Terwyl verskeie teaters vir die res van die jaar gesluit is, word ’n toneelstuk vir die eerste keer in maande in die Joburgteater in Braamfontein aangebied.
Dead End, die gevierde dramaturg en romanskrywer Zakes Mda se eerste toneelstuk wat hy op skool geskryf het, word Donderdag tot Sondag in die Lesedi-teater opgevoer.

Khulu Skenjana en Sanelisiwe Yekani in ‘Dead End’. Foto: Makhaola Ndebele
Dit is een van die kleiner lokale in die Joburg-teaterkompleks.
Net 44 gehoorlede word per vertoning toegelaat om ’n gesonde afstand weens die inperkingsregulasies te handhaaf.
“Ons sal ’n ruk neem om weer op dreef te kom,” sê Makhaola Ndebele, artistieke direkteur van Joburg City Theatres en regisseur van Dead End.
“Ons het Saterdag in die Soweto-teater ’n tradisionele dansproduksie aangebied. Daar was twee stoele oop tussen elke gehoorlid. In die Lesedi-teater is dit maklik, want daar kan die stoele verwyder word, so daar is ’n gesonde afstand.
“Die toneelstuk word ook verfilm sodat dit later virtueel uitgereik kan word. Ons wil in die toekoms ’n regstreekse uitsending van ’n toneelstuk aanbied, maar ons is nog nie gereed daarvoor nie.”
Hoewel Mda (72) die teks op skool geskryf het, was hy al ouer toe dit die eerste keer in die 1970’s in Soweto opgevoer is.
Dit beeld ’n gesprek uit wat ’n moordenaar met God voer.
“Die moordenaar praat van God, maar dit kan ook sy gewete wees,” sê Ndebele.
“Die storie begin met hom in aanhouding en terugflitse wat die gebeure skets wat tot sy inhegtenisname gelei het. Dit beeld ’n bietjie van ’n patriargale stelsel uit, want die man het geweier dat sy nooi as ’n huiswerker werk om ’n bykomende inkomste te verdien, selfs al sukkel die paartjie finansieel. Wanneer sy swanger word, dwing hy haar om ’n aborsie te kry. En noudat hy in ’n afgesonderde ruimte is, dink hy oor wat hy gedoen het.”
Die rolverdeling bestaan uit Mncedisi Shabangu, Khulu Skenjana en Sanelisiwe Yekani.
• Vertonings is Donderdag en Vrydag om 19:00 en Saterdag en Sondag om 15:00. Kaartjies kos R75. Bespreek by Webtickets.