Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Naakte akteurs ontbloot dierlikheid van mens in oorlewingstryd

Die gewelddadige en “byna dierlike” aard van die mens in ’n stryd om oorlewing is die fokus van die toneelstuk Die rypmaakkamer, waarin sewe Russiese soldate naak toegesluit en vir dood agtergelaat is.

Markteater
Zack Mtombeni in Die rypmaakkamer Foto: Emil Wessels

Dié stuk, gegrond op ware gebeure, deur die Amerikaanse dramaturg David Ian Lee word van 7 tot 30 Junie in die John Kani-teater in die Markteater in Newtown, Johannesburg, opgevoer en daarna is dit van 1 tot 9 Julie op die Vrystaat-Kunstefees in Bloemfontein op die planke.

“Wat gebeur met mense in sulke omstandighede? Wat gaan deur jou kop? Jy is toegesluit, so hoe oorleef jy?” vra Frans Swart, die regisseur.

“Ook wil ’n mens weet wat veroorsaak dat iemand so wreed en gewelddadig kan optree?”

Moord, sielkundige aftakeling en kannibalisme vat pos ter wille van oorlewing.

Swart, uitvoerende hoof van Lefra-produksies, het die Afrikaanse vertaling van The Curing Room gedoen.

Hy het die stuk vier jaar gelede tydens die Edinburg-fees in Skotland gesien.

Markteater
Nathan Hammond en Zack Mtombeni in Die rypmaakkamer Foto: Emil Wessels

“Dit het my in my spore gestuit. Hierdie Russiese soldate is deur Nazi’s ontvoer en in die rypmaakkamer van ’n klooster gegooi. Dit speel af in die suide van Pole in 1944. Dit is dus kort voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Hulle is gestroop van hul klere en terselfdertyd in ’n oorlewingstryd in ’n baie klein ruimte gewikkel. Ek en die sewe spelers het al baie daaroor gewonder hoe wreed mense kan wees.”

Swart het Lee ontmoet en hy het ook tyd bestee met ’n regisseur wat ’n Londense speelvak van die toneelstuk behartig het.

“Die naaktheid skok jou, maar daar gebeur erger dinge,” sê Swart. “Die naaktheid word eintlik ’n kostuum. Wat my vreeslik ontstel het toe ek dit gesien het, was die skerm wat dag een, dag twee ensovoorts aandui. ’n Mens wil eintlik nie weet hoe lank hulle hier vasgekeer is nie. Dit is ’n groot uitdaging vir die spelers, maar ek is banger as hulle.”

Vandat Swart die Engelse produksie gesien het, wou hy dit opvoer.

“Dit is een van die daardie stukke wat by jou spook totdat jy dit na die verhoog bring.”

* Die spelers is David Konrad, Mauritz Badenhorst, Dirk Joubert, Anele Situlweni, Gregg Pettigrew, Nathan Hammond en Zack Mtombeni.

* Vertonings in die Markteater is Dinsdae tot Saterdae om 20:00 en Sondae om 15:00. Kaartjies kos R120 tot R190. Bespreek by Webtickets.

* Vertonings in die Jool Kol op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein is op 2 en 5 Julie om 14:00 en op 3 en 6 Julie om 10:00. Kaartjies kos R190. Bespreek by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.