Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Malcolm Terrey was ’n ‘class act’
Malcolm Terrey

“Hy het altyd belowe hy sal ons teater (Theatre on the Bay in Kampsbaai) se spook word as hy sterf, ek hoop regtig hy kom sy belofte na,” het ’n bewoë Pieter Toerien gesê oor die dood van die akteur Malcolm Terrey.

“Almal van ons in die bedryf gaan Malcolm baie mis en so ook ons gehore. Hy was gewild op en van die verhoog af.”

Terrey was vir meer as 30 jaar by produksies van Toerien betrokke.

“Hy was snaaks, sonder om te probeer snaaks wees. As hy aangestap kom, het ’n mens reeds begin lag. Omdat hy so snaaks was, het hy baie komiese rolle gekry, maar hy was in alle opsigte ’n briljante akteur.”

Russell Savadier en Malcolm Terrey in ‘Good Evening’.

Terrey was ook ’n ster van menige musiekspele in Suid-Afrika.

Hy het in 1982 in Suid-Afrika aangekom en was toe te sien in die produksie My Fat Friend. Hy was oorspronklik van Bournemouth in Engeland en het daarna in Johannesburg gebly.

Vir sy vertolking in Jeeves Takes Charge is hy skaars ’n jaar ná sy aankoms in die land benoem vir die Fleur du Cap-prys as beste akteur.

Daarna het hy sy brood en botter verdien met wat hy genoem het “fun, farce and feathers”.

Hy het in Suid-Afrika en ook internasionaal getoer met musiekspele soos The Sound of Music, Dirty Dancing, Show Boat, We Will Rock You en The Phantom of the Opera.

Ander produksies waarin hy uitgeblink het in omtrent ál die teaters in Suid-Afrika, was pantomimes soos Cinderella vir die Joburg-teater (in die rol van die Dame), die musiekspel Joburg Follies, wat hy geskryf en waarin hy gespeel het, met Kevin Feather as regisseur, Tom Foolery, Dear Liar en Canterbury Tales. Hy was tot einde verlede jaar te sien as die bestuurder van die skoenfabriek in die wegholtreffer Kinky Boots. Hy was in die BBC-televisieproduksies Young Leonardo en I, Claudius te sien.

Malcolm Terrey, Kate Normington en Matthew Stewardson in die musiekspel ‘Tomfoolery’.

Anne Williams, eertydse televisieregisseur vir wie hy in die speletjiesprogram Take a Break as aanbieder gewerk het, was amper 40 jaar met hom bevriend.

Sy onthou hom as ’n lieflike vriend, altyd reg met ’n grappie, en ’n omgee-mens. Hy het ’n goeie loopbaan hier as akteur op die planke gehad.

Volgens die aktrise Lizz Meiring was sy bynaam in die bedryf “Mother”. “Hy was ’n mentor vir al die jong mense, hetsy hulle akteurs, sangers of ontwerpers was. Hy het die jonges onder sy vlerk geneem en geleer van die etiek van ons bedryf. Hy was wat ’n mens noem ’n ‘class act’, altyd ’n gentleman, altyd vriendelik en hulpvaardig. Hy kon ook ’n situasie ontlont.”

Terrey was bedrewe met naaldwerk en kon kostuums uit bykans niks optower, netso enige rekwisiete wat nodig sou wees in ’n produksie. Daarby kon hy pruike stileer in verskillende style. Dit het kleintyd begin toe hy sy ma se Singer-naaimasjien gebruik het om kostuums te maak vir sy amateurtoneelgroep.

Nader besonderhede oor sy dood is nie bekend nie.

Hy het op sy eie gebly en het diabetes gehad.

“Hy was die afgelope tyd nie gesond nie, en natuurlik het die toneelstukke opgedroog (weens Covid-19). Werk vir akteurs van sy ouderdom het skaars geword, tog het hy nooit gekla nie,” sê Toerien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.