Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Ntshona se ‘teaterbroers’ diep bedroef

Die dood van die akteur en dramaturg Winston Ntshona het diegene wat nou saam met hom gewerk het diep geraak.

Hy is Donderdag in Port Elizabeth in die ouderdom van 76 oorlede nadat hy agt jaar lank siek was.

Die akteur John Kani het Vrydagoggend in ’n onderhoud met die radiostasie 702 gesê hy het sy “tweelingbroer” verloor. Hoewel hy geweet het dat Ntshona siek is, was die nuus steeds onverwags en ontstellend.

Hy was só ontsteld toe hy die nuus hoor dat hy begin huil het. Hulle moes die verfilming staak sodat hy kon kalmeer.

John Kani en Winston Ntshona in Sizwe Banzi is Dead.

Kani werk tans is Italië aan ’n rolprent.

“Winston was ’n vrygewige akteur en sy werk het mense wêreldwyd beïnvloed,” het hy gesê. “Die laaste jare van sy lewe het hy daaraan gewy om die jeug in Port Elizabeth te bemagtig.

“My hart is gebreek dat ek nie nou tuis is nie.”

Hy is bly dat Ntshona gelukkig in sy leeftyd eerbewyse vir sy werk ontvang het.

Ntshona se ander “broer”, Athol Fugard, het in ’n kort verklaring gesê: “Met die afsterwe van ons lieflike Winston het ek ’n broer verloor. ’n Groot boom het in die woud geval. Gelukkig vir ons wat hom oorleef, is daar jong bome wat by die dag groei.”

Mannie Manim (vervaardiger, regisseur en beligtingsontwerper) wat sedert die vroeë 70’s ’n vriend en kollega van Ntshona was, het gesê die land het een van sy groot akteurs verloor.

“Hy was ’n lieflike man en hy kon oor enige onderwerp gesels, of dit filosofie, geskiedenis of die teater was.

“Elkeen van ons wat hom geken het of hom selfs net op die verhoog gesien het, is bevoorreg.”

Die satirikus Pieter-Dirk Uys het gesê: “Winston Ntshona en John Kani het my lewe in die vroeë 70’s in die Ruimte-teater verryk toe hulle The Island en Sizwe Banzi is Dead daar opgevoer het.

“Ons vriendskap was toe onwettig weens die reëls van apartheid, maar vir die eerste keer kon ek met swart mede-Suid-Afrikaners praat, lag en huil oor wat ons aan mekaar doen. En dit nogal in Afrikaans ook. John was die blaasorkes; Winston die strykkwartet. Dis jammer ons moes wag vir sy dood om oor hom te praat en sy talent en waardigheid te vier. Sy werk was altyd uit die hart, opreg, subtiel en altyd met sy unieke tikkie humor.”

Meer oor:  Winston Ntshona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.