Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Nuwe platform om SA teaterstukke te stroom

’n Teater-en-kunsteliefhebber se droom om ’n plaaslike stromingsdiens met ’n katalogus propvol teatervertonings te begin, het uiteindelik ’n werklikheid geword.

Teaterliefhebbers kan nou talle teatervertonings op South African Theater On Demand stroom. Foto: Verskaf

Blythe Stuart Linger het sedert die begin van die staat van inperking saam met Stefan Erasmus berge versit om South African Theatre On Demand (Satod) op die been te bring, en dié projek het vroeg in Junie afgeskop.

Satod bied reeds 23 uiteenlopende teateraanbiedinge aan, onder meer die regisseur Erwin Maas se vertoning Gif/Poison/Ityhefu met Atandwa Kani en Tinarie van Wyk Loots; die regisseurs Sjaka S. Septembir en Gideon Lombard se Nag van die slang-uil; en die kinderteaterstuk Hans Haas en Paulina praat pandemie.

Linger sê dit was met ’n rede dat die plan vir Satod in die verlede net in sy agterkop was en dat hy nooit werklik daaraan aandag gegee het nie.

“Ek kon myself net nie sover kry om dit te ontwikkel terwyl die ondervinding van teater ‘in die vlees’ so magical is nie.

“Dit is moeilik om die wisselwerking tussen ’n regte gehoor en akteurs na te boots.”

Die Covid-19-pandemie en die staat van inperking het egter vuur onder hom en Erasmus gemaak.

“Covid-19 was die katalisator wat tot Satod se bekendstelling gelei het,” sê hy.

“Die werklikheid is dat kunstenaars links en regs kontrakte verloor. Ons wou met ’n oplossing vorendag kom wat kunstenaars sou toelaat om ’n passiewe inkomste uit hul werk te verdien.”

Linger verduidelik dat die webwerf tans teater-inhoud in drie kategorieë aanbied. “SATOD Originals” sluit inhoud in wat die Satod-span self namens kunstenaars verfilm en op die platform laai, terwyl “Parked Productions” teateraanbiedinge insluit wat reeds deur kunstenaars opgeneem en bloot op Satod gestroom word. Die derde kategorie is spesifiek op kunstefeeste gerig en sluit benewens teateraanbiedings ook praatjies in wat op feeste aangebied is.

Blythe Stuart Linger

“Ons werk tans saam met die wonderlike Vrystaat Kunstefees, wat die teaterreeks ‘Snelstroomsluipkyk’ aan gehore bied.

“Ons hoop dit is die eerste van talle vennootskappe met feeste oor die hele Suid-Afrika.”

Teatergangers moet kaartjies vir elke vertoning koop, met kaartjiepryse wat tans van R15 tot R90 wissel.

“Kunstenaars besluit self wat hul kaartjiepryse is en vir hoe lank ’n kaartjie ’n teaterganger toegang tot die vertoning gee – 24 uur, 48 uur of 72 uur,” sê Linger.

“Kunstenaars het ook die opsie om ’n kaartjie vir ’n hele reeks vertonings te verkoop, baie soos ’n dagkaartjie op ’n fees.”

Satod se huidige finansiële model verseker dat kunstenaars die “meeste” van die inkomste kry wat uit kaartjieverkope verdien word, sê Linger.

“Ons doel is om kunstenaars te ondersteun. As kunstenaars die regte van die werk besit, kry hulle volle beheer oor die wins, en as die regte van die werk in die hande van vervaardigers is, beveel ons sterk aan dat hulle die wins moet deel.”

Linger sê hy hoop om die platform so uit te brei dat dit finansieel volhoubaar is, ’n argief vir en van die Suid-Afrikaanse kunste word, en dat dit later met podsendings, blogs en meesterklasse aangevul kan word.

Belangstellendes kan na www.satod.co.za gaan om die katalogus te besigtig, lokprente te kyk, kaartjies te koop en die aanbiedinge te stroom.

Kunstenaars wat belang stel om hul inhoud op die platform te stroom, kan ’n e-pos aan Dara Beth rig en dit na dara@satod.co.za stuur.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Teater  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.