Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Natasha Sutherland praat oor haar rol as Shirley Valentine

Wie weet nie wie Shirley Valentine is nie – die Britse middeljarige middelklas-huisvrou wat met haar kombuismuur gesels en na meer in die lewe smag. En dan die “onbehoorlike” ding doen deur vir haar man ’n briefie op die yskas te laat en saam met ’n vriendin vir ’n vakansie na Griekeland vertrek. Die vrou wat dáár op haarself en die lewe verlief raak.

Natasha Sutherland Foto: Verskaf
Natasha Sutherland Foto: Verskaf

Dit is dié bekende karakter wat Natasha Sutherland vandeesmaand op die verhoog van die Etienne Rousseau-teater in Sasolburg en later ook in ander stede gaan vertolk.

Sutherland, een van talle hoopvolle aktrises wat ’n oudisie vir die rol afgelê het, “voel geëerd” dat dit aan haar toevertrou is, maar besef ook die uitdaging om aan so ’n bekende karakter gestalte te gee.

Die dramaturg Willy Russell het Shirley Valentine as ’n soloverhoogstuk geskep en is kort daarna tot ’n rolprent verwerk. Die wye wêreld het toe kennis gemaak met die ikoniese karakter, treffend deur Pauline Collins, uitgebeeld.

Sutherland sê “die toneelstuk is so goed geskryf dat dit die akteur rig hoe om te werk te gaan”, terwyl die regisseur Gina Shmukler haar help om getrou te bly aan Shirley se lewensreis en terselfdertyd haar vertolking met eie nuanses en energie in te kleur.

“Dit is vir my absoluut wonderlik om uit my huidige glansryke TV-rolle te klim en my met Shirley se plat-op-die-aarde-houding en patos te vereenselwig.”

Een van Shirley se benydenswaardige eienskappe is dat sy haarself nie bejammer nie, al voel sy in ’n uitsiglose lewe vasgevang.

Wanneer Jane haar nooi om saam te gaan Griekeland toe, pak ’n vrees vir die onbekende haar beet. Sy is tog net ’n uitgewaste huisvrou, ma en buurvrou van Liverpool. Maar, aan die ander kant, het sy nie nog altyd gewens sy kan reis nie en is die vliegkaartjie nie ’n geskenk wat die lewe haar gee nie?

Dié gesprekke deel sy met haar kombuismuur, want haar man luister lankal nie meer na haar nie.

Die Britse aktrise Pauline Collins as Shirley Valentine in die gelyknamige rolprent. Foto: Verskaf
’n Laaste toneel op ’n Griekse eiland waar Shirley Valentine (Pauline Collins) haarself gevind het en die lewe vier. Foto: Verskaf

Die leer van die woorde vir ’n solostuk is vir alle akteurs ’n berg. “My kinders dink darem nie meer ek is mal as ek woorde opsê waar ek ook al is nie – in die kar, onder die stort, terwyl ek kosmaak. Dag in en dag uit gaan dit so. Ek is ook besig om Shirley se aksent te leer en kom agter dat ek deesdae die foon met daardie Liverpool-infleksie antwoord.”

Sutherland sê sy sou die stuk verlede jaar in Montecasino in Johannesburg opgevoer het, maar die Covid-19-inperking het dit gekelder. Dat die maatskappy VR Theatrical en Herman van Niekerk van die Etienne Rousseau-teater kans sien om dit wel aan te bied, natuurlik met al die nodige veiligheidsvoorskrifte, is vir haar ’n teken dat “ ’n mens steeds kan hoop en droom, hoewel met ’n mate van beskeidenheid en aanvaarding”.

“Al wat ek wil doen, is om as aktrise te werk, om te skryf en stories te vertel. Dit is my lewenskrag, dis waarvoor ek lief is en ek sal nooit ophou hoop op genoeg werk sodat ek ’n tuiste vir my seuns kan verskaf nie.

“My wense is ’n weerspieëling van almal in die bedryf, dat ons van die droogte kan herstel, of ten minste bystand kan kry. Ek sluit gehore by hierdie wens in – hulle is die vernaamste element van die magiese van die teater.”

Sutherland is een van die min bevoorregtes wat in die inperkingstyd vanaf Maart verlede jaar gewerk het.

Sy speel in die sepie Scandal op etv, in die M-Net-dramareeks Lioness en was in Breathing Space, ’n stuk oor die skrywer Olive Schreiner op die Nasionale Kunstefees.

Dié stylvolle vrou, voorheen getroud met Steve Hofmeyr, is sedert 1992 as aktrise, skrywer en regisseur bedrywig. Sy het ’n geruime tyd in die Afrikaanse sepie Egoli gespeel, was ook in musiekspele, onder meer Gigi en Jesus Christ Superstar, en op haar CV is ’n lang lys van teaterstukke. Daarby is sy ’n motiveringspreker.

  • 27 en 28 Februarie om 15:00 in die Etienne Rousseau-teater, Sasolburg. Die kaartjies kos R180 by Computicket.
Teaterstuk en rolprent

Wally Russell se toneelstuk Shirley Valentine het sy buiging in 1986 in Liverpool se Everyman Theatre gemaak. Twee jaar later is dit in Londen se West End met Pauline Collins as Shirley en Simon Callow as die regisseur opgevoer.

In 1989 is dieselfde produksie na Broadway, waar dit 324 keer in die Booth Theatre op die planke was.

Ellen Burstyn het Collins later vervang en Loretta Swit het in 1995 die rol vir ’n nasionale toer by Burstyn oorgeneem.

Daarna is die stuk weer in Brittanje opgevoer, in 2010 en 2017, en dit is as ’n radiodrama op BBC Radio Four uitgesaai.

Shirley Valentine is met talle pryse bekroon, insluitende verskeie Tony-, Laurence Olivier-, Drama Desk- en Theatre World-pryse vir die beste opvoering en as beste aktrise vir Collins.

In 1989 het Russell self sy verhoogstuk vir die silwerdoek verwerk. Collins het daarin ook die rol van Shirley gekry en is vir dié vertolking met ’n Bafta en die Evening Standard-prys bekroon.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.