Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Marlo in intieme tweepas in Fugard se ‘Statements’
Marlo Minnaar

Die teer liefdesverhaal van ’n bruin onderwyser en die wit dorpsbibliotekaresse wat sy honger na kennis voed deur onwettig boeke na hom te smokkel, is die bittersoet agtergrond van Athol Fugard se Statements After an Arrest Under the Immorality Act.

Hul liefde was verbode en vervolgbaar ingevolge die destydse Ontugwet.

Al het Fugard dié drama in 1972 reeds geskryf, is daar aansluitingspunte met die Suid-Afrika van hier en nou.

Die stuk word tans met Marlo Minnaar (7de Laan, Sara se Geheim) en Liezl de Kock (Crazy in Love, African Gothic) in die Fugard-teater in Kaapstad opgevoer.

’n Buurvrou verklik die minnaars en die polisie spioeneer dan op hulle en neem foto’s voordat hulle in hegtenis geneem en ondervra word.

Al is hy sy lewe lank ’n groot aanhanger van Athol Fugard se toneelstukke, het hy dié stuk nog nie gelees of op die planke beleef nie, sê Minnaar.

Marlo MinnaarFoto’s: Claude Barnardo

“Ek het die voorreg gehad om hom (Fugard) te ontmoet met die oudisie van sy Die Laaste Karretjiegraf. Toe hy hoor ek is van die Karoo, het ons begin gesels en toe ek sê ek is die aand op die planke in (Af) het hy vir kaartjies gevra. Dié aand sit hy wraggies in die voorste ry! Daardie aand het ek my hart op die verhoog gelos. Ek het net geweet iewers in die toekoms gaan ek in een van sy toneelstukke speel of hy gaan my regisseer.”

Hy het eintlik met wye draaie langs in Statements beland. “Ek sou nie die oudisie doen nie weens ander verpligtinge. Toe val dit deur die mat; ek het inderhaas die oudisie kom aflê en nie eens behoorlik tyd gehad om my woorde te leer nie.”

Elke aand is hy en Liezl de Kock in ’n intieme tweepas gewikkel op die verhoog – vir die duur van die stuk is hulle kaal. In verwikkelde gesprekke deurgrond hulle mekaar se diepste drome en ideale, asook die masjinerie van ’n regering wat met ’n siek ideologie sy mense verrinneweer.

“Nadat ons ons eerste toneel saam gedoen het, het ons mekaar ’n vat vyf in die lug gegee. Dit het net reg gevoel, die smeulende vuur was voelbaar tussen ons. Sy gee net, sy spoor ’n mens aan om net soveel soos sy te gee.”

Hy moes Fugard se teks ’n heel paar keer lees om sin daarvan te maak. “Dit is so dig en poëties geskryf dat dit op die oog af na willekeurige woorde klink wat saamgegooi is. Dit is die towerkrag van Fugard; mense dink hy preek in sy tekste, maar dit is nie so nie. Elke woord, idee en beeld is so deeglik, perfek en versigtig gekies en bymekaargesit dat ons nog elke dag iets ontdek as ons die vertoning doen.”

Die naaktheid het tyd geneem om aan gewoond te raak, al is hy nou al ’n hele paar jaar lank akteur. Die regisseur, Greg Karvellas, het goedig gespot dat hy eerste al sy klere sal uittrek as dit hulle gemakliker sou laat voel. “Greg het ons ruimte gegun om ons karakters te ontdek. Nie net is ons sonder klere nie, ons ontbloot ook ons siel aan mekaar deur die teks.”

Hierdie uiteenlopende reaksie wys dat ons iets reg doen. Die temas is steeds aktueel. Al is die ontugwet in 1985 nietig verklaar, frons mense steeds oor paartjies van gemengde ras, ons ervaar steeds die nagevolge van apartheid,” sê Minnaar

Mense se reaksie op die stuk sedert dit vanjaar op die KKNK geopen het, is uiteenlopend. Fugard is op die fees vir sy lewenswerk vereer en die stuk is gekies vir dié spesiale geleentheid. Fugard is al beskryf as die grootste lewende Engelse dramaturg.

“Hierdie uiteenlopende reaksie wys dat ons iets reg doen. Die temas is steeds aktueel. Al is die ontugwet in 1985 nietig verklaar, frons mense steeds oor paartjies van gemengde ras, ons ervaar steeds die nagevolge van apartheid,” sê Minnaar

Karvellas het Statements in ’n moderne konteks geplaas. Die spelers staan verdwerg op die verhoog omring deur kameras op driepote en ander toestelle waarmee hulle waargeneem word. Die gehoor word aandadig gemaak en voel soos voyeurs terwyl hulle anderhalf uur die twee mense dophou. Statements fokus op hoe mense van hul privaatheid beroof word, op wat menseregte en vryheid van spraak vandag beteken en hoe spesifieke groepe in ons samelewing steeds verdruk word, skryf Karvellas in sy regienota.

Die gevoel dat jy ’n gehoor op ’n emosionele reis kan neem, soos met Statements, hou toneelspel opwindend vir Minnaar.

“Ek is versot daarop om na stories te luister en dit te vertel. Ek is ’n introvert, toe ek die eerste keer op ’n verhoog klim in ’n skoolproduksie, het ek geweet dit is wat ek die res van my lewe wil doen.”

Vandag is ’n goeie tyd om ’n kunstenaar in Suid-Afrika te wees, meen hy. “Daar is baie geleenthede. Jou werk is jou reputasie, dit gaan altyd oor die werk, niks anders nie, nie jou Instagram-profiel of die likes nie. Dis nie die 100 m nie, dis ’n marathon.”

*Statements After an Arrest Ynder the Immorality Act word tot 26 Oktober op Woensdae tot Saterdae om 20:00 in die Fugard-teater in Kaapstad opgevoer. Daar is ook ’n middagvertoning Saterdae om 15:00. Kaartjiepryse wissel van R160 tot R220 en kan by die loket van die Fugard-teater bespreek word. Navrae: 021 461 4554

Meer oor:  Statements  |  Teater  |  Fugard-Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.