Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Ons het vreesloosste dramaturg in Afrikaans verloor’
Die dramaturg, digter en kunste-administrateur Pieter Fourie. Foto: Verskaf

Sy bydrae tot Afrikaanse toneel is enorm. Danksy Pieter Fourie is daar nog vandag iets soos Afrikaanse teater, meen kollegas van dié gevierde dramaturg, wat Sondag oorlede is. Laetitia Pople berig.

Alle teater wat hy nog in sy lewe ervaar het as ’n baken of rigtingwysend, was te danke aan Pieter Fourie.

So sê die gevierde teaterskepper Marthinus Basson, wat jare lank saam met Fourie by die destydse streekraad Kruik gewerk het en twee dramas van Fourie, Ek, Anna van Wyk en Boetman is die bliksem in!, geregisseer het.

Fourie, wie se loopbaan oor ses dekades strek, is Sondagaand in sy huis op Onrusrivier naby Hermanus oorlede. Hy was 81.

Maagkanker is vroeër vandeesmaand by hom gediagnoseer.

Pieter Fourie as ’n jong man. Foto: Verskaf

Die Hertzogprys-bekroonde dramaturg was die mees gepubliseerde en bekroonde dramaturg tot nog toe in Afrikaans.

“Ons verloor ons skerpste, mees kritiese en vreeslose dramaturg in Afrikaans,” het Nico Luwes, jare lange vriend en afgetrede toneellektor aan die Universiteit van die Vrystaat gesê. Hy het jare gelede sy doktorsgraad oor Fourie gedoen en gereeld sy werk met studente opgevoer.

“Sy grootste werk was Die koggelaar, waarin hy die Afrikaner se valsheid en misbruik van godsdiens ongenaakbaar blootlê. Dit is asof die Afrikaner ’n kontrak met God moet hê,” het Luwes gesê. “Hy kon chauvinisme blootlê en werklik groot rolle vir vroue skryf. Ek dink sy werk is, soos Reza de Wet s’n, tydloos.”

Basson sê Fourie moet benewens as groot dramaturg van klassieke dramas soos Die koggelaar, Faan se trein en Die joiner onthou word vir sy enorme werk as kunste-administrateur by die streekrade, waar hy daagliks “ ’n eierdans uitgevoer het”.

Pieter en Maletta Fourie saam met die digter Breyten Breytenbach. Die kind voor kon nie geïdentifiseer word nie. Foto: Verskaf

“Nie net het hy as hoof van Afrikaanse toneel by Kruik voorsien in die behoefte van sy gehore nie, hy het die destydse politieke klimaat bestuur, al die balle soos ’n goëlaar in die lug gehou en werk verskaf aan honderde akteurs en regisseurs.

“Daarby het hy regisseurs van die buiteland, soos die Duitser Dieter Reible, na Suid-Afrika gebring, wat ’n durende invloed hier gelaat het,” sê Basson.

“Pieter het nie geglo dat Afrikaners na hul eie naeltjies moet staar nie, sy teater was nie inklusief Afrikaans nie, maar dit het altyd na die breër werklikheid en gemeenskap gekyk.”

Pieter het nie geglo dat Afrikaners na hul eie naeltjies moet staar nie, sy teater was nie inklusief Afrikaans nie, maar dit het altyd na die breër werklikheid en gemeenskap gekyk.

Al het Fourie dikwels skreiende aanvalle op die destydse establishment geloods, “het sy kritiek uit eie boesem gekom. Hy het reeds in die spieël gekyk en daardie spieël teruggekaats.”

Pieter en Maletta Fourie op ’n besoek aan die Swartbergpas. Foto: Marlene Malan

Daarby was hy stigterlid en die tweede hoof (ná Gerrit Geertsema) van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), Suid-Afrika se eerste volwaardige Afrikaanse kunstefees, wat gelei het tot die stigting van ander kunstefeeste landwyd, “so Fourie se invloed op ons kunstelandskap is onmeetbaar. Jy kan sê hy is die bron, die rede dat Afrikaanse teater vandag nog bestaan,” sê Basson.

Faan se trein was steeds in 2014, toe dit as rolprent met Willie Esterhuizen in die hoofrol herleef het, gewild onder gehore. Die aanklank is danksy Fourie se menslike en deernisvolle blik en die skep van outentieke karakters, meen Melvyn Minnaar. Hy het Fourie destyds in 1975 bygestaan met die oorspronklike drama, wat landwyd vol sale getrek het. Dit handel oor ’n verstandelik gestremde man wat saam met sy pa op ’n klein Karoo-dorpie woon. Hy raak betrokke by ’n nuwe intrekker, wat haar hande wil lê op hul kosbare oudhede.

Koos Roets, ’n vriend van Fourie, was die regisseur van die rolprent.

As kunste-administrateur was hy ’n bedrewe raakvatter as hoof van Afrikaanse toneel by Kruik van 1967 tot 1987, en later as resident-dramaturg by Truk.

Fourie het die KKNK met groot sukses van 1994 tot 1998 gestuur. Die sakekamer van Oudtshoorn het hom vereer vir die fees se bydrae tot die plaaslike ekonomie.

Pieter Fourie met die ontvangs van die Hertzogprys vir drama in 2003.

Karen Meiring, uitvoerende hoof van kykNET, wat hom opgevolg het as hoof van die KKNK, sê dit was vir Fourie baie belangrik dat almal betrek moes word by die fees. Dit moes nie weer ’n geleentheid wees waar Afrikaners laer trek nie. Wat hy vermag het met die fees, is revolusionêr, meen sy.

“Die uitgangspunt met die fees was die omarming van die diversiteit van Afrikaans, en die bevryding van ’n nougesette idee van die taal en taalgemeenskap. Sy motto vir die fees was: verryk, vermaak en versoen. Pieter het risiko verstaan en dit berekend geneem. Hy het ’n eiesoortige insig in die psige van mense gehad, en ten spyte van sterk standpunte, deernis met almal gehad. Hy het kunstenaars intuïtief verstaan en kon hulle uitdaag en inspireer,” sê Meiring.

Adam Small, Merwe Scholtz en Franklin Sonn was as adviseurs betrokke by die fees.

“Ek onthou hoe hy by die Nasionale Kunstefees in die koue Grahamstad KKNK-pamflette uitgedeel het, geklee in sy kortbroek en plakkies. Daar was geen haar van pretensie op sy kop nie.”

Meiring en Fourie was jare lange vriende wat nagte om kon gesels. Hy was ’n mentor vir haar en sy wou hom nog vandeesweek besoek. Meiring het hom as jong PUK-student op die destydse Kampustoneel ontmoet toe sy in sy drama Ek, Anna van Wyk opgetree het.

As enige akteur, regisseur of dramaturg ’n bietjie gaan dink, sal hulle besef watter verlies hierdie is, meen die dramaturg Nicola Hanekom, vanjaar die wenner van die Hertzogprys vir drama. “As jong aktrise in Ek, Anna van Wyk het hy my oë vir so baie vraagstukke oopgemaak, daarna in die rolprent Faan se trein, dit is maar twee van sy groot werke. As ek net dink aan wat die KKNK in ons lewe as akteurs of regisseurs beteken, dan het ek bykans nie woorde nie – en hy was een van die stigters daarvan. As skrywer was hy ’n ongelooflike inspirasie en as mens was hy enig in sy soort.”

Pieter Fourie in sy studeerkamer op Onrusrivier. Die foto is in 2018 geneem. Foto: Conrad Bornman

In sy tydperk by die Nico Malan-teater in Kaapstad (vandag Kunstekaap) het hy ’n groot rol daarin gespeel dat die kompleks vir alle rasse oopgestel word. Hy het ook geweier dat sy stukke opgevoer word in teaters waar “klein apartheid” toegepas word – waar nie alle rasse toegelaat is nie. Sy werk was gereeld in omstredenheid gehul weens sy botsings met die apartheid-establishment. Dit het daartoe gelei dat van sy dramas verbied is, soos Die plaasvervangers in 1979 deur die destydse administrateur van die Kaapprovinsie, dr. Lapa Munnik.

Sy drama Boetman is die bliksem in!, wat in 2000 landwyd opgevoer is, het ook debat ontlok. Dawid Minnaar en Cobus Rossouw het die hoofrolle vertolk. Dit is gegrond op die joernalis Chris Louw se ope brief aan die meningsvormer en koerantredakteur Willem de Klerk, bekend as skepper van die woord “verligtes” vir Afrikaners wat ’n politieke uitweg uit die apartheidsbeleid gesoek het.

Daarin lug Louw sy griewe teenoor die regering wat aan bewind was in die tyd van die grensoorlog van 1966 tot 1989.

Fourie se doku-drama het verskillende stemme laat opklink oor dié debat, insluitende ’n ma wat haar seun verloor het aan die grens, en ’n jong, swart aktivis.

Fourie het in 2003 die Hertzogprys vir sy dramawerk ontvang. Die KKNK het hom in 2010 vir sy lewenswerk vereer en die jaar daarna ken die Universiteit van die Vrystaat ’n eredoktorsgraad in drama aan hom toe.

Fourie het sy skryfloopbaan aanvanklik as digter begin en was op die Universiteit Stellenbosch deel van D. J. Opperman se digkuns-laboratorium. Hy sou eers op 77, in 2017, debuteer met sy eerste bundel, Knapsekêrels.

In 2018 verskyn Bidsnoer en in 2019 Stof en ster. ’n Kunswerk van sy vrou, Maletta, is op die voorblad van Bidsnoer gebruik.

Fourie het met sy digterlike oes iets presteer: min woorde, maar baie implikasie én nadink. Die digkuns as klokhelder stilte.

Hoewel hy sy digbundels uitgestuur het vir publikasie, is dit nie deur die uitgewershuise aanvaar nie. Volgens die digter Daniel Hugo, redakteur van sy drie bundels by Naledi, het Fourie die digter Johann de Lange genader om na sy gedigte te kyk, waarna dit vir publikasie aanvaar is.

Fourie het ’n vergete wêreld opgeroep in sy digkuns, meen Hugo. “Hy het gedig oor die plattelandse wêreld en het oor die ambagswêreld geskryf. Hy bring die wêrelde in herinnering en gebruik woorde wat in onbruik verval het. Daar is wel ’n spanning met die nuwe wêreld van die stad en township en die politiek onrustige hede. Dit was nie ’n nostalgiese verlange na wat was nie omdat hy altyd sosiaal bewus was,” sê Hugo. Hy beskryf Fourie se bundel Bidsnoere as ’n beswering van die verganklike en sosiale onreg.

Al drie sy bundels is volksverse, wat aansluit by NP van Wyk Louw se “Klipwerk”-gedigte, sê die letterkundige Joan Hambidge.

“Fourie het met sy digterlike oes iets presteer: min woorde, maar baie implikasie én nadink. Die digkuns as klokhelder stilte.”

Hy word deur almal met wie Netwerk24 gepraat het, onthou as ’n gul en hartlike vriend. Luwes vertel dat al sy vriende kaalvoet opgedaag het by Fourie en Maletta se troue in 1995 op Oudtshoorn. “Aangesien hy altyd kaalvoet geloop het. Toe ons daar aankom, het hý skoene aan, maar nie vir lank nie!”

• Pieter Johannes Fourie is op 3 April 1940 op Philippolis in die Vrystaat gebore. Hy het op Lückhoff grootgeword. Sy eerste werk was as telegrafis by die poskantoor nadat hy skool op 16 verlaat het. Hy het later skool klaargemaak en aan die Universiteit Stellenbosch Afrikaans en Engels gaan studeer. Sy eerste kennismaking met teater was danksy die rondreisende geselskap van André Huguenet.

Hy word oorleef deur sy kunstenaarvrou Maletta, met wie hy 26 jaar getroud was, ’n stiefdogter, Sonja, asook Tanya en Mashinka, sy dogters by die aktrise Liz Dick, asook Natasja en Nandi, sy dogters by Marlize Herselman. Hy het ook kleinkinders. 

Meer oor:  Nico Luwes  |  Nicola Hanekom  |  Marthinus Basson  |  Pieter Fourie  |  Drama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.