Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Magspeletjies in ‘Quartet’ eintlik studie oor mens se wreedheid

Quartet

Kunstekaap-arena

***

Kortliks kom die inhoud van Quartet van Heiner Müller neer op ’n disfunksionele verhouding en twee mense in daardie verhouding wat mekaar oor en weer en by elke moontlike geleentheid probeer verpletter.

Dis ’n fyn studie in die ingebore wreedheid van die mens en gaan van die standpunt uit dat geen verhouding om die beswil van net een party gaan nie. Hier is magspeletjies en die vernietiging van een of albei aan die orde, seks die wapen van keuse.

Marteuil (Greta Pietersen) is op die verhoog wanneer die stuk begin. Die verskanste Valmont (Ludwig Binge) maak mettertyd sy verskyning, aanvanklik as ’n skadufiguur agter ’n glaspaneel vanwaar hy die wriemelende Marteuil van agter sy donkerbril dophou.

Dis nie lank nie of die twee smee dekadente planne, ruil rolle om en verander in die twee karakters wat hulle as prooi in die oog het – die maagdelike Volange en die kuise Madame de Tourvel. Pietersen maak ’n besonder bose Valmont wat sy bes doen om Madame de Touvel (nou in die lyf van Binge) te verlei. In haar hande is hy werklik ’n monster.

Regisseur Marthinus Basson maak goed gebruik van Heiner Müller se ekonomiese verhoogaanwysings.

Basson druk tipies sy eie stempel af met ’n ingetoë, eenvoudige en amper strak inkleding sodat die impak van dit wat die twee karakters aanvang, die middelpunt van die aandag bly.

Die gestroopte kostuums werk op dieselfde wyse mee. Geen vere, valletjies of selfs naaktheid kan Merteuil se sensualteit meer beklemtoon as wat hier die geval is nie.

Boonop dra Muller se benadering en Basson se ontwerp by tot ’n mens se besef dat wat voor jou afspeel eintlik in enige tyd en op enige plek moontlik is.

Die teks is dig met lang poëtiese monoloë wat stip konsentrasie verg.

Van die skerpsinnigheid kan maklik verlore gaan, asook van die suggestiewe simboliek, filosofiese, historiese en ander verwysings, maar die akteurs dwing jou kort-kort hardhandig terug na die gegewe – seks en die dood loop hier hand aan hand.

Die akteurs kwyt hulle goed van hul taak in hul onderskeie rolle, veral met die gewigtige dialoog. Met nog ’n paar jaar se lewensondervinding agter die blad sal hulle beslis skitter.

In die Kunstekaap-arena tot 26 November. Bespreek by Computicket. Die stuk gaan ook volgende jaar van 3 tot 12 Maart by die US Woordfees opgevoer word.

Meer oor:  Verhoogstuk  |  Teater  |  Toneelstuk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.