Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Nuwe kriteria kom vir Hertzogprys vir drama
Prof. Hennie van Coller

Nuwe kriteria gaan opgestel word vir dramas wat voortaan in aanmerking kan kom vir die gesogte Hertzogprys vir drama, die oudste en belangrikste prestige-prys in Afrikaans.

Die reëls vir dié prys bepaal dat net dramas in boekvorm ingeskryf mag word. Dit lei daartoe dat al hoe minder dramas ingeskryf word.

Al lewer Afrikaans jaarliks ’n ryk oes van dramas - soos opvoerings op kunstefeeste kan getuig - word die meeste daarvan nie in boekvorm uitgegee nie. Dié kwessie is vandeesweek deur ’n gesprekgroep by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bespreek wat die prys toeken.

Hennie van Coller, voorsitter van die letterkundekommissie, was Dinsdag in Pretoria die voorsitter van ’n gesprek wat deur PEN Afrikaans aangevra is. In dié gesprek is daar gepoog om nuwe kriteria vir kwalifikasies vir dié prys vas te lê. Die prys word ook vir prosa en poësie toegeken.

Danie Marais

Dramatekste verkoop swak, uitgewers ly ’n verlies en al hoe minder tekste word gepubliseer.

Volgens Danie Marais, ondervoorsitter van PEN Afrikaans en ook ’n digter, dui die Akademie se huidige reglement aan dat net werke wat in die vorige drie jaar gepubliseer is, in ag geneem mag word.

“Ons wou kyk hoe die reglement vir die Hertzogprys vir drama gewysig kan word om ook ander vorme van publikasie in ag te neem – sonder dat die Akademie oorval word deur ’n stortvloed van tekste sonder enige vorm van gehaltebeheer.

“Daar is bereidwilligheid om ook digitale publikasies te oorweeg mits ’n ander vorm van gehaltebeheer as tradisionele publikasie gevind kan word.

“Die uitkoms was dat die letterkundekommissie die reglement so kon aanpas dat meer dramas oorweeg kan word, sonder om gehalte in te boet,” sê Van Coller.

Die gepubliseerde Afrikaanse drama krimp al dekades lank, volgens ’n artikel in Tydskrif vir Geesteswetenskappe in 2017 deur dr. Anthea van Jaarsveld, dosent verbonde aan die departement van drama en teater aan die Universiteit van die Vrystaat (UOVS). Sy skryf hoewel min dramas gepubliseer word, word al hoe meer grensverskuiwende dramas egter in Afrikaans op die planke gebring.

Volgens Van Coller word elektroniese publikasie oorweeg.

“Dit sal nog steeds publikasies met ’n ISPN-nommer wees, maar aanlyn, want dis goedkoper. Daarvoor moet riglyne neergelê word.”

Die Letterkundekommissie sal ’n voorlopige nuwe reglement opstel en dit aan al die belanghebbendes stuur sodat hulle kan kommentaar lewer en voorstelle maak.

Die Akademie sal hiervolgens ’n nuwe reglement op sy vergadering in Maart opstel.

Die jongste ontvanger van die Hertzogprys is die satirikus Pieter-Dirk Uys, wat dit vir sy hele oeuvre ontvang het.

Hoewel Uys baie dankbaar teenoor die Akademie vir dié eer is, beklemtoon hy die rakleeftyd van ’n sterk teaterteks op die verhoog.

“Dramas wat nie opgevoer word nie, is nutteloos, soos ’n padkaart in die hande van iemand wat nie motor bestuur nie. Dramas is teater, veronderstel om lewend te wees – nie om eerbiedig stof op ’n rak vol pryse te versamel nie.”

Die Hertzogprys sal voortbestaan, benadruk Van Coller.

“Die huidige probleem is dat sê nou maar agt toneelstukke in ag kom in vergelyking met 30 of 40 romans of digbundels. Die nuwe reglement gaan probeer om die balans te verbeter.”

Meer oor:  Hertzogprys  |  Reglement  |  Drama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.