Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Misdaadriller betrek gehoor
Die plakkaat van die drama-­produksie Stil.

Stil

Momentumteater, Staatsteater, Pretoria

Jannes Erasmus is een van Suid-Afrika se jong teatermakers wat met nuwe oë na die verhoog kyk.

Met verlede jaar se As het hy en die bekroonde stel- en beligtingsontwerper Wilhelm Disbergen die Momentumteater in ’n skrootwerf omskep, kompleet met motorwrakstukke waardeur die gehoor tydens die optrede kon beweeg.

Met Stil, wat pas in dieselfde teater geopen het, verken Erasmus weer eens die speelruimte binne die grense van ’n tradisionele teater. Hierdie slag kan die gehoor óf agter ’n lang tafel inskuif wat in ’n U-vorm ’n kleiner verhoog omvou óf in die galery verder agter die tafelopset plek inneem. Elke gehoorlid wat aan die tafel sit, word voorsien van ’n pen en papier.

In wese is die gehoor dus nie net aanhoorders of waarnemers nie, maar skep die teaterontwerp (weer eens deur Disbergen) die illusie van ’n “jurie” vanwaar die gehoor die gebeure kan “oordeel”.

Onder die vergrootglas is die liefdesverhouding tussen Stef (Erasmus) en Nina (Zöricke Snyman). Hy is ’n gladdebek-skrywer, sowel romantikus as realis, wat deur sy misdaadverslaggewing die wêreld se wreedheid blootlê; sy ’n onderwyseres wat daarvan droom om sommer gou met ’n gesin te begin. Die aanvanklike romantiese verhouding neem ’n wending wat Stef onkant betrap, waarna dinge erg skeefloop. Dit lei tot ’n kruisverhoor waarin ’n speurder (Diani Gernandt) die ondervraging namens die gehoor lei en Nina aanpor om die verloop van gebeure te verklaar. Die tonele wissel tussen hede en verlede en weldra val die legkaartstukke in posisie.

Die teks is by tye poëties, en dan weer alledaagse gesprektaal tussen twee verliefdes by ’n kroegtoonbank. Daar is egter heeltyd ’n onderliggende spanning wat die tonele dryf. Die kreatiewe teaterstel in die groot, oop ruimte sorg wel vir ’n unieke ervaring, maar gevolglik is daar min klankdemping en sukkel ’n mens soms om die jong akteurs duidelik te hoor.

Disbergen se beligtingsontwerp ondersteun die dramatiese styl van die produksie. Klein lampies wat op die tafels gemonteer is, wissel by tye die oorhoofse beligting af en betrek

die gehoor dan opnuut by die gebeure.

In wese is Stil ’n misdaadriller. Die gesprek oor die reg op lewe, en emosionele afpersing word hier as medium gebruik om spanning en moord te motiveer en nie soseer om sosiale kommentaar daarop te lewer nie. Dit poog wel om ’n debat te ontlok deur die gehoor as “jurie” te laat kant kies.

Erasmus, wat ook die regisseur is, draai nie doekies om nie. Sy benadering tot die tema is meer skokgedrewe en die visuele aanslag in die klimaks­toneel getuig hiervan. Dit kan sensitiewe gehoorlede ontstel.

Tot Saterdag. Sadler is ’n vervaardiger van die DEURnis-projek, waarby Jannes Erasmus as akteur en skrywer betrokke is.

Meer oor:  Verhoogstuk  |  Drama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.