Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Nyamza ontslaan uit toppos by Staatsteater
Mamela Nyamza Foto: Daily Sun

Mamela Nyamza is uit haar pos as artistieke adjunkdirekteur van die Suid-Afrikaanse Staatsteater in Pretoria ontslaan.

Die skoknuus van haar afdanking het op sosiale media uitgelek.

In ’n kort inskrywing op Faceboek bevestig sy haar afdanking. Sy skryf: “Ek moes noodgedwonge ’n kort verklaring uitreik omdat ek gesien het dat die nuus oor my afdanking by die Suid-Afrikaanse Staatsteater reeds op sosiale media is. Ek bevestig hiermee dat ek uit die Staatsteater se diens ontslaan is as werknemer en artistieke adjunkdirekteur op die 25ste November 2019. Die saak is nou sub judice. Nieteenstaande is ek dankbaar vir die ondersteuning wat ek hier (op Facebook) kry. Ek sal egter geen onderhoude toestaan of kommentaar lewer totdat die saak geregtelik afgehandel is nie.”

Die nuus het skokgolwe deur die kunstegemeenskap gestuur.

Nyamza, ’n veelbekroonde choreograaf en danser, is vroeër vanjaar ook as kurator van die Danssambreel aangewys. Dié jaarlikse fees sou voortaan by die Staatsteater onder haar leiding aangebied word. Die voortbestaan van die fees, waar menige nou wêreldbekende Suid-Afrikaanse dansers en choreograwe gedebuteer het, was vroeër vanjaar in die gedrang weens ’n gebrek aan geld. Die fees is in sy 30ste bestaansjaar.

Die gevierde choreograaf Gregory Maqoma het sy steun aan Nyamza toegesê en ’n dringende versoek in ’n Facebook-inskrywing aan die bestuur van die Staatsteater gerig om die redes vir die “drastiese stap” te verskaf.

Hy skryf haar aanstelling vroeër vanjaar het hoop in ’n baie donker tyd vir dans gebring. Die Staatsteater sou ’n tuiste vir eietydse dans word met die jaarlikse Danssambreel wat daarheen verskuif, maar haar afdanking dui daarop dat die “lang stryd om ’n danskurator by ’n staatsinstelling te hê, nog glad nie vasgelê is nie”.

Volgens hom het die nuus die dansgemeenskap lamgelê en dat daar nou dringende kommunikasie moet wees oor die voortbestaan van die Danssambreel onder die kuratorskap van die Staatsteater.

Die teaterskepper Nelsen Mokoena het geskryf die bedryf is geskok en hartseer. Hy het versoek dat kunstenaars betrokke raak. “Ons kan nie toesien hoe ’n kunstenaar, wat positiewe veranderinge gemaak het by ’n instansie wat dit werklik nodig het, net so ontslaan word nie.”

Die Staatsteater het nie dadelik op ’n telefoniese navraag of ’n e-pos van Netwerk24 reageer nie. By navraag het ’n woordvoerder van die Staatsteater gesê hulle is nog besig om ’n verklaring saam te stel.

* Nyamza is gebore in Gugulethu, Kaapstad, en het ballet aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie gestudeer. Sy was ook vir ’n wyle by die Alvin Ailey-dansskool in New York betrokke. Sy was in 2011 die Standard Bank Jong Kunstenaar vir Dans en verlede jaar was daar ’n spesiale fokus op haar werk by die Nasionale Kunstefees in Makhanda (Grahamstad). Sy is bekend vir haar uitdagende werk oor ras, gender, seksualiteit, kultuur, tradisie en godsdiens. Sy is veral bekend vir die werk I Stand Corrected wat oor korrektiewe verkragting handel, en wat op die Londense West End aandag getrek het.

Meer oor:  Staatsteater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.