Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Mannie Manim: ‘Leeu van SA’ teater is 80
Mannie Manim, bekroonde beligtingsontwerper voor die ligtafel. Foto’s: Verskaf
Die “teaterleeu” Mannie Manim het pas sy 80ste verjaardag gevier. In ses dekades het hy ’n enorme bydrae tot Suid-Afrikaanse teater as onder meer medestigter van die Markteater in Johannesburg gemaak. Laetitia Pople het met hom gesels en met mense wie se lewens hy diep geraak het.


Op 15 het Mannie Manim al sy eerste joppie in die teater gehad.

Hy het daar beland omdat hy geld nodig gehad het – sy pa is dood toe hy sewe is. “Ek moes skoolgeld help betaal sodat ek matriek kon maak.”

“Mense dink dit is ’n grap as ek dit sê, maar ek moes geld verdien om ’n fiets te koop om skool toe te ry en my eerste langbroek te kon koop. Ek het op 15 steeds ’n kortbroek gedra.”

Hy het koeldranke by die Ellispark-stadion verkoop en toevallig daar gehoor van ’n werk as plekaanwyser in die Johannesburgse Brian Brooke-teater.

Dit sou sy lewe verander. “Ek was oombliklik verlief op die teater.”

Mannie Manim en sy gesin. Van links is sy dogters, Anne en Jessica, en sy vrou, Lesley Nott Manim.

Hy het gevorder van plekaanwyser, toe verhooghulp, assistent tot die verhoogbestuurder, verhoogbestuurder en toe bestuurder van die geselskap. Hy glo hy is vir teater in die wieg gelê. Hy het net drie maande by ’n staalmaatskappy gehou nadat sy ma hom versoek het om ’n “regte” werk te kry. Een Saterdag is hy terug na die teater. Brooke was daar vir ’n vergadering en het hom daar en dan ’n werk aangebied.

Hy het pas 80 geword en werk steeds volstoom. Sy geliefkoosde plek is nou by die beligtingsbank, besig met fyn en stip ontwerpwerk, waarvoor hy al meermale bekroon is. Hy het reeds ’n Fleur du Cap-prys vir sy lewenswerk ontvang.

“Ek het nie afgetree nie! Ek kan dit nie bekostig nie. Ek het ’n klein of geen pensioen nie en ek moet werk om my gesin te onderhou.”

Sedert die koronavirus-pandemie begin het, het Manim net drie beligtingswerke gehad – vir Zakes Mda se Ways of Dying en Sylvaine Strike se produksie van Manuel Puig se Kiss of the Spider Woman (albei vir die Baxter in Kaapstad) en Malcolm Purkey se Rose in die Markteater in Johannesburg.

“Die tye is swaar en soos almal wat ek ken, kan ek nie wag om die einde van Covid-19 te sien nie.”

Purkey, ’n gevierde dramaturg en teaterskepper, beskryf Manim as die ware genius van Suid Afrikaanse teater. “As Mannie en Barney Simon nie destyds die Markteater in Johannesburg gestig het nie, sou ons nie vandag die groot tradisie wat Suid-Afrikaanse teater geword het, kon vier nie.”

Mannie Manim en die Nobelpryswenner en Nigeriese dramaturg Wole Soyinka op die dak van die Fugard-teater in Distrik Ses in Kaapstad.

Die Markteater was soos die Space-teater in Suid-Afrika, onafhanklike, nie-rassige teaters waar wit en swart midde-in die apartheidsjare saam op die verhoog en in die gehoor kon wees. Talle anti-apartheidtoneelstukke is in Manim se tyd hier opgevoer soos Woza Albert, Asinamali, Bopha, Sophiatown, You Strike the Woman, You Strike a Rock, Born in the RSA,asook Reza de Wet se Diepe Grond.

Die kunste-administrateur Ismail Mahomed, beaam dit.

“Sedert hy die Markteater in 1976 gestig het reg deur sy roemryke loopbaan het hy gewerk daaraan om ’n outentieke Suid-Afrikaanse kunstepraktyk te skep. Hy het sy kennis en vaardighede onbaatsugtig met kunstenaars veel jonger as hy gedeel. Hy is ’n nasionale skat, wat nie net hier nie, maar oor die wêreld heen met groot agting en respek bejeën word.”

Voor die Markteater was Manim ook onder meer by Leonard Schach Cockpit Players, die Johannesburgs Civic Theatre, die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (saam met mense soos PPB Breytenbach (ook bekend as oom Breytie), Eghard van der Hoven en Francois Swart). Ná die Markteater was hy aan die stuur van die Baxter-teater en daarna het hy as artistieke direkteur van die Fugard-teater in Kaapstad gewerk. Die Fugard-teater het vroeër vanjaar sy deure gesluit.

“Ek was baie gelukkig. Ek het grootgeword in die bedryf tydens talle innoverings in my veld (beligting) asook in kommunikasie en rekenaars. Soos die een werk geëindig het, het die volgende een asof per toeval verskyn. So het my werk as geselskapsbestuurder van Leonard Schach ge-eindig terwyl die Johannesburgse Civic Theatre gebou is. Ek kon die bouery uit my kantoor in die Playhouse-teater in Braamfontein sien. Die Civic was die eerste grootskaalse teaterkompleks in die land en ek kon daar werk.

“Elke pos was ’n uitdaging, elke werk het my meer geleer van die wêreld van die uitvoerende kunste, my spesiale herinneringe is aan die saamwerk met baie groot Suid-Afrikaanse teaterskeppers. My enigste berou is dat dit nie langer kon aangaan nie.”

Die aktrise Sandra Prinsloo was so 19 jaar oud toe Manim en Swart haar in Truk se dramageselskap aangestel het. Sy was ook in ’n produksie van Tsjechof se The Seagull, waarmee die Markteater in 1976 geopen het.

Mannie Manim op die trappe van die Baxter-teater in Kaapstad. Foto: Andrew Brown

“Sy deur het regtig altyd oopgestaan vir die akteurs, al was hy nog jonk, was hy soos ’n vaderfiguur vir ons. By hom het ek geleer om passievol oor my werk te wees. Daar is min mense wat so ’n liefde vir hul werk het, kyk hoe werk hy nou nog op 80.

“Hy het my geleer dat ’n teaterproduksie in sy totaliteit versorg moet word. Die beligting en ontwerp moet uitstekend wees, destyds kon hy met primitiewe toerusting, towerkrag skep. Nou nog het ek ’n broertjie dood aan swak ontwerp of beligting, danksy hom.

“Hy is charismaties en het ons aangespoor om hard te werk by Truk en later in die Markteater. Daar was maar min geld, maar hy kon ons oorhaal om die pad te stap. By Truk was die een stuk skaars klaar, dan begin ’n mens met die volgende. Hy het ons aangemoedig om altyd ons beste te lewer. Ons bedryf is werklik bevoorreg om hom te hê.”

Manim het die beligtingsontwerp vir die teaterskepper Strike se onlangse produksies van Sam Shepard se Curse of the Starving Class en Kiss of the Spider Woman hanteer.

“Mannie is ’n ligtowenaar, hy het ’n aansteeklike honger vir meer inligting oor die karakters in die storie, en hoe hy hul ontwikkeling kan ondersteun met die alchemie van sy beligting.

“Lewende legendes soos Mannie werk ongelooflik hard, hulle rus nie, hy probeer sy uiterste bes om aan jou wenslys te voldoen, hy woon ook repetisies by en maak baie aantekening. Ek hoop dat ek nog baie saam met hom kan werk.”

Purkey beskryf Manim as ’n briljante kreatiewe vervaardiger wat in die Markteater en daarna “berekende risiko’s aangegaan het om nuwelinge soos ek ’n kans te gee, ook nuwe toneelstukke wat nog halfklaar was, het hy aanvaar, dit is haas onmoontlik vandag. Hy het ’n geweldige intuïsie, baie van die toneelstukke wat hy so gesteun het, het ’n nasionale en internasionale reikwydte gehad.”

Manim ken die werkinge van ’n teater deur en deur, sê Fahiem Stellenboom, bemarkingshoof van die Baxter-teater.

“Ek het so baie by hom geleer – nie net van teater nie, maar ook van die kunstebedryf. Dit was danksy sy dapperheid, deursettingsvermoë en toewyding dat die Markteater in die donker dae van apartheid in ons land gestig is. Dit moes vir hom persoonlik en beroepsgewys ’n enorme uitdaging gewees het. Hy is my teaterpa en mentor.”

Die regisseur Janice Honeyman is al sedert die jare 1960’s vriende met Manim en hulle werk gereeld saam. Sy vertel hoe hulle twee jaar gelede saam by die KKNK in Oudtshoorn opgedaag het. Albei het nou al ’n bos grys hare, waarop ’n karwag hulle vra. “Het Ouma en Oupa verdwaal? Shamepies! Kan ek vir Ouma en Oupa verduidelik waar die feeskantore is?”

Ons moet skep en ons stories opvoer, stories waarmee almal hulle kan vereenselwig. As die regering ons kan help, moet hulle dit asseblief nou doen, en vinnig doen. Ons kan nie op hulle wag nie. Ons moet ’n manier vind om vorentoe te gaan

Hy het haar haar eerste werk as aktrise en later regiewerk gegee.

“Daar het ’n mosterdkleurige motor langs ons stilgehou, dit was net ná die première van Athol Fugard se Boesman and Lena op die nasionale kunstefees in Grahamstad. Agter die stuur was die man met woeste hare wat ons ’n geleentheid aangebied het en ons sommer ook na ’n partytjie genooi het – daar het ek Fugard, Don McClennan, Jack Cope, Yvonne Bryceland, Barney Simon, André P. Brink en ons chauffeur, Mannie Manim, ontmoet.”

Al is dit die moeilikste tyd waarin kunstenaars in Suid-Afrika hulle nog bevind het, glo Manim dat kunstenaars nie moet toelaat dat die regering aan hulle voorskryf nie. Daarby moet teaters so gou toelaatbaar aan die gang kom.

“Terwyl ons Covid-19-maatreëls eerbiedig, moet ons probeer werk. Die regering mag ons nie voorsê wat die onderwerpe van ons werk is nie, wat die styl, grootte, vorm of datums is nie, ook nie die venues of wie die deelnemers is nie.

“Ons moet skep en ons stories opvoer, stories waarmee almal hulle kan vereenselwig. As die regering ons kan help, moet hulle dit asseblief nou doen, en vinnig doen. Ons kan nie op hulle wag nie. Ons moet ’n manier vind om vorentoe te gaan, al is dit hoe moeilik. Ons kunstenaars is so goed soos enige wat jy in die res van die wêreld vind.”

Meer oor:  Teater  |  Baxter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.