat ek aan jou wil gee, is ‘goedmoedigheid’.

“Mariana het eintlik ’n optimistiese persoonlikheid, maar toe beland sy by hierdie man. Sy was uit die veld geslaan toe hy die eerste keer sy hand vir haar gelig het. Maar eintlik was daar tussenin ook goeie oomblikke.

“ ’n Mens raak op ’n manier gewoond aan so ’n lewe en jy probeer ter wille van die kinders daarin bly.”

Mariana is op pad om haar seun in die tronk te besoek.

“Sy gesels met haar vriendin Katryn. Sy spreek haar eie gedagtes uit. En dan dink sy geleidelik terug – aan wat gebeur het.”

Elma Potgieter vertolk ’n weduwee wie seun moord gepleeg het in die solostuk ‘Klipgebede’. Foto: Minette Reinach

Die besoek aan haar seun is ’n vreemde ervaring.

“Want sy doen die geselswerk omdat die kind weens sy skok en sy traumatiese bestaan ophou praat het. Maar dit gebeur natuurlik dat sy soort van ’n ander persona aanneem soos wat sy dit in haar kop skilder.”

Potgieter, wat ’n ruk gelede in die kykNET-sepie Binnelanders en meer onlangs in Willie Esterhuizen se kykNET-komedie Huis Lelieveld verskyn en in ander verhoogproduksie opgetree het, beskou Klipgebede as ’n skitterende teks deur Schoombie.

“Sy konstruksie . . . Dit begin baie lig. Maar daar is skrefies dat daar iets erger is. Dit eindig met ’n hoë klimaks, maar Schalk laat dit nie daar nie.”

Potgieter se oorlede man, die akteur Schalk Jacobsz, het gesê: “ ’n Mens moenie jou gehoor los met ’n opgeskeurde borskas nie.”

“Schalk Schoombie doen dit ook nie.”

Die titel verwys na ’n man wat klippe gepak het om sy gewete te sus.

Die teks, vervaardig deur André Stolz, is afgestof en Potgieter oefen die dialoog wanneer sy soggens omstreeks 05:45 in die Johannesburgse woonbuurt Westdene se strate stap.

“Op daai manier hou ek die dialoog warm. En toe ek hoor André het vir ons ’n eerste bespreking gekry, het ek dit hier in die kombuis begin speel. Met Boesman (haar hond) as my enigste gehoorlid.”

Potgieter glo jy kan nooit iemand werklik ken nie, al ken jy die mens goed.

Sy verduidelik die dinamika tussen Mariana en haar seun: “Sy sê aan hom: ‘Ek kan in jou oë sien wat jy dink. Jy is tog my kind, en ek dink ek ken jou tog ’n bietjie.’

“Sy moes eintlik eerder ingegryp het, maar nou worstel sy met verwyt. Ek hou van Mariana. Dis ’n fassinerende rol om te speel.”

Klipgebede word Vrydag om 20:00 in die Doxa Deo-teater in Linden opgevoer.

Die adres: Vyfde Straat 44, Linden, Johannesburg.

Kaartjies kos R120. Stuur ’n e-pos na productions@ andrestolz.com om te bespreek.

Meer oor:  Schalk Schoombie  |  Elma Potgieter  |  André Stolz  |  Doxa Deo-Teater  |  Johannesburg  |  Linden  |  Teater  |  Klipgebede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.