Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Markteater-hoës onskuldig aan rassisme, knoeiery
Ismail Mahomed, uitvoerende hoof van die Markteater in Johannesburg. Foto: Suzy Bernstein

Die raad van die Markteater-stigting (MTF) het in ’n tugverhoor bevind dat vyf van sy werknemers – insluitend sy uitvoerende hoof, Ismail Mahomed – onskuldig op ’n reeks aanklagte teen hulle is.

Die verhore van Mahomed, Christine McDonald, finansiële hoof, Perpetua Matsha, mensehulpbronne-bestuurder, Zama Buthelezi, bemarkingsbestuurder, en die reklameagent Lusanda Zokufa het gevolg op ’n forensiese ondersoek na dié Johannesburgse teater se sake. Die ondersoek is in Augustus 2018 deur Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, aangevra.

Mthethwa het die forensiese ondersoek, wat deur Morar Incorporated behartig is, aangevra nadat bewerings van rassisme, nepotisme en finansiële knoeiery deur van die teater se personeel geopper is. Onder meer die Mail & Guardian en The Sowetan het oor die bewerings berig gedoen.

Netwerk24 het in Januarie verlede jaar berig dat die forensiese ondersoek afgehandel en ’n vertroulike verslag met die bevindinge aan die raad oorhandig is.

Die raad het Woensdag in ’n mediaverklaring bekend gemaak dat daar “geen gronde” vir die aantygings teen al vyf die werknemers is nie.

“Die verhore kon geen bewyse van nepotisme deur die uitvoerende hoof vind nie, waaroor in Mail & Guardian berig is en waarin die oudwerknemer Yusrah Bardien betrek is; geen bewyse van rassisme deur die uitvoerende hoof nie, soos waaroor in The Sowetan berig is, en geen bewyse van knoeiery ter waarde van R100 miljoen deur die finansiële hoof nie, waaroor in The Star berig is,” lui die verklaring.

Die raad het ook ’n destydse skriftelike waarskuwing aan Matsha teruggetrek en gesê hy “berou” die uitwerking wat die bewerings, ondersoeke en verhore op al vyf die werknemers se professionele en persoonlike lewe gehad het.

Die raad berou dit ook dat ’n omgewing geskep is wat tot talle bedankings, insluitende dié van Bardien, gelei het.

Mahomed het in ’n verklaring gesê die proses wat ontvou het was “jammerlik en moeisaam”.

“Ons is egter bly dat ons integriteit, reputasie en toewyding tot die kunste en die kreatiewe en kulturele sektor ongeskonde is, dat ons saam met die personeel en die raad van die MTF hierdie ongelukkige hoofstuk in die geskiedenis van die MTF kan afsluit, en dat ons kan voortgaan om die nalatenskap van die instelling te eer,” het hy gesê.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.