Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Marion ‘wag en kyk ’n bietjie’
Marion Holm

Voor die Covid-19-verskynsel en voordat feeste afgestel en teaters gesluit is, was Marion Holm se jongste solotoneelstuk gereed om opgevoer te word. Elretha Britz het haar oor die stuk, bloot getiteld Marion Holm, uitgevra.

Waaroor gaan jou jongste vertoning?

Dit gaan, soos gewoonlik, oor hoe ek my eie naam met ’n plank slaan. Aanhoudend, hard en sonder genade. Maar: Ek hou nie daar op nie. Ek vertel die storie en dan druk ek dit effens verder deur ook van my ware emosies en foute te vertel. Vandaar die titel Marion Holm. Dit is net ek sonder enige skanse op die verhoog. Snaaks, eerlik en oop.

Is daar in jou geheuebeursie nog ware gebeure wat materiaal vir vertonings kan bied?

Die ware insidente gebeur daagliks! Ek het net nou die dag vir die veiligheidswag by die Engen One Stop verduidelik ek het klaar betaal vir die goed in my hand, maar ek moet teruggaan om my koffie te gaan haal. Toe kyk daai man my aan asof ek mal is. Ná ’n minuut verstaan ek toe ­­– hy is nie ’n veiligheidswag nie, hy wag net vir sy vriend.

Dink jy dis jou spesifieke blik op dinge wat jou lewe humoristies kan inkleur?

Ja, ek dink dit is so. Iemand anders sou waarskynlik dieselfde oorgekom het maar nooit besef het die man is net ’n klant nie. Hulle storie sou eindig met “ . . .en hy kyk my aan asof ek mal is”.

Die onvermydelike vraag: Duik die koronavirus en sy gevolge in die vertoning op?

Nee. Die korona het gekom nadat ek hierdie vertoning reeds gerepeteer en ’n voorvertoning aangebied het. Ek was op pad om daarmee op die KKNK te open. Ek vermoed ek gaan ook nie gou oor korona praat nie. (Sê ek nou!) Ek vermoed die wêreld en sy maat gaan oor korona praat. Soos met Zuma die geval was. Ek wou later skree. Plus, in dié stadium is als nog vir my erg. Tyd sal eers moet verloop alvorens ek die snaaksigheid hierin sal kan sien. My hart breek oor al die mense wat nie kos het nie, oor ons almal wat so geld verloor dat ons die kans staan om alles te verloor, oor oumense wat nie drukkies kan kry nie . . . My hart is in dié stadium nog daar.

Wanneer en waar sal die vertoning te sien wees? Dink jy aan aanlyn stroom of ander digitale moontlikhede?

Ek dink nie ek sal kan stroom nie, want dit sal beteken ek moet nóg geld moet uithaal om die vertoning op te neem. So ek sal maar wag. Rustig. Dankbaar vir gesondheid en ’n huis. En kyk waar ek die eerste keer weer op die planke sal stap. Dalk doen ek iets anders digitaal – ’n mens weet nooit. My ma het altyd gesê, jy kan nie sê fonteintjie, ek sal nie weer by jou drink nie.

Kassie

Chris Vorster, wat al Marion Holm se tekste vir haar solo-produksies afrond en ook die regisseur is, sê die vertoning word “absoluut gestroop” aangebied.

“Geen stel, geen klankeffekte, geen foefies – net Marion op die verhoog.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.