Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Nataniël maak Kaapse draai om bibberweer te verdryf
Die sanger Nataniël kom maak ’n Kaapse draai en sal in vier konserte te sien wees.

Kapenaars wat sukkel om die winterkoue te verduur, kan na vier konserte uitsien waarin Nataniël gehore met sy stem, humor en kostuums gaan opwarm.

Dié oud-Kapenaar sê hy skrik nie vir die bibberweer nie.

“Ek kom mos van daar af, so ek geniet die nat weer – en ek dra mos 80 kg se kostuums op die verhoog, so hoe kouer, hoe beter. In die somer is dit hel . . . By my broer in Frankryk is ek op my gelukkigste wanneer dit sneeu en daar ’n orkaan is.”

In sy vier Kaapse konserte gaan hy soul-, blues-, pop- en jazzliedjies sing.

“Ek besluit eers 24 uur voor ’n konsert wat ek gaan sing. Ek teken elke stad en dorp en teater aan en wat ek daar sing en dan maak ek seker dat ek nie in ’n stad of dorp of teater dieselfde liedjies sing nie, want ek het die heeltyd nuwe materiaal.

“Dis vir my net belangrik dat liedjies ’n nice eenheid vorm. En dan praat ek op die ingewing van die oomblik op die verhoog en sê verkeerde goeters, want ek kan dit nie help nie.”

Benewens die musiek, is dit van sy bestaande kostuums wat op die verhoog gaan skitter.

“Ek gaan nie dié keer groot goeters Kaap toe bring nie, want die mense skrik. Ek self het nou die dag geskrik vir my een kostuum: Ek het gelyk soos Idi Amin wat deur ’n doilie geduik het,” sê hy.

“In September bring ek wel ’n kostuum Kaap toe wat so groot is dat dit net in ’n vragmotor kan pas. I don’t travel light. As ek by die lughawe aankom, dink die mense ek trek, maar jy weet net nooit wanneer jy ’n kostuum vir ’n onverwagse begrafnis of so iets gaan nodig hê nie. Ek alleen hou vir BA (British Airways) aan die gang.”

Nataniël gaan saam met die pianis Charl du Plessis optree, met wie hy in Januarie volgende jaar al 20 jaar saamwerk.

“Ek moet my altyd omring met mense wat beter as ek is. Charl is nederig en diplomaties en is ons blinkste pianis as dit kom by jazz, klassieke musiek en my twak. Hy bring die wêreld se kennis.

“Hy is ook my buffer. Ek is reguit en onbeskof. As Charl sien hier kom die duiwel nou in my keel op, dan bewaar hy die vrede. Hy weet wat in my kop aangaan. Hy gaan nog eendag my loopraam met glitter versier.”

“Ek gaan nie dié keer groot (kostuums) Kaap toe bring nie, want die mense skrik. Ek self het nou die dag geskrik vir my een kostuum: Ek het gelyk soos Idi Amin wat deur ’n doilie geduik het."
Nataniël

Dis nie net ’n reeks konserte waarna aanhangers van die storieverteller en sanger vanjaar en volgende jaar kan uitsien nie.

“Ek dink mos elke dag is my laaste, so ek wil net alles dadelik doen. Met televisie is daar iets aan die broei, moontlik teen volgende jaar, as die dokter kan uitvind waar my middel is en die kameraman kan sien watse kant van my voor is.

“Ek dink nie enigiemand ouer as 19 moet op TV wees nie. Dis walglik. As hulle my deur ’n chiffonlaken skiet, sal ek dit doen, maar ek is nie desperate vir TV nie. Dis wrede media. Jy sit en kyk en tel jou dubbelkenne en los velle. Ek weet nie hoekom enigiemand dink dis lekker nie. Dis ’n trauma vir my, maar ek het nog nie alles gesê wat ek wou sê nie, so ek sal dit maar weer doen.”

Dan is daar ook nog nuwe produksies in die Kaap – ’n “mother van ’n ding” – en Pretoria, nog konserte, kookskole, ’n reis na Nantes in Frankryk en ’n nuwe onderneming wat borde en bakke met sy stories versier “sodat families dit by die tafel kan lees en nie met mekaar hoef te praat nie”.

Hy het ook ’n roman geskryf.

“Dis op my kinderjare gegrond. Dit verskyn later in die jaar en was ’n jare lange doodskoot vir my. Dit is die hardste wat ek nog aan iets gewerk het.”

Vir eers fokus hy nou weer net op sy musiek.

“Dis werklik vir my belangrik, want gehore kom kuier in elke konsert ’n bietjie by my. Al dans ek Swan Lake op my eie op die verhoog, wil ek net hê die gehoor moet in elke konsert, met elke liedjie en storie, ’n happy experience hê.”

  • Nataniël in Concert is op 10 Julie by die De Hoop Laerskool op Somerset-Wes te sien. Bespreek by Computicket.
  • Op 11 Julie word dit by die Langerugskool op Worcester herhaal. Bespreek by 023 346 5300.
  • Kapenaars se laaste kans is op 12 en 13 Julie by D’Aria. Bespreek by 021 975 0421 of 082 928 8103.
Meer oor:  Nataniël  |  Teater  |  Charl Du Plessis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.