Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
’n Tyd toe Afrikaanse teater die regering ‘be-lag-lik’ gemaak het
’n Toneel uit ‘Quartet’, met Antoinette Kellermann en Neels Coetzee.

Mense wat toustaan vir grootse snykantteater, daaglikse sensuur en intimidasie, wit akteurs wat voor wit gehore in ’n veelrassige land optree.

Die beginjare van die ou streeksraad Kruik, een van die destydse vier streekrade in Suid-Afrika, kom skerp in fokus in die dokumentêre rolprent A Feast in Time of Plague.

Die streeksraad was bedrywig van 1963 tot 1997. Die Nico Malan-teater, tuiste van Kruik, het in 1971 geopen.

Deurgaans in die dokkie van die Kaapse historikus Amber Fox-Martin word getoon hoe dít wat op die verhoog gebeur het, ’n weerspieëling was van wat in SA aan die gang was. Haar dokkie fokus op die jare sewentig tot negentig en spesifiek op die Afrikaanse drama-afdeling van die raad.

Fox-Martin het die prent en ook as ’n essay voorgelê vir haar honneursgraad in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, wat sy cum laude geslaag het. Fox-Martin het ook ’n dramagraad aan die US behaal en werk tans vryskut as ’n verhoog-en-produksiebestuurder.

Marthinus Basson praat oor die beginjare van Kruik se drama-afdeling in ‘A Feast in the Time of Plague’.

Ironies genoeg het dié stroomop-teater uit ’n staatsgesubsidieerde instelling gekom. Fox-Martin se dokkie toon die kat-en-muis-speletjies wat die artistieke bestuur (Johan Esterhuizen, hoof van Kruik, en die dramaturg Pieter Fourie, artistieke hoof) met die apartheidsregering gespeel het om hul omstrede stukke wel op die planke te kry.

Kruik was ’n paradys vir die akteur, ná die ontbinding van die Nasionale Teaterorganisasie en die rondreisende toneelgeselskappe, volgens die regisseur Marthinus Basson. Hier was die belofte van ’n vaste inkomste, akteurs kon gesinne hê, mediese ondersteuning, daar was ’n werkende infrastruktuur en met ’n stel-, tegniese en kostuum-afdeling kon daar groot gedroom word.

Basson, die satirikus Pieter-Dirk Uys, die akteur Royston Stoffels en Fourie is onder die teaterskeppers wat openlik praat oor daardie jare.

A Feast in time of Plague is binnekort op die dokumentêre fees Encounters te sien. Dit bied kosbare teatergeskiedenis van die bloeityd van teater by Kruik. In die eerlike woorde van Fourie was dit ’n tyd van “goeie geld, ruim subsidies, maar geen vryheid”.

Pieter-Dirk Uys

Die prent wys die invloed van besoekende Duitse regisseurs soos Peter Kleinschmidt en Dieter Reible, wat opruiende Europese teater na Kaapstad gebring het en talle ander regisseurs, soos onder andere Basson, beïnvloed het. Hulle sou ook gehore voorberei op ’n ander tipe teater in Suid-Afrika.

“Hulle het ’n standaard kom stel, dinge losgeskud, dit was teatrale teater,” sê Basson. Hy vertel hoe mense om die gebou tougestaan het om toneelstukke te kom kyk. Later sou die Nico, vernoem na ’n administrateur van Kaapstad, egter geboikot word.

Die akteurs en gehore was almal wit. Dit was die tyd toe die dramaturg Adam Small ’n permit van die regering moes kry om die première van sy eie drama Kanna hy kô hystoe in 1974 by te woon. En dit is deur wit akteurs opgevoer. Ses maande later, in 1975, het die Nico oopmaak vir gemengde gehore.

Die dokkie dek ook die opening van die Arena-teater – ’n teaterbroeikas vir alternatiewe stukke, wat die hoofteater met sy fokus op meer kommersiële vermaak sou aanvul. In die Arena is werk van Basson (“hier kon jy enigiets doen”), die eerste toneelstukke van Chris Pretorius, asook Uys se Beyond the Rubicon in 1986 opgevoer.

“Ons het die regering be-lag-lik gemaak,” vertel Uys.

Die streekrade sou plek maak vir die kunstefeeste. Fourie begin die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Basson én Uys is ontgogel gelaat met die durende era van “politieke korrektheid”. “Niemand van die jonger generasie takel die regering nie, niemand takel byvoorbeeld vir Zuma nie”. Basson meen teater is nou regtig “vaal”. Uys meen “in die apartheidtyd was dit politiek korrek om ’n rassis te wees, nou is selfsensuur aan die orde van die dag, en dit is gevaarliker”.

A Feast in Time of Plague gaan op die platform SHIFT72 wys as deel van die dokumentêre fees Encounters. Die film is beskikbaar van 20 tot 30 Augustus.

Besoek die webblad www.encounters.co.za.

Onder die toneelstukke wat bespreek word, tel Kinkels innie kabel, Titus Adronicus, Antomie Titus: Fall of Rome, Christine, Die koggelaar, Ek, Anna van Wyk, Bacchus in die Boland, Piekniek by Dingaan (musiekspel) en Quartet.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.