Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Marion Erskine se ‘Akwarius’ jaag rilkoors op
Marion Erskine

Marion Erskine se volbloedriller Akwarius oor ’n reeksmoordenaar wat sy vroueslagoffers nadoods soos meerminne laat lyk, word Donderdag die eerste keer in Radioteater op RSG om 20:00 uitgesaai.

Die regisseur Bettie Kemp meen dié riller sal luisteraars onwillekeurig aan Suid-Afrika se baasspeurder Piet Byleveld herinner, wat vroeër vanjaar aan kanker dood is.

Alombekend as Piet Byl was hy talle reeksmoordenaars se moses.

Erskine is bekend om radiodramas soos Siembamba en Hashtag hasepad, asook sy jeugroman Vlerke vir almal wat vanjaar uitgereik is.

In Akwarius is die baasspeurder Sakkie Joubert ook ’n kaptein met heelwat reeksmoordenaars op sy kerfstok. Die laaste een – die een wat hy voor sy aftrede wil vastrek – bly hom ontwyk. Dit word ’n dodelike kat-en-muisspeletjie tussen die jagter en sy prooi.

Dié brutale reeksmoordenaar wat sy vroueslagoffers nadoods soos meerminne laat lyk, teister Johannesburg en omstreke. Die net om die gevreesde misdadiger trek al nouer totdat een van die lede van die ondersoekspan ’n skokkende onthulling maak wanneer dit reeds te laat is . . .

“Met die opneem van Akwarius het die span spontaan gevoel dat die radiodrama ter nagedagtenis aan Piet Byleveld wat op 24 Mei dood is, opgedra moet word,” sê Kemp.

Bettie Kemp

“Daar is heelparty ooreenkomste tussen hom en die hoofkarakter Sakkie, wat deur Anton Dekker vertolk word. Ironies genoeg, is Dekker met wyle Piet Byl se weduwee, Elize, bevriend.”

Die ander spelers in Akwarius is Anrich Herbst, Magda van Biljon, Su-an Müller-Marais, Duncan Johnson en Mari Molefe van Heerden.

Akwarius is volwasse luisterstof en nie vir sensitiewe luisteraars bedoel nie. Dis wel bedoel vir dié wat gedy op spanning en ’n goeie skeut adrenalien.

Erskine is ook die skrywer van Donatello en Volksie, destyds beskryf as die eerste “chick-lit”-roman in Afrikaans wat deur ’n man geskryf is. ’n Paar jaar later volg sy radiodrama, As die donker die son insluk. Margot Luyt was die regisseur van dié debuutradiodrama wat met ’n ATKV-mediaveertjie as beste radiodrama bekroon is.

* Radioteater word Donderdae om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.