Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Maak gereed vir rit van ’n ander aard
Herman Vorster, teksskrywer van en hoofspeler in bRENT.
Vianney Henry Farmer in bRENT.

bRENT is ’n rit van ’n ander aard.

Dié teaterproduksie, ’n riller wat in ’n motor afspeel, aangebied deur VNA Produksies, is die derde in die Mobile Thriller-reeks.

bRENT is vroeër in Kaapstad opgevoer en gedurende die Nasionale Kunstefees in Grahamstad.

En vanaf Vrydag lê die strate van Centurion voor.

Herman Vorster, die teksskrywer en die hoofkarakter, Brent, is die bestuurder van die motor en die gehoorlede, op die meeste drie op ’n slag, is die passasiers. Vianney Henry Farmer, ook die vervaardiger, is die ander akteur.

Dit volg op ONSkuld en aLEXA, wat ook in motors afgespeel het.

Mense het begin vra wanneer kom die volgende produksie in die reeks.

Quintin Wils, regisseur, het dié idee gekry danksy ’n module in die derde jaar van sy studies aan die Tshwane-Universiteit van Tegnologie in 2013.

“Ons het ’n opdrag in teksskryf gehad. Die opdrag was om te dink aan ’n konsep wat nog nie vantevore gebruik is nie. Ek het toe nie die vaagste benul nie. Toe staan ek en skottelgoed was en karre snel verby my blyplek. Toe wonder ek hoe sal dit werk as iets in ’n voertuig afspeel. Toe skryf ek ONSkuld. My dosent het egter gesê dit sal nooit werk nie.”

Toe word die einste konsep en teks vir ’n Naledi-eerbewys benoem in die kategorie vir grensverskuiwende teater. Hy het vir sy dosent daarvan laat weet, maar geen terugvoering ontvang nie. Dit het ook die eerbewys vir beste konsep op die Die Reviewer-toekenings in 2014 ontvang. aLEXA het in 2015 die eerbewys vir beste konsep op die Die Reviewer-toekenningsontvang.

Wils is ook voorheen vir die Imp­ACT-eerbewys vir teater benoem vir sy werk aan die Mobile Thriller-reeks.

“Die grootste uitdaging was om dit vars en nuut te hou. Die gehoorlede word ingesleep by ’n ding. En dit is ’n interaktiewe ervaring. Ons hou van hul reaksies, ons wil hê hulle moet terugspeel. Ons oefen vir verskillende reaksies. En dan kom daar ’n stadium in die toneelstuk wat hulle besef, o bliksem, hierdie voel nou soos die werklikheid en dan probeer hulle stop wat aan die gebeur is.”

Die produksie duur so 65, 70 minute, sê Wils, waarvan ’n halfuur in die motor plaasvind.

Vir dié speelvak, wat tot 19 November duur, ontmoet gehoorlede die produksiespan by die Eldo-kleinteater in Centurion, waarna die rit sal begin.

Die produksie het ’n ouderdomsbeperking van 18 jaar en dit is nie vir sensitiewe kykers nie.

Die adres: Christopherstraat 26, Centurion. Kaartjies kos R100.

Bel Wils by 084 525 9585 of stuur e-pos aan hom by quintinwils@gmail. com om te bespreek.

Meer oor:  Verhoogstuk  |  Teater  |  Riller
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.