Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Meas huldig Chris van Wyk in nuwe solostuk

Die ontslape digter en skrywer Chris van Wyk wonder oor sy eie nalatenskap in Zane Meas se nuwe solostuk Van Wyk: The Storyteller of Riverlea.

Zane Meas vertolk die rol van die skrywer Chris van Wyk. Foto: Brett Rubin

Meas vertolk die rol van sy jare lange vriend, bekend om boeke soos sy memoires Shirley, Goodness & Mercy en Eggs to Lay, Chickens to Hatch.

“Die toneelstuk se openingsreël lui: ‘Ek is dood in 2014.’ Wat sou gebeur as jy ’n kans kry om terug te keer om weer te lewe?” vra Meas, wat ook die teks geskryf het.

Dit word van 25 Januarie tot 24 Februarie in die Mannie Manim-teater in die Markteater in Newtown, Johannesburg, opgevoer.

Die regisseur is Christo Davids, akteur en ook regisseur en skrywer van My Seuns (geskoei op Arthur Miller se All My Sons), wat op die Aardklop Nasionale Kunstefees ses pryse gewen het.

Met dié stuk huldig Meas Van Wyk as skrywer en as mens.

“Hy het ’n groot invloed op my besluit gehad om ’n akteur te word. Ek wil met die stuk sorg dat hy nie vergeet word nie. So ook nie die werk wat hy nagelaat het nie. Hy wonder self in die stuk: ‘Wat het ek agtergelaat? Wat het ek gedoen?’ Ek het baie hulp van sy seuns gehad. Dit sluit stemopnames en toegang tot allerhande dokumente van hom in.”

Zane Meas en Christo Davids. Foto: Brett Rubin

Dit was juis in een van die stemopnames waarin hy en sy seuns ’n gesprek gevoer het, waarin hulle vir hom gesê het dat hy sy hart en goedheid in hulle sal agterlaat.

Dit was glo ’n gesprek kort voor sy dood op 57.

Die stuk verken onder meer sy invloed as digter, politieke aktivis en skrywer. Sy familie, sterk vroue in sy lewe en sy stryd teen kanker kom ook ter sprake.

Van Wyk het nie geskroom om maatskaplike en politieke ongeregtigheid te pak nie.

Hy is in 1957 in Soweto gebore en het in Riverlea, suid van Johannesburg, grootgeword.

Meas en Davids het Van Wyk vertolk in Janice Honeyman se verhoogverwerking van Shirley, Goodness & Mercy.

Meas en Van Wyk het in die 1980’s kragte saamgesnoer met die toneelstuk Smith 4113, wat oor Van Wyk se kindervriend William Smith handel, wat later tronkstraf uitgedien het. 4113 was sy nommer as gevangene. Meas het dit op die Nasionale Kunstefees in Makhanda (Grahamstad) opgevoer.

“Ek hoop dat die stuk mense sal laat terugkeer na Chris se skryfwerk. Dit sal hartseer wees as alles wat hy gedoen het, vergeet word.”

*Van Wyk: The Storyteller of Riverlea word van 25 Januarie tot 24 Februarie opgevoer. Kaartjies kos R90 tot R150. Bespreek by Webtickets.

Meer oor:  Zane Meas  |  Markteater  |  Teater  |  Skrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.