Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Mimiekmeester John Jacobs by KKNK
John Jacobs, mimiekmeester.

Die Suid-Afrikaans gebore Franse mimiekmeester, John Jacobs, is terug in sy geboorteland om by die jaarlikse KKNK op te tree in ’n splinternuwe Paasfeesproduksie, My passie vir Jesus.

John Jacobs was jare lank die voorloper in sy pa se Klopse Troep in Distrik Ses en kon van kleintyd al baie goed dans. Vanweë sy besondere danstalent het prof. Mavis Taylor van die Universiteit van Kaapstad (UK) John raakgesien en vir hom ’n dansbeurs by ’n dansskool in Parys, Frankryk, gereël.

John het as 14-jarige in Parys aangekom en hom aangemeld by die adres wat hy gedink het die dansskool is. Later sou hy uitvind hy was by die verkeerde skool. Dit was die mimiekskool van die wêreldbekende Marcel Marceau. Marceau was egter beïndruk met Jacobs se bewegingsvermoë en sy natuurlike aanvoeling vir mimiek. Hy het op die daad met die dansskool in verbinding getree en ’n oorplasing vir Jacobs na sy skool aangevra.

Marceau het die Suid-Afrikaner onder sy vlerk geneem en hom die kuns van klassieke mimiek geleer. Ná vele jare betoon hy Jacobs die besondere eer om hom amptelik die titel van mimiekmeester toe te ken.

My passie vir Jesus is my persoonlike verhaal,” sê Jacobs. “Hierdie produksie is seker die eerlikste en mees persoonlike wat ek nóg aangepak het. Dit vertel my eie verhaal (natuurlik alles in mimiek) van voortvarendheid, die lewe van ’n bekende kunstenaar in Europa tot my eie worsteling en uiteindelike bekeringstog.

“In die produksie gaan dit baie meer oor Jesus as oor John Jacobs en juis daarom is dit ook vir my so ’n eer om juis Passie in die Paastyd op te voer.”

Hy vertel verder hy het ’n lang pad met Frans Swart, regisseur en medeskrywer van My passie vir Jesus, gestap.

Swart sê: “Ek het my jare gelede verstom aan die ongelooflike mimiek wat ’n mens in Europa sien. Mimiek is kragtig omdat almal dit verstaan, jy het nie taal nodig om dit te verstaan nie. Toe ek John jare gelede raakgeloop het, het ek besef die man moet baie meer in Suid-Afrika optree. Dit is dus werklik lekker om hom weer in die land te hê en dat hy op die KKNK optree.”

Jacobs het talle internasionale toekennings verower, maar hy is veral trots op die Herrie Kanna-toekenning wat hy in 2002 op die KKNK verower het en die Kanna-toekenning vir die beste dans- en bewegingsproduksie in 2003.

John het Suid-Afrika verlede jaar op die Internasionale Mimiekfees in Armenië verteenwoordig waar die wêreld se mimiekmeesters gaande was oor sy talent.

My passie vir Jesus: 11 April om 11:30, 12 April om 09:00, 13 April om 17:30, 14 April om 11:30 en 15 April om 14:00 in die Laerskool Wesbank.

Meer oor:  Kknk  |  Oudtshoorn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.