Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Ons kan nog lag, dis oormôre se erfenis’

Op 28 September vier Pieter-Dirk Uys sy 75ste verjaarsdag. Op Erfenisdag Donderdag voer hy sy jongste solostuk Adapt or Fly op. Hier besin Pieter-Dirk Uys oor inperking, Erfenis en die politiek van die dag.

Hulle sê mos: oppas waarvoor jy wens. By my was dit altyd om ’n jaar af te vat! Dit was die fluister in my kop elke Nuwejaarsdag met ’n blik op die volgende 12 maande se skedules.

Pieter-Dirk Uys en ’n paar politieke spoke uit die nare verlede. Foto: Verskaf

Vir 2020 was daar 230 teatervertonings ingeskryf: seisoene in Johannesburg, Kaapstad, Durban, Londen met ’n paar spatsels in Berlyn en Nederland. Lyk my iemand het my fluistering gehoor. Ek is nou halfpad deur daardie afjaar en my dagboek is sedert einde Februarie tot in die toekoms leeg! So oppas: drome kan naar waar word!

“Hoe behandel die inperking jou?” Almal vra dit virtueel. Gewoonlik op die foon, deur ’n WhatsApp, of vaag en sag van agter ’n masker. Amper sewe maande van nul-per-brein? Snaaks genoeg, nee. Ek is besiger as ooit.

"Ek neem almal saam op ons lang stap na vryheid, gelei deur die ruiters van die Boere Apokalips: Malan, Strydom, Verwoerd, Vorster, PW en FW."

Tannie Corona se inperking word nou glad ’n gewoonte. En meer van ’n plesier as wat ek ooit verwag het.

Skielik is daar meer as genoeg tyd om dinge te doen wat al 20 jaar wag. Ek is nou my eie verhoogbestuurder-de-lux, besig om op my tyd 40 jaar se teater-rekwisiete, kostuums, pruike, tekste en foto’s te sorteer. So waar pas die geskryf in? In die afgelope ses maande het ek ’n boek klaar, ’n solovertoning reg, twee rolprenttekste voltooi, ’n radiodrama bewerk, en ploeg nou deur planne vir 2021.

Die grootste ophou is: wie sal ná die Covid-nagmerrie wil sit en vermaak word deur ondervindings in ’n pandemie? Dus gaan alles maar terug in die boks onder die bed. Sal weer later daarna kyk en besluit. Miskien was al die skryf net ’n belangrike terapie?

Kan ’n mens dan ooit gewoond raak aan daardie daaglikse gedagte: oppas vir alles daar buite; anders gaan jy dood. Op my ouderdom is dit nie meer ’n vraag nie, meer ’n vervaldatum. Dus word inperking agter toe deure eerder ’n keuse as ’n las. Ek mis die omhelsings, die handskud en die hello-darlings, wangkusse uit die ou dae.

Vandag, as tannies by Evita se Perron vra vir ’n lekker foto saam, is hulle tevrede met daardie 2 m tussen ons? Wie kan mooi glimlag agter ’n pap slap lapmasker?

Erfenisdag op 24 September is altyd ’n goeie verskoning om terug te kyk op die dinge wat nie gewerk het nie. Om behoorlik elke misoes te onthou voordat dit weer gebeur. Te dikwels was die redes ander se kastige goeie raad wat dankbaar aanvaar is. “Nee, skat, daardie drama het twee pouses nodig.”

Eintlik nee, die enigste rede is om drank in die voorportaal te verkoop. Ek sal altyd na raad luister, maar dan ’n tweede mening soek. En vir altyd die spook van instink respekteer. Jy sal dit nooit verstaan nie, want dis maande vooruit, maar jy ignoreer dit op jou eie risiko.

Pieter-Dirk Uys
Pieter-Dirk Uys

Digitale teater het nou die stil verhoog opsy gedruk. My derde opvoering “op die wolk” vind juis op Erfenisdag plaas. Die titel Adapt or Fly kom van ver, maar die politieke hartkloppings is uit vandag se hygings en kan ook sinspeel op die hantering van die virus en hoe ons daarby moet aanpas.

Hierdie aanpas of vlieg kom 40 jaar ná my eerste politieke tonguitsteek, Adapt or Dye. En omdat dit op Erfenisdag gaan speel, is die inhoud al hoe meer pertinent.

"Amper almal in ons huidige politieke spektrum probeer teaterlik die uitslag van korrupsie onder die grimering van skynheiligheid wegsteek."

Ek neem almal saam op ons lang stap na vryheid, gelei deur die ruiters van die Boere Apokalips: Malan, Strydom, Verwoerd, Vorster, PW en FW. En dan die betwyfelbare beskermengele van ’n nuwe normaal: Mandela, Mbeki, Zuma en ’n huiwerige CR. Dit gaan ook oor ’n erfenis: die politiek van gister, vandag en môre. En alles opgedis met die soetsuur-sous van humor. In ons huidige kiem-nagmerrie is lag die enigste medisyne. Wat voorlê, is steeds iets wat niemand kan voorspel nie. Aanpas is miskien die enigste uitweg, want vlieg staan stil op lughawens.

Uit my satiriese swerm (klink beter en meer hardlywig in Engels se satirical cluster) is Mrs Petersen van die Kaapse Vlaktes, Nowell Fine nou by haar 59ste matriek makietie, en al die bewoners van die Uniegebou as deel van die opskopkoor van ikone en aikonas. Hulle kan natuurlik nooit almal gelyk op my verhoog wees om mekaar in die bek te ruk nie. Ek bly maar die gom wat al die menslike stukkies bymekaar hou.

Die feit van die live-stream beteken dat ’n wêreld kan saamkyk, en nie net ’n teater vol plaaslike mense nie. Daar is ook spoegies Afrikaans in die stuk, dus moet die “toeriste” wat inloer, mooi luister en besef hulle sal alles verstaan. Vrot politiek het nie vertalings nodig nie.

Party mense in die nuus sukkel later om iets nuuts te sê, maar met wat ons land se politiek in die pandemie oplewer, is genoeg om lekker voor te lag met ’n traan. Weer, soos met apartheid en vigs, is niks snaaks nie, maar die belaglikheid van korrupte aflewerings waarborg ’n gesonde lagbui.

Ons politieke skurke sê mos maklik: ‘Patriot: onskuldig tot skuldig verklaar’. Ek is bevrees dat die sin nou so moet lees: ‘Politikus: skuldig tot onskuldig bevind’. Amper almal in ons huidige politieke spektrum probeer teaterlik die uitslag van korrupsie onder die grimering van skynheiligheid wegsteek. Daar is jammerlik min goeie ouens in die politiek oor; net kaderopdrifsels en vrot (l)eiers. Maar ons kan nog lag. Dis ook oormôre se erfenis.

*Adapt or Fly - Donderdag 24 September om 18:00 (SA-tyd) . Kaartjies is beskikbaar by https://qkt.io/pieter-dirk-uys-presents-adapt-or-flyhttps://qkt.io/pieter-dirk-uys-presents-adapt-or-fly

Meer oor:  Pieter-Dirk Uys  |  Erfenis  |  Teater  |  Erfenisdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.