Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Nataniël wil glans van ‘regte teater’ na dorpe neem

Voeg Nataniël, drie retro-Kombi’s, en 20 van ons beste Afrikaanse kunstenaars saam en jy kry die Optog!-konsertreeks.

Nataniël en Jo Black geniet ’n koppie tee voor een van die ou Kombi’s wat volgende jaar saam met hulle gaan toer.

“Ons het verval in ’n fees-kultuur. ’n Dorp of stad word deesdae getref deur ’n fees van tien dae lank en dan is almal daarna moeg en bankrot, en vir die res van die jaar gebeur daar niks nie terwyl die infrastruktuur verval,” sê Nataniël, een van die kunstenaars wat gaan deelneem.

“Ons wil help dat teaters landwyd en in Namibië reg deur die jaar shows kan aanbied.”

Matthys Maree, organiseerder van Optog!, sê hul doel is “om die kuns na die mense toe te vat wat ’n behoefte het om dit te sien”. Hulle het 32 dorpe en stede geïdentifiseer vir die eerste reeks konserte wat in Februarie afskop. Nataniël en Jo Black is van die kunstenaars wat gaan optree.

Nataniël, wat Donderdag verjaar het, sê hy gaan van middel Februarie begin toer tot einde Maart “wanneer ek inmekaar gaan sak en dan is dit weer die volgende een se beurt”.

Die idee is om die glans terug te sit in die teaters, sê hy.

“Mense dink dis oukei om met plakkies en shorts by ’n teater op te daag. Dit is nie! Jy moet mooi aantrek. Dis goed vir die siel.

“Nie almal van ons wil met 12 biere langs ’n rivierwal gaan sit en musiek luister nie. Ek is nou al 30 jaar in showbiz en daar is baie van ons old school-kunstenaars wat ’n kollig, dressing room en drama nodig het vir ’n goeie vertoning,” sê hy.

Maree sê hulle wil ’n deel van die inkomste wat deur vertonings gegenereer word, terugploeg in die teaters sodat dit opgeknap kan word.

Vir Nataniël is dit ook belangrik dat kinders weer van regte teater en vertonings moet leer.

“As kind het dit my hele lewe gemaak as daar ’n toneelgeselskap op ons dorp aangekom het. Jy was weke lank opgewonde, want iemand het ’n blink rok gedra en daar was Fermolite-volmane teen die gordyn vasgeplak en dan word dit ’n magical ding.

“Ons het almal ons kinderlike opgewondenheid verloor en windgat geraak. Ons sit die hele dag met ons neuse in ons fone. Dis tyd om weer magic te ervaar,” sê hy.

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Nataniël
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.