Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Nathi sê jammer oor twiet dat teater ‘sterk en gesond’ is

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het Donderdag ’n verskoning uitgereik vir ’n “aanstootlike” twiet nadat kunstenaars ’n petisie begin het waarin hulle vra dat hy voor 31 Januarie moet bedank.

In dié twiet, wat intussen verwyder is, sê die minister teater is ondanks die Covid-19-pandemie “sterk en gesond”.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur. Foto: Craig Nieuwenhuizen

“Dat die minister om verskoning vra, dui daarop dat die petisie reeds iets vermag het,” sê die dramaturg Mike van Graan, een van ’n paar kunstenaars wat die petisie Dinsdagmiddag begin het.

“Dit gaan nie net oor die twiet nie. Ons sit nou al ’n paar jaar met ’n minister wat onbevoeg is. Die twiet dui op sy gebrek aan begrip, empatie of gesprekvoering met die bedryf. Die afgelope paar maande staan verskeie teaters toe – teaters wat normaalweg geweldig bedrywig is. Daarby word feeste kort-kort afgelas. Kunstenaars het inkomste verloor en daarmee saam hul emosionele welstand. Daar is soveel verplettering.”

Ander kunstenaars wat die petisie begin het, sluit in Gregory Maqoma (danser en choreograaf), Sylvaine Strike (dramaturg en regisseur) en Ismail Mahomed (kunste-administrateur en teaterskepper).

Kunstenaars meen die pandemie sou baie beter hanteer kon word met ’n minister wat belangstelling in die bedryf toon, en verstaan hoe dit werk.

In die twiet word vyf teaters genoem wat “sterk en gesond is”: die Kunstekaap, die Markteater (Johannesburg), die Playhouse-teater (Durban), die Staatsteater (Pretoria) en die Windybrow-teater (Johannesburg).

’n Skermgreep van die twiet van Nathi Mthethwa, wat intussen verwyder is.

Dié teaters is gesluit sedert die staat van inperking in Maart in werking getree het. Sommige teaters het wel virtuele konserte aangebied.

Indien Mthethwa nie bedank nie, gaan die kunstebedryf by pres. Cyril Ramaphosa aanklop sodat hy Mthethwa die trekpas kan gee.

Tot dusver is meer as 1 400 handtekeninge ingesamel.

“Ons sal kyk wat gebeur, maar dit wys jou as daar ongelukkigheid oor ’n saak is, moet ’n mens dit opper,” sê Van Graan.

“Dit is eintlik bemagtigend vir die kunstebedryf. Daar is nou druk op hom geplaas en miskien lei dit tot verdere gesprekvoering.”

Van Graan is dankbaar oor die ondersteuningsfonds wat deur die departement begin is, maar dit was ’n “druppel aan die emmer”.

Dit het baie kunstenaars uitgesluit, sê Van Graan.

“Daar moet vir almal voorsiening gemaak word. Vryskutwerkers moet dieselfde bystand as ander werkers kry.”

Nadat die inperkingsregulasies verlede jaar mettertyd verslap is, het sommige teaters met minder gehoorlede heropen.

Teaters het egter in Desember ’n verdere terugslag gekry toe ’n aangepaste vlak 3 van die staat van inperking in werking getree het.

Besoekers aan of gehore van rolprentteaters, casino’s, museums, galerye, biblioteke, teaters, gimnasiums, fiksheidsentrums en veilings word tot 50 mense binnenshuis en 100 mense buitenshuis beperk.

Dit sal tot minstens 15 Februarie die stand van sake wees.

’n Skermgreep van die twiet van Nathi Mthethwa, wat intussen verwyder is.

Die aandklokreël geld van 21:00 tot 05:00.

In sy verklaring sê Mthethwa onder meer: “Tot op hede het teater ’n rol van onskatbare waarde gespeel deur noodsaaklike boodskappe na gehore te bring en te verseker dat ons geskiedenis nie vergeet word nie, en dat ons sal aanhou om ons nasie op te voed en te bemagtig.”

Volgens die verklaring stel die departement van sport, kuns en kultuur tans ’n derde fase van hulpbefondsing vir die bedryf in werking.

Sowat 5 000 kunstenaars is vir die eerste hulpfonds aanbeveel en meer as R80 miljoen is aan die bedryf betaal.

In die tweede fase is meer as R2 miljoen aan kunstepraktisyns betaal.

“Die minister praat vanuit ’n ivoortoring van politieke bevoorregting,” sê Van Graan.

“Ons soek nie net beterskap gedurende die pandemie nie, maar ook in die toekoms.”

Besoek hier om aan die petisie deel te neem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.