Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘NATi voed bedryf en daag dit uit’
Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi).

Was dit nie vir die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) nie, sal Vrystaatse kunstefeesgehore nie vanjaar topgehalte-toneelstukke soos Swerfgoed, Uit die bloute, Half leeg en Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran kon beleef nie. Ook nie eksperimentele stukke wat horisonne verbreed soos GodgOdgoD en Alpha nie.

Verlede jaar was wenners soos Koöperasiestories, Buite land, Nag van legio, Altaar en Pa, maak vir my ’n vlieër, Pa te sien – alles danksy NATi.

Hoe vermag dié organisasie dié “bederf” nadat kunstefeeste hulle verskeie jare op meestal solovertonings en tweemanstukke moes verlaat?

Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, ’n ontwikkelingsinisiatief van die Dagbreek Trust, sê hul doel is om verdienstelike Afrikaanse teater te bevorder.

“Maar wat ons en die feeste regkry, bly ’n wonderwerk. Teaterlui kan hulself nie in ’n ander bedryf voorstel nie, al is die geldelike vergoeding soms karig. NATi is egter bevoorreg om geld te hê en kan dié talentvolle en passievolle teatermakers help om kos op die tafel te sit.

“Die geld word egter sonder uitsondering met versigtige oorweging en in voortdurende onderhandelings met betrokkenes in die bedryf aangewend.

“Dit het byvoorbeeld daartoe gelei dat ons vanjaar meer kleiner produksies as verlede jaar gefinansier het. So word meer teatermakers die geleentheid gegee om hul inkomste aan te vul.

“Volgende jaar sal NATi weer grootskaalse opdragwerke finansier nadat ’n behoefte hieraan uitgewys is.”

Toe ’n ernstige gebrek aan nuwe Afrikaanse tekste ontstaan het, het NATi ingespring en Kunste Onbeperk in die nuwe suksesvolle Teksmark ondersteun.

“So verander ons elke jaar ons model na gelang van die teaterlui en gehore se behoeftes.”

Faasen sê NATi se vereistes moet dus ook voortdurend wissel “omdat ons die keuse van produksies soos ’n legkaart moet laat pas. Ons kan nie net komedie of net dramas ondersteun nie. Daar moet ’n balans wees.

“Dan moet ’n mens ook in gedagte hou dat Afrikaanse teatergehore gesofistikeerd is en van interessante en moeilike werke hou.

“Daarby het ons ook ’n verpligting om ouer teatermakers te ondersteun en terselfdertyd die jonger geslag wat nou sterk op die voorgrond tree. Jy hou ’n bedryf net lewend deur al die faktore in ag te neem en al die elemente proaktief saam te bestuur.”

NATi is nie net ’n onontbeerlike reddingsboei vir Afrikaanse teater nie, dit verseker ook ’n toekoms vir Afrikaanse kunstefeeste.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Vrystaat Kunstefees  |  Toneel  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.