Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Muses worstel om komedie vir hedendaagse tye te skep

“Moenie dink die sensuurraad bestaan nie meer nie – dit is vandag baie meer subtiel, want nou pas ons selfsensuur toe.”

So sê die aktrise Lizz Meiring, skrywer en regisseur van die tweemanstuk Die grapmakers, ’n absurde satiriese komedie.

Michelle Botha en Neels van Jaarsveld in ‘Die grapmakers’. Foto: Rina Gertzen

Neels van Jaarsveld en Michelle Botha vertolk twee muses wat daarmee worstel om komedie te skep omdat hulle bang is hulle gee iemand aanstoot.

Dit sou op die Standard Bank Innibos Kunstefees debuteer, maar dit word volgende week steeds onder die vaandel van dié fees in Gauteng opgevoer.

“Dis nou baie moeiliker om grappe te maak as in die verlede,” sê Van Jaarsveld.

“Ons speel die muses van komedie. Alles wat snaaks is, begin by ons, maar weens nuwe generasies en iets soos die woke-onderwerp, dink hulle ons trap op tone. Hierdie muses was altyd baie goed voordat sensorskap begin het. En nou moet hulle dit nuut, vars en innoverend hou. Komedie is tog universeel, maar ons bevind ons in ’n moeilike milieu, want jy kan maklik iemand beledig.”

Botha en Van Jaarsveld het albei al in komedies opgetree.

“Vir seker verstaan ons hierdie dilemma,” sê Botha.

“Jy kan nie meer ten koste van iemand ’n grap maak nie. Daar is ook ’n reël in die teks wat sê almal huil oor dieselfde goed, maar almal lag nie oor dieselfde goed nie. Wat vir een snaaks is, is vir ’n ander walglik. ’n Mens ondervind dit nogal. Dis wat komedie so moeilik maak.”

Michelle Botha, Lizz Meiring (skrywer en regisseur) en Neels van Jaarsveld. Foto: Rina Gertzen

Van Jaarsveld voeg by: “Maar ek dink dit was vir ons ook ’n reis om uit te vind wat vir ons snaaks is. As akteurs, as mense. Lizz skryf baie wyd dat verskillende mense daarby kan aanklank vind, verskillende generasies kan met verskillende gedeeltes van die stuk assosieer. Maar ons sê ook komedie is wreed.”

Botha reken mense het verleer om vir hulself te lag.

“Almal is sensitief. Maar dit gaan daaroor dat jy ’n balans moet vind. Maak dit snaaks, eerder as om snaaks te wees. Komedie moet eg wees. Jy moenie dink jy is snaaks nie. Jy moet toelaat dat die gehoor dink dis snaaks.”

Dis ’n strik waarin ’n mens kan trap, meen Van Jaarsveld.

“Ons kyk ook na tydsberekening en die kuns daarvan. Baie mense kry dit nie altyd reg nie. Daar is verskillende fasette en elemente van komedie. Jy speel nie net een ding nie. Daar is variasies en aksente. Ons lewer ook sosiale kommentaar.”

Meiring sê mense is nie meer gewoond aan absurde teater nie.

“Ek het dit juis absurde komedie gemaak, want alle vooroordele oor komedie is absurd. Dink ’n bietjie daaraan. En komedie maak ’n bestaan uit absurditeit. Dat Neels ’n manlike muse speel, is klaar absurd.”

In absurde teater word die gewone ongewoon, en andersom.

“En die gehoor moet gelei word om daardie skuif te maak. En jy moet dit speel asof dit normaal is.”

Meiring reken alle komedie is wreed.

“Ek wil gehore daarvan bewus maak dat daar geen manier is om iets snaaks te skep sonder om iewers iets of iemand te beledig nie. Jy moet dapper wees as jy komedie doen. ’n Mens wonder hoe ver jy mag gaan, maar verbeel jou ’n tyd wanneer daar geen humor sal wees nie.”

• Yvette Hanekom is die tegniese regisseur en Giep van Zyl die vervaardiger.

• Dit word in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) aangebied.

Vertonings:

• Woensdag om 19:00 in die Pierneefteater in Pretoria.

Kaartjies kos R110 tot R130. Bel 012 329 0709 of stuur ’n e-pos na info@pierneefteater.co.za om te bespreek.

• Donderdag om 19:00 in die Kunstegrot in Thabazimbi.

Kaartjies kos R100 tot R150.

Bel Rita by 083 744 8559 om te bespreek.

• 20 November om 20:00 in die Tarentaalteater in Rustenburg.

Kaartjies kos R130. Bel Anita by 082 782 3019 of stuur ’n e-pos na tarentaalteater.co.za om te bespreek.

• 21 November om 18:30 in die ADK Kunstedraai in Vanderbijlpark.

Kaartjies kos R130. Bespreek by adk-drama.co.za.

Meer oor:  Lizz Meiring  |  Neels Van Jaarsveld  |  Vanderbijlpark  |  Pretoria  |  Thabazimbi  |  Rustenburg  |  Akteurs  |  Teater  |  Komedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.