Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Mount Maak-produksiehuis wen VS-prys
Ilana Cilliers Foto: Stephan Bester

Die aktrise Ilana Cilliers (Johnny is nie dood nie) en die beligtingsontwerper en regisseur Wolf Britz het vanjaar hul eie teaterproduksiehuis, Mount Maak, begin. Hul eerste produksie, GodgOdgoD, met Charlton George, Tiisetso Mashifane, Apiwe Livi, Cilliers en Britz het onlangs die Vrystaat Kunstefees se prys vir die beste produksie gewen. Herschelle Benjamin het met Cilliers en Britz gesels oor Mount Maak en die toekoms.

1. Waar het die idee begin, wat was dit oorspronklik en waarom juis nou?

Dit het eintlik begin by die werk. Ons het saam werk voorgestel en toe GodgOdgoD ’n werklikheid word, het dit sin gemaak om ’n produksiehuis te stig waarin die fokus geplaas word op prosesse waarin daar saamgewerk word, eerder as op een mens se visie of individuele rolle en hiërargieë. Ons sien almal wat deelneem se bydraes as ’n aandeel in Mount Maak. Die proses is ’n verwikkelde sisteem waarvan die produk slegs een ontluikende eienskap is. Dit maak vir ons sin om in ’n multidimensionele landskap op hierdie manier te skep.

2. Jul eerste produksie, GodgOdgoD, het pas die prys vir die beste produksie op die Vrystaat Kunstefees gewen en het uitstekende resensies gekry. Hoe was die proses?

Heerlik en angswekkend. Toe ons begin repeteer het, het ons redelik min gegewens gehad. Ses bladsye teks, ses verbeeldingryke liggame en ’n paar ander speelgoed. Ons is bevoorreg dat ons die kans kon kry om ’n stuk in die span te ontgin, eerder as om ’n vooruitbepaalde plan uit te voer.

Wolf Britz Foto: Stephan Bester

3. Is daar ondersteuningsnetwerke of mense wat kunstenaars se onafhanklike projekte wil ondersteun?

Dit is moeilik om te oorleef deur kuns te skep, teater te maak en veral eksperimentele werk te lewer. Dit kan nie gebeur sonder ondersteuningsnetwerke nie. Ons sou nie die stuk sonder die platforms en finansiële ondersteuning van die Vrystaat Kunstefees, die US Woordfees en NATi kon doen nie.

4. Wat beteken teater of skeppende kuns vir elkeen van julle?

Wolf: Dit beteken alles en dit beteken niks gelyktydig. En alles/niks tussenin.

Ilana: Dis nie regtig iets waaroor ek baie dink nie. Dit is per informele definisie eintlik oral en in alles. Per formele definisie het ek met dit rondom my grootgeword en nou doen ek dit maar steeds. Ek dink partymaal ek hou glad nie van teater nie. Soos water. Water is lewe, maar dit smaak eintlik na niks, selfs ’n bietjie nie lekker nie.

5. Wat bring elk van julle wat anders en komplementerend is na Mount Maak?

Skeppingsprosesse is heel dikwels eensaam, onseker en onstabiel. Dit is heerlik om iemand te hê wat net soveel belang by ’n projek as jyself het. Dit kom ook natuurlik met uitdagings wanneer ’n mens verskil. Hoewel ons eenderse uitkyke op die lewe en dikwels dieselfde smaak het, het ons albei baie sterk idees wat nie altyd 100% ooreenstem nie. In die wisselwerking tussen ons en in die geselskap, vind ons iets wat nog beter is as dit wat deur enigeen van ons voorsien kon word. Ons daag mekaar se patrone en gewoontes uit.

6. Is dit steeds belangrik vir julle om ook apart werk te doen?

Kruisbestuiwing is onontbeerlik. Geslote sisteme lei tot verhoogde entropie wat direk eweredig is aan risiko vir sistemiese apopleksie. Isolasie is kreatiewe selfdood.

Tiitsetso Mashifane en Apiwe Livi Foto: Corné Kruger

7. Laastens, wat dink julle het ons teatergemeenskap,

-bedryf of -landskap nou ‘broodnodig’? Waarmee strewe ons vreesloos voort en waarop kan ons verbeter?

Ilana: Ek dink nie ’n mens kan opsetlik kuns maak wat nodig is nie. Jy kan probeer, maar kunstenaars maak oor die algemeen wat hulle maak en party maak toevallig wat nodig is. Maar wat is nodig? In terme van inhoud? Vorm? Die ekonomie? En wat is ons landskap? Afrikaanse teater? Suid-Afrikaanse teater? Die antwoorde op daardie vrae verskil. Ek dink hoe meer kruisbestuiwing, hoe meer interessant en meer kompleks. Vir Afrikaanse teater, sou ek sê, dalk noodsaaklik vir volhoubaarheid. Ons sien reeds meer meertalige werk en platforms. En wat Kunste Onbeperk volgende jaar met Teksmark gaan doen, om ook Xhosa-tekste in te sluit, is in my opinie beslis ’n nodige stap.

Wolf: Die enigste antwoord wat ek het, is dat dit nodig is om vrae te vra en onsself voortdurend te besig met gesprekke rondom kritiese kwessies: Hoe hou ons kop met dinamiese kontekste in veranderlike toestande? Aangesien die teaterervaring ’n gedeelde ruimte in beslag neem; tot watter mate is daar positiewe terugvoering onder die lede wat teater skep en die wat dit ervaar? Hoe is die werk wat geskep word relevant tot die konteks waarvan dit deel vorm, is of word? ’n Poging om teater te skep wat leef eerder as blote aanspraak maak op bestaansreg is aan die orde van die dag.

Meer oor:  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.