Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Nuwe Kalkbaai-teater gooi sy deure oop

Die Kalkbaai-teater het ’n gedaanteverwisseling ondergaan en het ná maande se bloed, sweet en trane sy deure in ’n nuwe venue oopgegooi.

Só lyk die nuwe Kalkbaai-teater binne. Foto: Facebook

Vanessa Harris en haar man, Ashley Searle, stigters van die FollowSpot-teatergroep, het die nuwe Kalkbaai-teater in ’n vleuel van die bekende Brass Bell-restaurant ingerig. Dit is net ’n klipgooi van die Nederduits-Gereformeerde kerk in Kalkbaai se hoofweg, waar hulle die teater die afgelope sowat agt jaar bestuur het.

Netwerk24 het in Mei berig dat die teater, toe bekend as die Kalkbaai-teater-en-restaurant, heeltyds sy deure weens die finansiële impak van die Covid-19-pandemie moes sluit. Harris en Searle moes kort daarna ook hul huurkontrak opsê en van die teater se jare lange tuiste afskeid neem.

Toe die egpaar in Augustus deur die bestuur van die Brass Bell-restaurant genader is om die teater in ’n vleuel van die restaurant in te rig, het hulle nie twee keer gedink nie en dadelik aan die werk gespring om die geliefde instelling daar te laat herleef.

“Ons het amptelik op 6 November geopen,” sê Harris.

“Ons wou ’n bottel Moët oopmaak, maar ons het toe nie. Dit was steeds ’n gelukkige oomblik en ons was baie opgewek, hoewel ons doodmoeg ná die opknappings was.”

Die nuwe teater is ietwat groter – daar was voorheen plek vir 77 teatergangers, nou is daar plek vir 100 mense. Dit spog ook nou met ’n nuwe interieur en ’n glasplafon wat oopgetrek kan word.

Die nuwe teater is ietwat groter – daar was voorheen plek vir 77 teatergangers, nou is daar plek vir 100 mense. Dit spog ook nou met ’n nuwe interieur en ’n glasplafon wat oopgetrek kan word. Dít is egter nie wat Harris die blyste oor dié nuwe hoofstuk maak nie.

“Wat my die meeste opgewonde oor die nuwe ruimte maak, is dat ek nie meer ’n restaurant hoef te bestuur nie. Hoewel daar sekere aspekte (van restaurantbestuur) was wat ek geniet het, was daar weer ander aspekte wat ’n las was. Nou kan ek net op die teater fokus.

“Ons het ’n vennootskap met die Brass Bell aangegaan, wat ongelooflik is: Hulle is verantwoordelik vir die restaurant en die kroeg, terwyl ons fokus op die vermaak. Tot dusver verloop alles vlot en ek dink ons gaan ’n wonderlike toekoms saam hê.”

Harris sê sy en Searle wou nie die publiek skenkings vra om die teater weer te begin nie omdat almal weens die pandemie swaarkry. Skenkers, onder andere ook familie en vriende, het egter na vore gekom – soos een weldoener wat R10 000 geskenk het. Dié hulp het hulle in staat gestel om die teater van hul drome in te rig.

“Ons het nog altyd gedroom van ’n tipe kabaretteater, met teatergangers wat by tafels sit, wat beteken ons kan die sitplekke rondskuif as ons dit vir ’n spesifieke vertoning wil aanpas. Dit is werklik opwindend.

“Die glasplafon is ook baie cool. Ons het dit nog nie oopgetrek nie, want dit het die afgelope tyd gereën, so ons moet nog uitvind hoe dit voel om ’n vertoning met ’n oop plafon aan te bied.”

Die nuwe teater se program is ook reeds stampvol: Die musiek-en-komedie-vertoning ManBand II het reeds begin en sal tot 16 Januarie op die planke wees. Van 2 Desember af sal daar elke tweede Woensdag ’n skerpskertskomediant of twee op die verhoog wees, en vanaf 20 Desember lê ’n musiekvertoning op Sondae om 18:00 voor. Die vertoning Noir, wat Harris as ’n “sirkusagtige” vertoning beskryf, begin op 22 Januarie.

Kaartjies kan by https://www.kalkbaytheatre.co.za/ bespreek word. Meer inligting is op dieselfde webblad beskikbaar.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.