Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Lottering word mondig met Aunty Merle en kie

Die grapkas Marc Lottering gaan sy mondigwording in die bedryf met ’n tweede musiekspel uit sy pen, ‘Aunty Merle – It’s a Girl!’, vier. Hy het met Christiaan Boonzaier gesels én gelag oor die kronkelpad wat hy tot by dié mylpaal gestap het.

Marc Lottering. Foto: Lindsey Appolis

Lank, lank gelede – in sy eie woorde, “many moons ago” – het die komediant Marc Lottering as ’n deeltydse plekaanwyser in die Baxter-teater in Kaapstad gewerk.

Kort ná vertonings se aanvang het hy gewoonlik al sy pligte versaak en stil-stil by die teater ingeglip om hom aan sy teaterhelde se werk te vergaap: Susan Pam-Grant, David Kramer, Taliep Petersen, Mark Banks . . .

Lottering, wat in dié tyd regte aan die Universiteit van Kaapstad (UK) studeer het, onthou hoe hy in die teater se donkerte deur magiese vertonings verlei is en naderhand ook gedagdroom het hoe hy op die verhoog begelei word.

“Daai tyd het ek vas geglo ek kon sing – djy kon my niks vertel ’ie!” sê hy laggend in die Baxter-teater se restaurant, net ’n paar treë weg van die saal waar hy dekades gelede aand ná aand deure oop- en toegeswaai het – en waar hy nou sy 21 jaar in die bedryf met sy tweede musiekspel, Aunty Merle – It’s a Girl!, gaan vier.

“Daar was net (toe) iets in die kunste wat my gelok het, iets wat my opgewonde gemaak het, maar ek het myself net geïgnoreer en nooit gedink ek sou ooit op die verhoog kom nie.

“As ek nou objektief daarna kyk, na die pad wat ek in my lewe gestap het, en ek kyk daarna in hierdie gebou neffens daai verhoog, dink ek net: Wat ’n wonderlike storie!

“En dis wonderlik, want dit is alles waar – dit het alles met my gebeur,” sê hy met die groot glimlag wat al sy aanhangers met liefde vul. “Hierdie gebou is ’n groot bron van inspirasie, en dit sal altyd ’n baie spesiale plek vir my wees.”

‘Dit het my lewe verander’

Terwyl hy aan twee samoesas smul, vertel die boorling van Retreat hy het nog eintlik altyd ’n gawe vir skryf gehad, en dit is sy natuurlike woordvernuf wat hom eindelik van ’n loopbaan in die regte weggerokkel het en hom nadergebring het aan die pad wat vir hom bestem is.

“Oe, ek was mal oor skryf op skool. My onderwyser het altyd my skryfwerk vir almal in die klas aangegee en gesê: ‘Dís hoe jy ’n opstel skryf.’

“Maar ek is eintlik eers aangemoedig om te skryf toe ek (ná universiteit) ’n werk by ’n reklameagentskap gekry het en vir vyf of ses jaar daar gewerk het. Ek het baie kopieskrywers ontmoet en ook vinnig ’n projekbestuurder geword. Dit het my lewe verander, want ek is aangemoedig om te skryf en my in die kreatiewe proses te verdiep.”

Lottering sê hy het in sy reklame-dae egter steeds na die verhoog verlang, en het daarom in sy etensure oudisies by die Baxter afgelê. Heelwat rolle in musiekspele soos Ain’t Misbehavin’ en Jesus Christ Superstar het gevolg, en dít het eindelik die weg gebaan na sy eerste skerpskertsvertoning en die stelselmatige opgang wat hom as een van ons voorste en snaaksste komediante gevestig het.

Dit is eintlik ’n hartlike emosionele reis om weer in (die karakter) Aunty Merle se skoene te klim. My ma is agt of nege jaar gelede oorlede, en ek dink dit is ’n absolute eer om my lewe te wy aan ’n karakter wat sy vir my gegee het. Dit maak ’n mens tog emosioneel.
Marc Lottering

“Ek het onlangs gedink: I’ve made it – totdat Trevor Noah made it. F**, ek gaan nooit daai hoogtes bereik ’ie,” sê hy en skaterlag. “Mense in Woolies troos my darem en sê: ‘Don’t worry, you’re also funny.’ Dan wil ek net terugkap en sê: ‘Vrou, los my, ek is net op soek na Handy Andy!’

“Maar op ’n ernstiger noot: Ek dink as jy jou calling gevind het, as jy weet waarvoor jy create is en jy vind jouself in daai baan en loop daai pad, dan is dit ’n goeie ding. Ek het al dwarsoor die wêreld opgetree, en dit ís fantasties, maar wanneer ek daar is, weet ek my essensie is om vir Suid-Afrikaners op te tree.

“Ons raak almal groot met hierdie idee dat ’n internasionale loopbaan die mikpunt is, maar dit is nie altyd nie, en as jy bestem is om jou ding hier in Suid-Afrika te doen, moet jy nie daarvan wegstap nie – ék is gelukkig daarmee. As ek môre iets moet oorkom, sou ek as ’n baie, baie gelukkige man sterf.”

Lottering in die skoene van een van sy gewildste karakters, Aunty Merle Abrahams van Belgravia-straat in Athlone. Foto: Lindsey Appolis

‘Merle is ’n hartlike emosionele reis’

Om sy loopbaan se mondigwording te vier, keer Lottering terug na een van sy geliefste verhoogkarakters, Aunty Merle Abrahams, wat die ster in die Fleur du Cap-benoemde treffer Aunty Merle – The Musical was en nou ook beloof om in die opvolg te skitter.

Lottering sê die rolverdeling van die eerste hoofstuk én sy eggenoot van die afgelope bykans tien jaar, die vervaardiger en regisseur Anwar McKay, het sy arm gedraai om Aunty Merle weer in die kollig te plaas.

Die karakter is eintlik reeds rondom die begin van sy loopbaan geskep, en Lottering sê hy het sy eie ma, onder andere, as inspirasie gebruik om die karakter te bou.

“Dit is eintlik ’n hartlike emosionele reis om weer in Merle se skoene te klim. My ma is agt of nege jaar gelede oorlede, en ek dink dit is ’n absolute eer om my lewe te wy aan ’n karakter wat sy vir my gegee het. Dit maak ’n mens tog emosioneel.”

In die eerste aflewering trou Aunty Merle se dogter, Abigail, met Alan, ’n wit man van Bantrybaai. Onder die oppervlak van die musikale jolyt, het die musiekspel ook rassisme en verhoudings oor die kleurgrens bekyk. Die tweede hoofstuk gaan nog dieper delf, sê Lottering, wanneer Aunty Merle 60 jaar oud word – en die getroudes hul eerste kind verwag.

“As jy die werklike lewe op die verhoog verbeeld, kan jy nie sekere goed vermy nie. Ons raak nie almal elke oggend met ’n ballon en ’n pakkie NikNaks in die bed wakker nie – daar is ook onaangename goed (in die lewe).

“Lara (Foot, die regisseur van albei hoofstukke) is altyd op soek na waarheid en eerlikheid, en as ’n mens daaraan dink, is dit eintlik wat komedie is: Dit is waarheid wat jy met snaaksigheid versier. Dit is die waarheid waarby mense aanklank vind – en jy sal verbaas wees hoe nodig mense komedie het om asem te skep, want ons land is tans polities mal.”

As jy die werklike lewe op die verhoog verbeeld, kan jy nie sekere goed vermy nie. Ons raak nie almal elke oggend met ’n ballon en ’n pakkie NikNaks in die bed wakker nie . . .
Marc Lottering

Dit is juis die verdeeldheid in die land wat hom die harnas in ja – en wat hom dan dwing om soos ’n amperse verpleër komedie as ’n lewensaar aan Suid-Afrikaners te bied.

“Wat my instinktief kwaad maak, is hoe maklik dit is vir mense om Suid-Afrikaners te polariseer. Dit is sadisties. Wanneer jy mag het en jy gebruik dit om mense te polariseer, affekteer dit almal se daaglikse lewe, die bedryf, én my kaartjieverkope.”

Het jy hoop dat dit sal verander – hoop vir Suid-Afrika?

“Ek hoop dinge kan verander – ek sosialiseer ook met mense wat hoop het – en ek het hoop dat die volgende generasie beter sal wees. My hart het nog altyd vir my gesê dat Suid-Afrikaners nie dít (gepolariseerd en negatief) is nie. Meeste van ons wil hê die land moet werk.

“Wat ons ook (met Aunty Merle – It’s a Girl!) bereik het, is dat ons alle Suid-Afrikaners in die produksie betrek het, so my hoop is ook dat dit alle Suid-Afrikaners na die teater sal lok sodat ons weer sáám kan lag.

“As dit gebeur, sal ek weet ek was in die kol oor die land se ware hartklop.”

  • Voorskoue van Aunty Merle – It’s a Girl! begin op 22 November in die Baxter-teater in Kaapstad; die amptelike speelvak duur van 29 November tot 1 Februarie. Aandvertonings begin om 19:30 en middagvertonings om 15:00. Kaartjiepryse wissel tussen R125 en R225. Kaartjies vir ’n spesiale Oujaarsaandvertoning om 21:00 beloop R290. Bespreek by Webtickets, die Baxter-teater (067 070 6855 of 021 685 7880) of in Pick n Pay-winkels landwyd.
Meer oor:  Komedie  |  Aunty Merle  |  Teater  |  Baxter-Teater  |  Marc Lottering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.