Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Luxurama gaan in dokumentêr voortleef

Die eens statige Luxurama-teater in Wynberg lê Kapenaars nog na aan die hart, al is dit lank nie meer dié bymekaarkomplek wat dit in die sestigerjare en daarna was nie.

Herinneringe gaan nou wel herleef met ’n dokumentêr wat die maatskappy Mad Little Badger daaroor gaan maak. Liesel Priem, die vervaardiger, sê dit gaan die verhaal vertel van die teater wat in moeilike jare in Suid-Afrika die hoop van vele sangers, musikante en akteurs was om raakgesien te word en op pad na roem geplaas kon word.

Die Luxurama was eens die bymekaarkomplek van kunstenaars en gehore van uiteenlopende woongebiede.

Priem het ook ’n persoonlike verbintenis met die teater. Haar ma, Margaret Corker, was 25 jaar lank die publisiteitsbestuurder en volgens haar sal herinneringe voortleef lank nadat die gebou dalk nie eens meer staan nie.

Ronnie Quibell het die teater in 1964 gebou. Hy het ook die Three Arts-teater in Dieprivier en die Princess-bioskoop in Retreat besit.

Die Luxurama was uniek in die opsig dat dit gemengde gehore toegelaat het totdat dit in 1967 voor die landswette moes buig.

Van die bekendste oorsese kunstenaars van die tyd het hier kom optree. Dit sluit in Tom Jones, Engelbert Humperdinck, The Troggs, Connie Francis, Dusty Springfield, Percy Sledge en Peaches en Herb.

Plaaslike bekendes wat hul eerste tree op die verhoog hier gegee het sluit in Cass Isaacs, Taliep Petersen, Zayn Adams, Terry Fortune en Alistair Izobell toe dit in die negentigerjare weer vir konserte gebruik is.

Izobell het juis verlede jaar Remembering the Lux in die Baxter-teater aangebied om die ou dae te gedenk. Die produksie was so gewild dat dit ’n tweede speelvak gehad het.

“Die Luxurama was ’n plek vir mense wat gedwing is om te trek waar hulle mekaar weer kon vind en ondersteun,”sê Priem. “Almal wat die plek geken het, is nostalgies daaroor.”

Die akteurs wat verlede jaar in Remembering the Lux te sien was

Sy vra enigiemand met verhale om te vertel, ou foto’s, programme, koerantartikels, plakkate, ou kaartjies of video’s moet haar kontak. Hulle is tans in die navorsingstadium en benodig soveel moontlik inligting as wat hulle kan kry.

Hulle voer ook onderhoude met soveel moontlik mense wat hier opgetree het.

Nathan Theys wat in Brittanje as rolprentmaker werk, skryf die draaiboek. Hy is die seun van Ronald Theys, die operasanger wat in 2014 oorlede is en oor wie hy ook ’n dokkie maak.

Hulle soek ook nog finansiële ondersteuning.

Die Universiteit Kaapstad se biblioteek wil die dokumentêr in sy argief bewaar.

Eerskomende Sondag om 14:00 word daar ’n toer deur die gebou gehou onder beskermheerskap van Wolff-argitekte. ’n Brosjure oor die kunstenaars wat hier opgetree het, saamgestel deur Ilze Wolff, sal uitgedeel word.

Enigiemand wat kan help met inligting of artikels, kan Priem bel by 021 013 0234, of ’n e-pos na lieselpriem@gmail.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.