Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Naaimasjien’ nou aanlyn te sien
Sandra Prinsloo in ‘Die naaimasjien’. Foto: Eikestadnuus

Eindelik sal niemand ’n verskoning hê om nié vir Sandra Prinsloo in die ikoniese solostuk Die naaimasjien te beleef nie.

Rachelle Greeff se roerende verhaal is verfilm en nou aanlyn beskikbaar op die KKNK-webwerf, kknk.co.za.

Ná honderde opvoerings oor sowat drie jaar oor Suid-Afrika heen en ’n onvergeetlike speelvak op die Edinburg-fees in Skotland, het Die naaimasjien ’n tweede lewe.

In die verfilmde weergawe word die stemme van akteurs gebruik vir die mense wat in die karakter Magdaleen se herinneringe woon, almal bekendes soos Stian Bam, Joanie Combrink, Deon Lotz, Viljé Maritz en Pedro Kruger.

Die stuk open met Magdaleen wat in haar ouetehuiskamer elke deeltjie van haar naaimasjien skoonmaak. Die vrou wat die naaimasjien koop, het gesê sy kom dit drie-uur oplaai.

Met deernis en humor neem Magdaleen kykers terug na ’n tyd van melkaflewerings, moerkoffie, kouse met nate en wit Valiants.

Hennie van Greunen, wat die regie en ontwerp vir die toneelstuk behartig het, sê: “Ek het destyds omtrent elke Afrikaanse aktrise vir die rol getoets, maar kon net nie die regte een kry nie. Sandra het – tipies professioneel soos sy is – vier bladsye teks voorberei. ’n Halwe bladsy nadat sy begin het, het ons albei geweet: Sy ís Magdaleen.”

Prinsloo sê “die uitwerking van die stuk op gehore was oorweldigend”, terwyl Greeff sê die skryf van dié teks het haar lewe verander.

“Ek het besef as jy uit jou hart en niere skryf, sonder om te probeer slim wees met allerhande foefies, raak jy aan die hart van mense. Ek wens ek kan voltyds vir die teater skryf. Die heel lekkerste is dat jy nie alleen is nie; ek skryf die teks en dan is daar ’n hele span en as dit mense is soos Sandra en Hennie – hoe gelukkig kan ’n mens wees!”

Die verfilmde weergawe word deur die KKNK aangebied in vennootskap met Brainwave Productions en Wordsmith’s Theatre Factory.

Die produksie is in Afrikaans met ’n opsie vir Engelse onderskrifte. Beskikbaar tot 27 Junie; bespreek by Quicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.