Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Behoort 'n mens ooit werklik êrens?

Ontheemding en die vraag of ’n mens werklik êrens behoort, is onder die loep in die solostuk Rose.

Dit begin Vrydag in die Markteater in Newtown, Johannesburg.

Camilla Waldman vertolk die rol van dié bejaarde Joodse vrou wat oor haar ervarings gesels.

Sy is in ’n klein dorpie in Rusland gebore en het later in die krotbuurte van Warskou beland, maar ook op Miami in die VSA se strand.

Baie van hierdie gebeure kenmerk die geskiedenis van die 20ste eeu.

Camilla Waldman in 'Rose'. Foto: Brett Rubin

“Dis ’n marathon,” sê Waldman oor dié stuk uit die pen van die Amerikaanse dramaturg Martin Sherman.

“Dit sal interessant wees om te sien hoe mense haar ervaar. Sy raak dinge kwyt waarvan mense waarskynlik nie sal hou nie, maar sy is snaaks en intelligent.”

Malcolm Purkey is die regisseur.

Dit is in 1999 die eerste keer in Londen in die National Theatre deur Olympia Dukakis opgevoer.

Die Suid-Afrikaanse aktrise Annabel Linder het dit in 2001 in Theatre on the Square in Sandton opgevoer en ’n Vita-prys daarvoor gekry.

Volgens Waldman is die stuk deur Sherman se ouma geïnspireer.

“Die karakter is ’n kombinasie van baie waarhede. Sy is Joods en Russies, maar sy gee ’n stem aan baie mense. Ek dink haar soeke na identiteit sal ook vir Suid-Afrikaners 'n resonansie meebring. Sy praat met ’n Joodse gemeenskap, maar jy kom onder die indruk van hoe gebroke daardie identiteit is.”

Rose vra of sy ooit êrens behoort het.

“En waar en wat is ‘behoort’? Wat gebeur as jy met ’n sekere identiteit gebore is, maar jy vereenselwig jou meer met ’n ander?”

Rose was drie keer getroud en het ook ’n hippie-kêrel gehad.

“Tog was sy ’n buitestander. Haar geliefde broer het haar geleer om Russies en Jiddisj te lees, maar in haar tyd is vroue nie toegelaat om verder te studeer nie. Maar sy het ’n passie vir kennis opgedoen.”

Sy het die Tweede Wêreldoorlog ervaar. Dit het uitgebreek toe sy in Warskou, Pole, gewoon het.

Hier het sy haar eerste man ontmoet.

“Sy het ’n onverklaarbare ding ervaar waarvan baie oorlewendes van die Joodse volksmoord praat: hoe jy een oomblik nog jou gewone gang gaan en as jy weer sien, word jy verplaas na ’n krotbuurt en jy woon saam met ander mense, met ’n muur rondom jou. Hoe gebeur dit? Hulle het in Warskou in ’n koffiewinkel koek geëet en in ’n oogwink het alles verander. Haar Warskou-ervaring is ’n omvangryke deel van haar verhaal. Sy het ’n diepe lyding in daardie tyd gehad.”

Waldman hou van Rose en sy loof die “digte en ryk” teks.

“Rose het geen heilige koeie nie. Sy mag mense dalk met haar menings ontstel. Maar sy vra baie vrae en sy laat ’n mens dink.”

Rose word van Vrydag tot 16 Mei in die Barney Simon-teater in die Markteater opgevoer.

Dit het ’n ouderdomsbeperking van 12.

Vertonings is Dinsdae tot Saterdae om 19:00 en Sondae om 15:15. Kaartjies kos R90 tot R150. Bespreek by Webtickets.

Meer oor:  Malcolm Purkey  |  Camilla Waldman  |  Teater  |  Rose  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.