Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Ondanks toegewings bly dié teaters gesluit

Terwyl fliekteaters oor die pad vorentoe vergader, bly talle teaters se deure steeds toe nadat hulle die groen lig van die regering gekry het om sake te hervat.

Dit kom nadat die regulasies vir die heropening van onder meer galerye, fliekteaters en teaters Maandag in die Staatskoerant afgekondig is.

Die John Kani-teater in die Markteater. Foto: Suzy Bernstein

Fliekteaters en teaters moet aan talle vereistes voldoen.

Dit sluit in die voorsiening van handreinigers, die handhawing van ’n veilige afstand tussen mense en dat daar nie meer as 50 mense teenwoordig is nie. Dié getal sluit die akteurs en die tegniese span van ’n verhoogproduksie in.

Verder moet persele voor en ná ’n vertoning deeglik ontsmet word.

James Ngcobo, artistieke direkteur van die Markteater, sê dié teater in Johannesburg sal vir die res van die jaar gesluit wees omdat die gesondheidsrisiko te groot is.

“Vir die res van die jaar sal ons nie sake doen nie. ’n Mens moet ’n veilige omgewing vir jou gehoor skep, maar dit is nou te gevaarlik.”

Ngcobo werk reeds aan ’n teaterprogram vir volgende jaar, wanneer die teater 45 jaar oud word.

Die Staatsteater in Pretoria.

“Intussen het ons steeds ’n aanlyn platform en ons werk met baie mense – soos akteurs en ontwerpers, aan wie ons opleiding gee. Al daardie goed gaan voort, maar ons kan nie nou iets opvoer nie. Ons is nie uniek in daardie opsig nie. Wêreldwyd is teaters steeds toe.”

Lusanda Zokufa, bemarker by die Markteater, sê die teater sal ’n verklaring uitreik wanneer dit heropen.

Erick Ndlala, bemarkingsbestuurder van die Staatsteater in Pretoria, sê dis onseker wanneer dié teater sal heropen.

“Met ’n beperking van 50 mense bly daar baie min mense oor wat in die gehoor kan sit, want die getal sluit die akteurs en die tegniese span in. Ons het nog nie ’n vergadering gehad nadat die regering die regulasies uiteengesit het nie. Maar vir nou bly die teater toe.”

Volgens Mark Sage, bestuurder van Pieter Toerien se teaters, sal die deure nog etlike maande gesluit wees.

Buiten vir die veiligheid van teatergangers, moet ’n teater minstens 75% vol wees vir ’n produksie om winsgewend aangebied te kan word.

Intussen word planne vir fliekteaters beraam.

Volgens Walter Gelderblom, Nu Metro-woordvoerder, vergader Nu Metro se bestuurskomitee Dinsdag om planne rakende die heropening van fliekteaters te bespreek.

“Sodra die heropeningsplanne en spesifieke datum bevestig is, sal ons ’n verklaring uitreik.”

Die volledige besonderhede moet nog bevestig word, maar gesonde afstande sal gehandhaaf word en ’n beperkte aantal mense sal na ’n vertoning mag kyk.

Aanlyn kaartjieverkope word aangemoedig en die personeel moet opgelei word rakende gesondheid, higiëne, veiligheid en ander aspekte van die protokol wat gevolg moet word.

Alle lokale word ontsmet en handreiniger sal by al Nu Metro se teaters beskikbaar wees.

“Almal in die bedryf wag vir die bevestigde besonderhede voordat hulle kommentaar kan lewer.”

Die komitee voer terselfdertyd gesprekke met belanghebbendes.

Meer oor:  Nu Metro  |  Staatsteater  |  Markteater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.