Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Magnet-teater vra hulp vir opleiding
Studente van die huidige opleidingsprogram van die Magnet-teater in Observatory in Kaapstad.

Die Magnet-teater in Observatory, Kaapstad, het pas drie gesogte Fleur du Cap-teaterpryse vir sy opleidingstuk, G7: Okwe-Bokhwe (Like/Of a Goat) losgeslaan. Hoewel die teater en sy 75 alumni die oorwinning met groot vreugde gevier het, is dieselfde opleidingsprogram, wat die lewe van studente uit die townships transformeer, nou weens die Covid-19-pandemie in die knyp.

Die bestuur van die teater, wat al 32 jaar bestaan, het die Magnet C-19-noodfondsveldtog begin om die onvoorsiene uitgawes wat deur die pandemie veroorsaak is te dek. Die afrigtings- en werkskeppingsprogram is die aanvoorprojek van die Magnet-teater en word al die afgelope 11 jaar aangebied. Dit is gemik op werklose jeugdiges wat graag in die teaterkunste ’n loopbaan wil volg. Die program strek oor twee jaar en getuig van ’n 94%-slaagsyfer en indiensneming ná opleiding die afgelope drie jaar. Van die totale getal studente het 32 hul studie aan tersiêre instellings voortgesit, sê Jennie Reznek, artistieke direkteur van die teater.

“17 het gegradueer, drie het nog grade verwerf en 11 studeer tans. Die studente was die eerste in hul families om universiteit toe te gaan. Dit is ’n reuseprestasie,” sê Reznek.

In Maart met die aanbreek van die Covid-19-krisis het die bestuur besluit om nie hul bedrywighede te staak nie, maar om aanlyn programme in te stel. “Dit sou ’n ingrypende effek op die studente hê as ons skielik alle kommunikasie, ondersteuning, voorskotte en opleiding sou staak. Ons het die kurrikulum aangepas en heropgestel vir ons sesde groep studente. Die opleiding geskied deur WhatsApp en Google Drive. Tot ons egter terug kan gaan na ons teater en van aangesig tot aangesig kan onderrig, het ons ondersteuning nodig vir die studente se datakoste en betaling vir die ekstra ure van die onderwysers op die aanlyn platforms – dit verg meer ure as wanneer daar vir 20 mense gelyk klas gegee word – asook vir kospakkies vir ons studente en alumni,” skryf Nomsa Mbothwe, die opleidingsbestuurder van Magnet in ’n nuusverklaring.

Studente van die huidige opleidingsprogram van die Magnet-teater in Observatory in Kaapstad.

“Die Magnet-teater moet voortgaan om ’n klomp jong mense op te lei en by te staan om as leiers in die kreatiewe bedrywe op te tree en wat die voortou kan neem wanneer die inperking verby is. Ons is ’n verhaal van organisatoriese kreatiwiteit en deursettingsvermoë midde-in die uitdagings wat Covid-19 bied,” lui die verklaring. Reznek vertel van die geesdrif waarmee die studente hul studie aanpak ondanks moeilike huislike omstandighede. “Van hulle woon in een kamer saam met hul families en moet hul lesse uitvoer en opneem op hul fone. Hulle pak die daaglikse sessies met oorgawe aan.”

Hulle oorweeg om die parkeerterrein van die teater in ’n opleidingsruimte te omskep sodra die inperking verder verslap word, sê Reznek. “Ons wil almal gesond hou, die opelug sal help en ons probeer koste laag hou. Ons wil die groep deur dié tyd dra. Hierdie opleiding lei tot soveel geleenthede.”

* Die Magnet-teater het ook die Give 20Plenty-veldtog wat ’n langtermynbeursprojek behels om die program van twee jaar aan die gang te hou. Daarvolgens word daar na vennote gesoek wat kan belê in die opleiding van die 21 studente in die 2020-’21-jaargroep.

*G7: Okwe-Bokhwe is ’n musiekteaterstuk geskep deur die vyfde groep studente van die Magnet-teater en die regisseur Mandla Mbothwe. Dit bring hulde aan die Gugulethu-Sewe, die sewe jong mense wat op 3 Maart 1986 gedurende die apartheidsera deur die veiligheidsmagte doodgeskiet is. Skakel die teater by 021-4483436  

Kyk hier na ’n video van die studente wat van die huis af werk:

Meer oor:  Teater  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.