Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Maqoma en Mahola 1e keer saam op verhoog ten bate van Baxter
Gregory MaqomaFoto: Marijke Willems

Die befaamde choreograaf en danser Gregory Maqoma en die sanger, aktrise en storieverteller Zolani Mahola tree eersdaags saam op in ’n unieke geldinsamelingskonsert ten bate van die Baxter-teater in Rondebosch, Kaapstad. Die konsert dien ook om gehore en kunstenaars terug te verwelkom na die ikoniese Kaapse teater.

’n Unieke kort reeks konserte, Baxter Back on Stage, word van 3 tot 7 November om 19:00 in die teater aangebied, wat pas sy deure volgens die Covid-19-beperkinge vir vlak 1 oopgemaak het. Luidens ’n verklaring van die teater gaan die konserte “inkomste wat gedurende die afgelope ses maande van inperking verlore geraak het, probeer verhaal”.

Maqoma en Mahola, twee internasionaal gevierde Suid-Afrikaanse kunstenaars, tree vir die heel eerste keer saam op en lewer albei nuwe werk. Hulle tree eers op in ’n spesiale gala-aand vir genooide gaste en borge, waarvoor kaartjies (op 3 November) R1 000 beloop. Een van die gashere van dié spoggerige aand is die komediant Marc Lottering. Die prys sluit aandete en drankies in en daar is nog kaartjies vir die publiek beskikbaar vir die betrokke aand.

Kaartjies vir ander optredes deur die twee sterkunstenaars, van 4 tot 7 November, kos van R350 tot R500 en sluit verversings en drankies voor die vertonings in.

“Hierdie spesiale vertoning is ’n spesiale coup vir die Baxter, het Lara Foot, die uitvoerende hoof van die teater, gesê. “Ek kan nie aan ’n meer stylvolle vertoning dink nie as een deur dié twee kunstenaars, hulle is nasionale skatte saam op een verhoog, om ons terugkeer na lewende teater te vier en ons gehore en kunstenaars terug te verwelkom.”

Maqoma, bekend om sy bekroonde Rhythm and Beauty-danstrilogie, bied sy nuwe werk No Humour in samewerking met Xolisile Bongwana aan. In die persverklaring word dit as ’n landskap van klank en beweging beskryf waarin onder meer sensualiteit, etiese sensitiwiteit, grasie en geweld ondersoek word.

Zolani Mahola Foto: Antonia Steyn

Mahola, wat bekendheid verwerf het as stigter en voorsinger van Freshlyground, het verlede jaar aangekondig dat sy met ’n sololoopbaan begin. Sy is bekend as ’n storieverteller, sanger, aktrise en spreker.

Alle vertonings is wat gehore betref, beperk tot 50% vol. Covid-19-protokol word gevolg soos gestipuleer deur nasionale vlak 1-regulasies. Handreiniger is beskikbaar, die dra van maskers en die meet van temperatuur is verpligtend en sosiale afstand moet gerespekteer word. Gehoorlede word versoek om ’n uur voor die aanvang van die konsert op te daag sodat die bestuur die nodige Covid-19-voorsorg kan tref.

*Kaartjies kan deur Webtickets by 086 111 0005 bekom word, aanlyn by webtickets.co.za of by Pick ’n Pay-winkels.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.