Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
'n Man wat glo dat God hom koggel

Pieter Fourie se gewilde drama Die koggelaar oor geloof, familie en ’n boer wat glo dat God hom koggel, kry vandeesmaand nuwe lewe in die Staatsteater in Pretoria.

Met ’n moderner en meer abstrakte aanslag word dit drie keer van 18 tot 20 Junie as deel van die Youth Expression-fees opgevoer.

Die koggelaar word vandeesmaand in die Staatsteater opgevoer.Foto: Staatsteater

Die fees wat die jeug aan teater blootstel en hulle uitdaag om hul eie stories te skep en op te voer, word vanjaar vir die 11de keer aangebied.

Westley Smith is die regisseur van die stuk.

“Ek het ’n tema geneem waarmee ek gemaklik is. My grootste vrees is dat ek nie ’n boer is nie en dit speel op ’n plaas af.”

Smith, hoofinligtingsassistent by die Universiteit van Pretoria (UP) se Merensky 2-biblioteek, wat ook drama aan die UP gestudeer het, het die eerste keer in matriek met dié teks te doen gekry.

“Ek was op soek na ’n monoloog en my drama-onderwyser het vir my die teks gegee. Dit het my laat besef dat ek ook ’n storieverteller wil wees.”

Hy het ’n monoloog deur die karakter Boet gelewer.

Boet Cronjé is ’n hardkoppige boer wat ontken dat sy bruin regterhand, Knaplat, op die plaas eintlik sy halfbroer is.

Aanvanklik lyk sy toekoms goed met “God aan sy kant”, ’n familieplaas en ’n erfgenaam. Tog het hy baie ontberings soos die afsterwe van sy seun en ’n droogte. Dit toets gevolglik sy geloof.

Smith het die teks verkort en die stel is meer abstrak in sy produksie.

Alles gebeur in ’n hok. Die hekke en heinings, alles draai rondom daardie hok.

Die karakter Knaplat word nou deur ’n vrou vertolk.

“Ek het gereken dit sou ’n ander dinamika aan die storie verleen. Die tema van geloof is steeds die fokus. Hoe anders dit vandag is. Afrikaans is so ’n mooi skryftaal as jy dit reg gebruik. Ek sou Pieter Fourie meer oor sy inspirasie en skryfstyl wou vra. Sy metafore en prentjies.

As hy nou terugkyk, sou hy dalk iets wou verander?”

Die koggelaar is in die laat 1980’s deur die destydse streeksraad Kruik opgevoer deur die Duitse regisseur Dieter Reible.

Dit is in 1997 as radiohoorspel uitgesaai en Tafelberg het die teks in 2018 in boekvorm uitgereik.

* Vertonings in die Momentumteater in die Staatsteater is op 18 Junie om 17:00, op 19 Junie om R70 en op 20 Junie om 20:00. Kaartjies kos R70. Bespreek by Webtickets.

Meer oor:  Teater  |  Pieter Fourie  |  Drama  |  Staatsteater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.