Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Nuwe Stemme op pad na Kunstekaap
Sandra Temmingh, Herschelle Benjamin, Zinobulali Goduka en Fatima Dike

Die jaarlikse Nuwe Stemme-program deur Kunstekaap sal in Oktober vanjaar vier oorspronklike stukke op die plank bring.

Ná ’n openbare kennisgewing aan skrywers om hul tekste en konsepte in te dien, is vier uiteenlopende skrywers se werke gekies wat in vollengte-produksies ontwikkel sal word.

Nicola Moerman, Zinobulali Goduka, Herschelle Benjamin en dr. Nomfundo Mali se tekste, ’n mengsel van dramas, surrealisme en politieke rillers, is met die hulp van Rafiek Mammon, Fatima Dike, Sandra Temmingh en Siphokazi Jonas ontwikkel.

Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap, sê in ’n mediaverklaring met die program wil Kunstekaap jong skrywers ’n geleentheid gee om ou narratiewe te herontdek of om nuwe narratiewe in terme van inhoud, taal en sosio-politieke kwessies aan te pak. Dis ook ’n platform waarop die stemloses gehoor kan word, maar bowenal is dit ook vir kunstenaars wat vars en oorspronklike werk tot die teaterlandskap kan voeg.

Moerman se produksie, The Third Force, met regie deur Mammon, handel oor die druk wat ’n mens daagliks beleef. Dit kyk spesifiek na angsaanvalle, sosiale druk en die verwikkeldheid van die brein deur verskillende teatervorme.

No Further Questions deur Goduka met Dike as regisseur, bekyk ’n hofverhoor nadat ’n student in ’n protesoptog doodgeskiet is. Dié politieke riller behandel vrae oor geregtigheid en die impak van protes op mense se persoonlike lewens.

Benjamin se teks, Korreltjie kop klong is my dood, met Sandra Temmingh as regisseur, is ’n storie van matriargale lief en leed wanneer ’n enkelma haar seun se tuiskoms na nóg ’n rehabilitasieproses afwag. Dit bied ’n vars perspektief op die tema van dwelmverslawing wat steeds gemeenskappe op die Kaapse Vlakte teister.

Die seisoen sal afsluit met The Widow onder regie van Jonas wat ’n reeks monoloë aanbied wat handel oor weduwees nadat hulle ’n geliefde verloor het. Dié monoloë is met hulp van Mali uit werklike stories van weduwees verwerk.

Vanjaar kan teatergangers ook ’n vroeë eenmalige R100-kaartjie koop om vir die hele Oktober al vier stukke te kyk.

*Die Kunstekaap Nuwe Stemme seisoen is van 2 tot 27 Oktober in die Arena-teater. Kaartjies kos R60 elk en is by Computicket of Dail-a-seat 021 421 7695 beskikbaar.

Meer oor:  Kunstekaap  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.